Hulle is altyd opgewonde wanneer jy tuis kom, kan nie wag om saam met jou te gaan stap nie en loop oor van dankbaarheid wanneer jy vir hulle kos gee. Maar sommige honde is ekstra spesiaal, want hulle is deel van die manne en vroue in blou wat hul lewe daaraan wy om Suid-Afrikaners veilig te hou.

Dit is waarom die skietdood van twee getroue polisiehonde terwyl hulle aan diens was, diep hartseer by diereliefhebbers gewek het.

Die twee honde, Shaka en Simba, se hulp is vir ’n sensitiewe polisie-operasie ingeroep toe toegeslaan is op verdagtes wat gesoek is vir roof en die moord op ’n polisieman. Die derde hond, Duke, is ook geskiet, maar het oorleef.

Die tragiese dubbele dood spruit uit die moord op Jabulani Mzwakhe Ndawonde, die waarnemende stasiebevelvoerder van Ndwedwe-polisiekantoor in KwaZulu-Natal op 24 Mei vanjaar.

“Die luitenant-kolonel was op pad huis toe toe onbekende aanvallers hom oorval en doodgeskiet het,” sê kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke. “Hy het veelvuldige skietwonde opgedoen en sy 9 mm-dienspistool en R5- outomatiese geweer is deur die verdagtes gevat.”

Die polisie het inligting ontvang oor die bewegings van die verdagtes, en hulle is Maandagmiddag opgemerk waar hulle in ’n motor op pad was Pietermaritzburg toe. Die polisie het hulle gestop en ’n skietery het ontstaan.

Twee van die verdagtes het uit die voertuig gespring en in die bosse in die omgewing verdwyn, terwyl die ander probeer wegjaag het. Die voertuig het in ’n diep sloot beland en die bestuurder is dood.

In die daaropvolgende skietery het een van die verdagtes ’n bloedstreep gelos soos hy in die suikerrietlande verdwyn het. 

Aangesien die terrein baie ru is, is die hulp van Pietermaritzburg se K9-eenheid ingeroep. 

Shaka en sy hanteerder het die suikerrietvelde ingegaan agter die twee verdagtes aan. “Die een verdagte is opgespoor, en Shaka het hom oorrompel. Die verdagte het die hond geskiet, en toe lede van die polisie terugskiet, is die man noodlottig gewond.” 

Nog ’n lid van die K9-eenheid het met sy hond, Simba, by die span aangesluit om die derde verdagte op te spoor. Simba het die verdagte gevang, maar ongelukkig is die dapper hond asook die verdagte in die voorval doodgeskiet. 

Die derde hond wat by die polisie-operasie aangesluit het, Duke, het die vierde verdagte opgespoor. Ook Duke is geskiet, maar kon met ’n helikopter na ’n veearts geneem word vir mediese sorg, en het oorleef.

Die man het daarin geslaag om dieper die bosse in te vlug.

’n Woordvoerder van die Hilton-dierekliniek naby Pietermaritzburg sê Duke is in die kop geskiet, maar dat hy volledig sal herstel. “Dit gaan goed met hom.”

In die nadraai van die voorval is vasgestel dat twee van die oorlede verdagtes voortvlugtend was nadat hulle op 26 Maart uit die aanhoudingselle van die hooggeregshof in Durban ontsnap het. 

Hulle is skuldig bevind op vyf moorde en poging tot moord in die Marianhill-omgewing.

Die vierde verdagte is steeds soek. 

Die provinsiale hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, majoor-generaal Lesetja Senona, het almal wat betrokke was geloof dat hulle geregtigheid kon bring vir die Ndawonde-familie.

Hy het ook medelye betuig aan die K9-eenheid in Pietermaritzburg met die verlies van Shaka en Simba. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe