Vervaardigers doen hul bes om ontwerpe bekend te s
Vervaardigers doen hul bes om ontwerpe bekend te stel wat hul produk sal laat uitstaan tussen al die ander produkte op supermarkrakke. Foto: Gallo Images/Getty Images

Een van haar byname is die Koningin van Tampons. Melissa Suk is al vyf jaar lank op die troon as die medehandelsnaamdirekteur van Tampax.

Sy werk vanuit die multi­nasionale verbruikersgoederereus Procter & Gamble (P&G) se hoofkantoor in Cincinnati in die Amerikaanse staat Ohio.

Van daar hou sy toesig oor ’n ryk wat oor 70 lande strek en badkamerkaste in stede en op dorpe wêreldwyd vul. Wat tampons betref, is Tampax die onbestrede oppergesag met ’n wêreldwye mark­aandeel van 29%. (P&G se naaste mededinger in die sektor, Johnson & ­Johnson, het steeds minder as 20%.)

In 2019 is meer as 4,5 miljard bokse Tampax wêreldwyd gekoop. En tog is daar steeds dele van die wêreld wat nog onaangeraak is – in dié mark is daar altyd nog moontlikhede om uit te brei.

Op ’n onlangse koue middag ontmoet ek Melissa mekaar deur ’n video-oproep – sy sit in Ohio, en ek in P&G se Europese hoofkwartier in Genève, Switserland.

Dit is douvoordag in Cincinnati, maar Melissa straal. Sy hou ’n pienk ontbytmelkskommel vas, haar blonde bob is goed versorg, en sy praat in ’n klokhelder stem oor haar miljoene klante: “Ons het ’n verbintenis om haar ’n lewe sonder perke te laat lei, of sy menstrueer of nie.”

Nadat ek ’n dag lank na Tampax-werknemers geluister en na hul voorleggings gekyk het, word dit duidelik die Tampax-koper is nooit ’n verbruiker nie, maar ’n kliënt of gebruiker.

Sy is “sy”. Soos ’n vriendin – een wie se naam jy nie ken nie, maar met wie se menstruele siklus jy diep vertroud is.

Die Tampax-span ken haar intiem. Soos alle groot fabrikate bestuur hulle ’n uitgebreide fokusgroepprogram waartydens hulle elke maand met honderde vroue praat. Hulle wil weet hoe sy oor haar tampon voel, of sy dit reg gebruik, wat dit gemakliker, geriefliker sal maak.

Hulle sê graag dat hulle altyd en uitsluitlik deur haar behoeftes gelei word. Wat hulle nie sê nie, maar implisiet is, is dat hulle ook gelei word deur die begeerte om meer tampons te verkoop.

Want soos enige lank bestaande ryk het Tampax inherente swakhede. Volgens die marknavorsers Euromonitor het die wêreldwye verbruik van tampons oor die afgelope paar jaar voortdurend afgeneem – van 17 miljard bokse in 2007 tot 15,9 miljard in 2018.

Melissa rits vyf bydraende faktore tot dié afname af – op so ’n manier dat ’n mens kan sien dié lys was in vele paniekerige vergaderings op die agenda:

  • Maandstonde-beëindiging.
  • ’n Oorvloed keuses.
  • Opvoeding oor die vorm. (Vroue het wanopvattings oor tampons.)
  • Besorgdheid oor bestanddele.
  • Kommer oor omgewingsvolhoubaarheid. (“Dalk die laagste,” sê Melissa.)

Maandstonde-beëindiging

Nommer een is dalk Tampax se grootste bestaansbedreiging – die toenemende getal vroue wat kies om glad nie te menstrueer nie.

In 2019 het die fakulteit vir seksuele en voortplantingsgesondheidsorg van die Royal College of Obstetricians and Gynaecologists in Brittanje ’n bygewerkte riglyn uitgereik. Daarvolgens het dit geen gesondheidsvoordeel om ’n week lange blaaskans van die Pil te vat en ’n soort kamma-maandstonde te hê nie.

As vroue nie meer wil menstrueer nie, hoef hulle bloot nie.

’n Oorvloed keuses

Talle nuwe produkte is nou op die rakke beskikbaar
Talle nuwe produkte is nou op die rakke beskikbaar, gretig om Tampax se oorheersing in die mark te beëindig. Foto: Gallo Images/Alamy

Bedreiging no. 2 – ’n oorvloed keuses – is die moontlike lot van enigeen wat jare lank heers: die tekens van revolusie. ’n Rits nuwe tamponfabrikate en maandstondeprodukte het die afgelope paar jaar op die mark verskyn.

Hulle het almal oulike enkelwoord­name – Lola, Dame, Cora, Freda, Flo.

En hulle almal wil Tampax onttroon deur aan vroue iets te bied wat hulle meer eties en ekologies noem; iets wat ’n plaasvervanger vir Tampax se enkelgebruik-­plastiektoedieners kan wees – en ook vir die bemarkingstrategie wat dikwels diskresie beklemtoon, asof ’n maandstonde iets is wat weggesteek moet word.

En dit lyk asof hul strategie werk.

“Mense verlaat die groot fabrikate,” vertel Roshida Khanom, direkteur van skoonheids- en persoonlike sorg by die marknavorser Mintel. “Vroue se lojaliteit verander en hulle beproef die nuwe ontwrigtende handelsname.”

Dié ontwrigters het ’n groot verbruikersbasis in die oog – sowat 2 miljard, as jy bereken dat sowat 26% van die wêreldwye bevolking op voortplantingsouderdom is en dus waarskynlik menstrueer.
Maandstondes is ’n aantreklike kleinhandelgeleentheid: ’n natuurlike, gereelde gebeurtenis wat ’n maandelikse aankoop verg en so 40 jaar voort­duur.

Werf haar vroeg – en dan lewenslank – en sy is vir sowat 480 maandstondes en 8 640 tampons met jou.

Opvoeding oor die vorm

Baie meisies gebruik nie dadelik tampons nie. Party gebruik nooit tampons nie, veral in lande waar dit as taboe beskou word.

Soos baie vroue het ek met doekies begin, wat in die vroeë 1990’s heel anders gelyk het as die gevleuelde, liggaamsgekontoerde produkte van vandag.

Ek onthou hoe ek na ’n saalbyeenkoms toe gewaggel het – vas oortuig daarvan dat die hele skool die geknars van die amperse babadoek kon hoor wat ek in my onderklere gedruk het.

Iewers het my ouer suster ’n beter alternatief voorgestel, en so het dit begin: ’n verhouding so lank soos ’n huwelik met ’n opgerolde pluis watte en rayon.

Produkte wat spesifiek vir menstruasie gemaak is, het kort ná die Eerste Wêreldoorlog ontstaan toe verpleegsters besef het die selluloseverbande wat hulle gebruik het om wonde te verbind absorbeer bloed beter as katoen.

Die tampon, ’n laat hoofstuk in die storie van menstruasie, was ’n beduidende verbetering nadat vroue eeue lank self moes planne maak – ou lappe, skaapvel, kaasdoeksakke met katoen gestop, stukke materiaal in broekies vasgespeld.

In dele van die wêreld, Suid-Afrika ook, waar baie vroue nie menstruasieprodukte kan bekostig nie, word sulke opsies steeds gebruik.

Produkte wat spesifiek vir menstruasie gemaak is, het kort ná die Eerste Wêreldoorlog ontstaan toe verpleegsters besef het die selluloseverbande wat hulle gebruik het om wonde te verbind absorbeer bloed beter as katoen.

Kotex het die eerste sanitêre doekie vir die massamark in 1921 bekendgestel; dit moes met ’n belt in posisie gehou word.

Tien jaar later het Earle Haas, ’n dokter van Colorado, die eerste tampon met ’n kartontoediener uitgevind en laat patenteer. (’n Toediener is die teleskoopagtige toestel wat die tampon in die vagina plaas. Tampons sonder ’n toediener word met die hand ingedruk.)

Vreemd genoeg het die meeste lande ’n ingeboude voorkeur vir die een of die ander soort – afhangend van watter een die gebied eerste bereik het. So gebruik die grootste meerderheid Amerikaanse verbruikers toedieners, terwyl die meeste Duitsers dit nie gebruik nie.

Earle het in 1933 sy patent vir $32 000 aan Gertrude Tendrich, ’n sakevrou van Denver, verkoop – waarskynlik tot sy ewige spyt.

Sy het Tampax begin en was die maatskappy se eerste voorsitter.

Nuwe tamponfabrikate sê dikwels afwysend die tampon het sedert Gertrude se dae skaars verander, en P&G, wat die handelsnaam in 1997 oorgekoop het, het geen beduidende ver­anderinge aan die vorm gemaak nie – ’n beskuldiging wat beleefde woede by Tampax se wêreldwye direkteur van navorsing en ontwikkeling, Amy Kra­jewski, ontlok.

“Ek stem nie saam nie!” sê sy. “Ek bestee heeldag van elke dag van my lewe aan Tampax. En honderde ander mense doen dit ook.”

Sy verwys na Tampax se amptelike tyd­lyn as bewys van hul pogings: Daar was die drastiese verandering van karton- na plastiektoedieners in die 1990’s, die bekendstelling van ’n “sakvorm” en die onlangse toevoeging van ’n LeakGuard™-vlegsel aan die tampontoutjie om te verhoed dat ’n deurweekte tampon mense se onderklere vlek.

’n Tampax-­advertensie van die 1970’s. Foto: Gallo
’n Tampax-­advertensie van die 1970’s. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ten spyte van dié verbeterings, wat intern as omwentelings beskou is, is ’n eeu van Tampax ’n verhaal van verskuiwende bemarkingstyle as groot produkverbetering – dieselfde nederige tampon, op menige manier verpak: Tampax Radiant, Tampax Pure, Tampax Pearl, Tampax Compak, Tampax Pearl Compak.

Soos enige dekades oue maatskappy moes Tampax die storie wat hy oor homself vertel, aanpas om by die era te pas.

“Verwelkom die nuwe dag vir vrouwees,” lui een van hul eerste advertensies uit ’n Julie 1936-uitgawe van The American Weekly: “Hierdie somer kan jy ’n gemak en vertroue van delikaatheid ervaar wat jy nooit voorheen geken het nie.”

Delikaatheid het gou uit die mode ­geraak, en van die 1960’s af het menstrue­rende vroue, volgens drukadvertensies, graag aan allerlei maandstonde-onvriendelike liggaamlike aktiwiteite deelgeneem, onder meer waterski, skermkuns, perdry, en hulle het selfs strand toe gegaan.

Tot in 1972 is televisieadvertensies vir menstruasieprodukte in Amerika verbied, maar in 1985 het ’n bepalende oomblik in Tampax se geskiedenis plaasgevind toe Courteney Cox voor haar dae as Monica in Friends die eerste mens geword het wat “period ” in ’n Amerikaanse advertensie gesê het.

“Sy het ’n uiters noupassende leotard aan terwyl sy oefening doen,” sê Melissa nadat sy ingenome vir my die video gewys het. “Ek sou dit basies nie met ’n doekie aan kon doen nie.”

In die annale van menstruasie was 2015 ’n groot jaar.

Vroeg in die jaar het Kiran Gandhi vrylik gebloei terwyl sy die Londen-marathon gehardloop het en moes Instagram verskoning vra nadat hulle ’n foto wat deur die digter Rupi Kaur geplaas is, van ’n slapende meisie wat deur ’n sweetpakbroek bloei, vir ’n ruk verwyder het.

Intussen het wêreldwye protes teen verkoopsbelasting op maandstondeprodukte versprei, en in 2019 het Suid-­Afrika aangesluit by ’n hand vol lande wat BTW op menstruasieprodukte geskrap het.

Houdings is aan die verander. In nog ’n simboliese gebaar is ’n maandstonde-­emoji in die vorm van ’n rooi druppel in 2019 by iPhone se kieslys gevoeg.

Besorgdheid oor bestanddele

In dié konteks vermenigvuldig beginondernemings wat produkte verkoop wat wissel van tampons van organiese katoen tot absorberende broekies en ’n herbruikbare toediener.

Almal verklaar hul hoë etiese standaarde. Flo gee 5% van sy wins aan vroue­welsynorganisasies, en Dame sê hulle is “die enigste maandstondehandelsnaam wat klimaatspositief is” en vergoed dubbel vir die koolstof wat hulle vervaardig.

Die stigters doen dié dinge om hul eie onthalwe, maar ook omdat hulle die navorsing lees: Verbruikers, veral jonges, wil handelsname koop wat ’n aspek van waardes byhet en in moraliteit gehul is.

Tampax moes inhaal. In 2019 het hy sy eerste tampon van organiese katoen bekendgestel, en in 2018, net in Amerika, sy eerste menstruasiekoppie.

“By Tampax het ons nie die menstruasiekoppie uitgevind nie; ons wil dit vervolmaak,” was die bemarkingsboodskap – ’n erkenning dat Tampax ’n bietjie laat op die toneel verskyn het, aangesien koppies al in die 1930’s uitgevind is.

Vervaardigers doen hul bes om ontwerpe bekend te s
Vervaardigers doen hul bes om ontwerpe bekend te stel wat hul produk sal laat uitstaan tussen al die ander produkte op supermarkrakke. Foto: Gallo Images/Getty Images

Intussen haal beginondernemings alles uit om met idees vorendag te kom wat die reus se oorheersing sal uitdaag.

Daye, wat in 2018 begin is, het onlangs ’n pynverligtende tampon van bio-­afbreekbare katoen met ’n lagie kannabidiol (KBD)-olie bekendgestel. Daye se stigter, Valentina Milanova, wat in Sofia, Bulgarye, grootgeword het, het op nege begin menstrueer en gedink sy gaan dood. Nadat sy jare lank aan kwaai menstruele pyn gely het, het sy die onderwerp begin navors.

Toe sy van die eienskappe van indus­triële hennep te hore kom, het sy ver­skeie produkte by die huis geskep voor sy die idee gekry het om tampons met KBD-olie te bedek.  

“Sal jy hoog raak?” wou ’n vriend weet toe ek sê ek beproef dit. Nee. Maar Daye se aanvanklike proefnemings met meer as 200 mense toon die pynverligting wat ’n KBD-tampon bied, skop binne 20 minute in vergeleke met die 40 minute wat dit pynpille vat om te werk.

Valentina neem my deur haar Londense fabriek. Verder af in die gang is die aangewese “skoon vertrek” waar ’n man in ’n wit hazmatpak voetjie vir voetjie om ’n blok masjinerie beweeg wat die tampons met lopende bruin KBD-olie bedek.

Soos met baie van die ander nuwe handelsname het Daye hard gewerk aan die stemtoon wat hulle gebruik. Dit is humoristies en draai nie doekies om nie.

Baie van die handelsname deel dié soort reg­uit taal – “bleed red, think green” is Dame se trefreël; “no more shoving tampons up our sleeves,” verklaar Freda.

Maar op die ou end is dit soos ’n wit T-hemp. Dis dieselfde produk. Ons kan onsself nie om die bos lei dat dit iets anders is nie.

Wat die nuwe tamponondernemings ook gemeen het, maar nie openlik noem nie, is dat die tampons self – onder die herbruikbare toediener of KBD-bedekking – baie eenders is. Terwyl Tampax sy eie fabrieke en masjinerie het, word die grootste meerderheid van Europa se tampons met ’n nuwe handelsnaam in een van ’n hand vol fabrieke gemaak.

Die Switserse vervaardiger Ruggli het ’n monopolie op masjiene wat tampons maak. Byna elkeen van die tampons –wat ook al die besondere ontwerp of bykomende eienskap – is ’n Ruggli-tampon.

“Almal probeer dit laat klink of daar eienaarskap is,” sê Afsaneh Parvizi-­Wayne, stigter van Freda. “Maar op die ou end is dit soos ’n wit T-hemp. Dis dieselfde produk. Ons kan onsself nie om die bos lei dat dit iets anders is nie.”

Die Ruggli-fabriek lê aan die buitewyke van Koblenz, ’n Switserse dorpie langs die Ryn. “Switserse presisie” is een van hul slagspreuke. Dit bondel tampons saam met die ander trots Switserse produkte: horlosies en privaat bankdienste.

By ontvangs word ’n put vol tampons uitgestal. “Ons tamponswembad!” sê Valon Maliqi, hoof van verkope en bemarking, met ’n trotse glimlag.

Voor my aankoms het hy ’n ry tampons netjies langs die toebroodjies op die raadsaaltafel uitgelê. Hy is gretig om die volledige stel tampons te vertoon wat Ruggli-masjiene kan maak: tampons met gate in die punt, tampons met golwende groewe, tampons met blou lyne.

Die maatskappy verkoop minder as 40 masjiene per jaar aan sowat 30 tamponvervaardigers wêreldwyd, maar dit beteken steeds dat rofweg die helfte van die wêreld se tampons met Ruggli-masjiene gemaak word.

Meestal is dit mans wat in die vergadersaal oor tampons sit en praat – iets wat ons nooit gebruik nie.

Hul klante sluit multinasionale maat­skappye in wat talle masjiene besit wat 24 uur per dag loop en 120 tampons per minuut uitskiet. “Hulle skakel dit nooit af nie!” sê Valon opgewonde.

Op die fabrieksvloer word ek ’n tamponmasjien gewys wat in die toetsproses is. Dit is ’n wonderlike gedoente, ’n groot L-vorm van staal.

Aan die een kant word ’n lint wit materiaal en ’n spoel gare in die masjien ingevoer. Aan die ander kant spring tampons uit wat in plastiek toegedraai en met toedieners toegerus is. ’n Ernstige man ondersoek dit noukeurig.

Almal op die fabrieksvloer is mans.

“Ha-ha, ja!” sê Valon. “In die inge­nieursafdeling het ons ’n paar vroue.”

Hy bly ’n ruk stil. “Meestal is dit mans wat in die vergadersaal oor tampons sit en praat – iets wat ons nooit gebruik nie.”

Kommer oor omgewingsvolhoubaarheid

Hulle is besorg oor die bedreigings wat die onderneming dalk kan raak – die afname in verbruik, die toename in alternatiewe en die diep en toenemende wantroue in tamponbestanddele.

Die hoofbestanddeel van ’n tampon wat nie 100%-katoen is nie, is rayon, of viskose. Dit word van opgeloste houtpulp gemaak wat as sellulosevesels herskep word, ’n proses wat chemiese behandeling behels.

Dit is die chemikalieë wat verbruikers gewoonlik bekommer, en nuwer tamponondernemings gebruik die vrees tot hul voordeel: “Die meeste tampons bevat sintetiese stowwe wat met chemikalieë behandel is en katoen wat met plaagdoders gespuit is,” lui ’n verklaring op Dame se webtuiste.

“Vroue gebruik 12 000 tampons in ’n leeftyd, en die vagina is uiters absorberend. Doen die somme.” (Daar is tans geen bewys rayon-tampons is skadelik nie. Maar die skok in die laat 1990’s oor die teenwoordigheid van dioksien, ’n moontlike karsinogeen, in tampons is steeds ’n faktor.)

Onheilspellende praatjies oor chemikalieë en plaagdoders is die soort ding wat P&G woedend maak.

“Ek neem dit soms persoonlik op,” sê Amy. Sy vertel van die miljoene dollars wat P&G daaraan bestee om hul produkte te toets en te monitor, hulpbronne wat klein ondernemings nie het nie.

“Ons meet onsself aan ’n baie hoë standaard. Ons sou nooit opsetlik iemand in gevaar stel nie.”

Behalwe toe hulle dit – onopsetlik – gedoen het. In 1975 het P&G ’n “super-absorberende” tampon, Rely, gemaak. Dit moes vyf jaar later van die mark gehaal word omdat daar ’n verband was met gevalle van toksiese skoksindroom (TSS).

Dié lewensgevaarlike toestand word deur bakteriese infeksie veroorsaak.

“Ja, daar was daardie debakel,” sê ­Cheri McMaster, ’n kommunikasiebestuurder by P&G. Maar volgens haar is die gevolg dat P&G nou een van die voorste kenners oor TSS is.

Terug by Ruggli wys Valon daarop dat katoen nie die vlekkelose stof is wat ons ons dalk graag wil voorstel nie. Om katoen mooi wit te maak – sonder al die dinge wat jy dalk in ’n landery sal kry – moet dit op ’n manier behandel word.

Foto: LOLA
Foto: LOLA

Maar as mense bereid is om meer vir tampons van organiese katoen te betaal, sal produsente dit maak. Tampax ook. Verbeterde weergawes van ’n basiese produk is ’n vinnige weg na wins, en die meeste stigters met wie ek gesels het, het groot finansiële doelwitte.

Bowenal wil almal Tampax sien val.

“Dis ryp vir oorname,” sê Celia Pool, medestigter van Dame, oor Tampax se houvas op die mark. Maar ten spyte van die hoë ambisies sal die lot van die meeste van die maandstonde-beginondernemings dieselfde wees as dié van ander beginondernemings: Dit sal verdwyn.

“Baie dollars sal verbrand word,” maan Rastegar Zegna, ’n stigtersvennoot van Kindred Capital en een van Daye se vroeë ondersteuners. Of baie dollars sal gemaak word.

Maar intussen kraai Tampax koning.

Guardian News & Media Ltd 2020
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe