Naomi Osaka het aan die Franse Ope onttrek nadat s
Naomi Osaka het aan die Franse Ope onttrek nadat sy met diskwalifisering gedreig is omdat sy nie die media te woord wil staan nie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy het niks om voor skaam te wees nie. Op die tennisbaan is sy kookwater: Sy storm op die net af, vuur handrughoue met twee hande na die teenstander se hoek af en ryg die kishoue in.

Naomi Osaka kan haar bors met rede breed uitstoot – sy is no. 2 op die wêreldranglys, die houer van vier Grand Slam-titels, en in 2020 was sy die bes betaalde vroueatleet ter wêreld. Sy het verlede jaar meer as R500 miljoen verdien – byna R460 miljoen daarvan uit borgskappe.

Louis Vuitton, TAG Heuer, Mastercard, Nike, Airbnb – almal staan tou om haar aan boord te kry.

Tog vertel die 23-jarige Japannees-Haïtiaanse sportvrou daar is tye dat sy net vir al die aandag wil wegkruip.

Sy is ’n introvert wat deur angs en depressie lamgelê word wanneer sy voor mense moet praat.

En dié teruggetrokkenheid kan haar dalk nou haar loopbaan kos.

Naomi het pas een van tennis se oeroue reëls uitgedaag: die bepaling in spelers se kontrakte dat hulle tydens toernooie ná ’n wedstryd op ’n mediakonferensie moet verskyn. Sy het haar voet neergesit en gesê dié onderhoude is swak vir haar geestesgesondheid en vererger haar angs.

Naomi sê op mediakonferensies word sy deur golwe v
Naomi sê op mediakonferensies word sy deur golwe van angs verswelg. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Ek het dikwels gevoel mense het geen ontsag vir atlete se geestesgesondheid nie, veral wanneer ek ’n mediakonferensie sien of aan een deelneem. Ons word daar sitgemaak en vrae gevra wat ons al vele kere tevore gevra is of vrae wat ons aan onsself laat twyfel. Ek gaan my net nie meer onderwerp aan mense wat in my twyfel nie.”

Naomi het daad by die woord gesit toe sy geweier het om die media te woord te staan nadat sy Patricia Maria Tig van Roemenië in die eerste ronde van die Franse Ope geklop het.

Die Franse was nie beïndruk nie en het haar met R200 000 beboet omdat sy die reëls verontagsaam het.

Die volgende dag het sy aangekondig sy onttrek aan die toernooi. “Ek dink die beste ding vir die toernooi, die ander spelers en my welstand is dat ek onttrek sodat almal weer op tennis kan fokus. Ek wou nooit ’n afleiding gewees het nie.”

Maar sy het bygevoeg sy sukkel al lank met depressie sedert die Amerikaanse Ope in 2018 toe sy op die toneel in trane uitgebars het nadat sy Serena Williams geklop het. “Ek het regtig gesukkel om dit te hanteer.”

Verskeie spelers het hul steun vir haar uitgespreek. Serena ook. “Ek wens ek kon haar ’n drukkie gegee het, want ek weet hoe dit voel,” sê sy.

Serena Williams sê sy het simpatie met Naomi en mo
Serena Williams sê sy het simpatie met Naomi en moes ook al in die verlede “baie moeilike” mediakonferensies hanteer. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die Amerikaanse ster Coco Gauff is ook aan Naomi se kant. “Bly sterk. Ek bewonder jou kwesbaarheid.”

Novak Djokovic, die no. 1-manstennisspeler, noem haar dapper. “Ek is baie jammer sy beleef pynlike tye en ly emosioneel. Ek hoop sy herstel. Sy is ’n baie belangrike speler, handelsmerk en mens vir ons sport.”

Naomi het selfs uit ander sportsoorte steun gekry. Die Formule 1-kampioen Lewis Hamilton is woedend oor die kritiek teen haar.

“Toe ek jonk was, is ek vir die wolwe gegooi, en ek het geen leiding of steun gekry nie,” sê hy. “Ek dink ons moet almal meer ondersteunend wees. Mense moenie voel hulle is onder druk nie.”

Maar nie almal stem saam nie.

Die driemalige Wimbledon-wenner Boris Becker sê hy het werklike kommer oor Naomi se toekoms as sy voel sy kan nie voor die media verskyn nie.

“As sy nie die media in Parys kan hanteer nie, kan sy nie die media in Wimbledon of die Amerikaanse Ope hanteer nie. Ek voel amper haar loopbaan is in gevaar as gevolg van geestesgesondheidsprobleme.”

Haar afrigter, Wim Fissette, sê Naomi wil graag ve
Haar afrigter, Wim Fissette, sê Naomi wil graag verandering teweegbring. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Rafael Nadal het soortgelyke kommentaar gelewer. “Ek verstaan haar, maar aan die ander kant, sonder die media sou ons nie die erkenning gehad het wat ons wêreldwyd het nie en sal ons mos nie meer so gewild wees nie.”

Naomi se afrigter, die Belg Wim Fissette, sê haar mediaboikot gaan oor veel meer as net daaroor dat sy kritiek wil vermy.

“Die onderwerp is op die oomblik baie aktueel, want atlete wil meer vryheid hê in hoe hulle met die media omgaan,” het hy aan die Duitse tydskrif Der Spiegel gesê. “Sy wil nie dinge net vir haarself verbeter nie. Dis vir haar ’n beginselsaak; sy wil verandering teweegbring.”

Die omstrede Britse mediapersoonlikheid Piers Morgan beskuldig Naomi weer daarvan dat sy “ ’n arrogante, bedorwe brokkie” is wat geestesgesondheid uitbuit om die media te vermy.

“Een ding is baie duidelik: Dit het niks met geestesgesondheid te doen nie. Wat Osaka eintlik bedoel, is sy wil nie die media in die gesig staar wanneer sy nie goed gespeel het nie, want die gemene joernaliste waag dit dalk om haar spel te kritiseer.”

Naomi sê sy is ’n introvert wat die kollig haat. “Enigiemand wat my in toernooie gesien het, sal opmerk ek dra dikwels oorfone, want dit help om my sosiale angs te verdoof,” sê sy.

‘Ek gaan my nie meer blootstel aan mense wat in my twyfel nie’

Sy sê die media is dikwels goedhartig teenoor haar en daar is baie “cool joernaliste”, maar die mediakonferensie ná ’n wedstryd is nie goed vir haar nie.

“Ek is nie ’n natuurlike openbare spreker nie en beleef groot golwe angs voor ek met die wêreld se media praat.”

Boonop het atlete in vandag se wêreld van sosiale media nie meer die media nodig om hulle te bevorder nie – hulle kan dit self op hul eie platforms doen waar hulle ’n mate van beheer het.

“Voorheen was die tradisionele media die enigste manier hoe ons na ons aanhangers kon uitreik, maar in die afgelope vyf of dalk 10 jaar is dit nie meer die geval nie,” sê Novak. “Naomi is baie jonk en sy het grootgeword met sosiale media en die vermoë om deur haar kanale te praat.”

Naomi het 2,3 miljoen volgelinge op Instagram.

Jonathan Liew, ’n sportskrywer van The Guardian, stem saam en meen die tyd van mediakonferensies ná ’n wedstryd het gekom en gegaan. “Atlete het hul eie regstreekse lyn met die publiek, en ongelukkig is dit nie ons nie.”

Naomi kan haarself bloot bemark deur goed tennis te speel, sê hy, eerder as om ná ’n wedstryd in ’n vensterlose vertrek met die wêreldmedia geselsies te sit en maak.

Jennifer Capriati se stryd met haar geestesgesondheid

Die eertydse tienersensasie het in 2010 haar eie lewe probeer neem nadat sy jare lank teen dwelmverslawing en depressie geworstel het wat deur die hoëdrukwêreld van topklastennis teweeggebring is. “Dit is asof ’n demoon jou oorneem. Jy voel net daar’s geen uitweg uit die ruimte waarin jy is nie,” sê sy.

“Wanneer jy net so uitgeput en moeg is, dink jy: ‘Ek wil nou van die aarde af verdwyn; ek voel walglik binne. Ek kan nie eens my eie vel verdra nie, en ek wil net uitkom.’ ”

Jennifer (45) lei tans ’n afgesonderde, eenvoudige lewe in ’n woonstel in Miami. Benewens ’n twiet af en toe sê sy selde enigiets oor die sport wat haar ryk en beroemd gemaak het.

Jennifer Capriati.
Jennifer Capriati. Foto: Gallo Images/Getty Images.
BRONNE: PEOPLE.COM, DAILYMAIL.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK, ESPN.COM, SPEIGEL.DE, THEGUARDIAN.COM, WASHINGTONPOST.COM, REUTERS.COM
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe