Dit het begin met ’n doodgewone oproep tussen twee ou vriende wat mekaar gereeld bel, sommer om nonsens te praat.

Maar uit hul geselsie op daardie Oktoberdag in 2016 is 'n blink gedagte vir ’n trots Suid-Afrikaanse produk gebore, een wat nou tot ver anderkant die landsgrense opslae maak. 

En op eie bodem het dit die woord “velskoen” 'n nuwe betekenis laat kry.

“Het jy gesien toe ons Olimpiese span uitstap?” het Ross Zondagh daardie dag oor die selfoon sy ou skoolmaat Nick Dreyer gevra oor die openingseremonie van die Olimpiese Spele wat 'n ruk te­vore in Rio de Janeiro, Brasilië, gehou is.

“Ja, en hulle het aaklig gelyk,” het Nick geantwoord en aan die atlete met hul sakkerige sportsweetpakke teruggedink. 

Terwyl Nick ná ’n besoek aan Plettenbergbaai agter die stuur van sy motor op die langpad terug Kaap toe en Ross op die Kaapse paaie was, het die twee vriende die uitrustings van die ander lande se spanne bespreek.

Dié drag het elk iets eie aan daardie land en kultuur gehad.

“Maar wat sou ons span kon dra?” het hulle hardop begin wonder. 

“En ons sal seker vir altyd stry oor wie dit eerste gesê het, maar een van ons sê toe: ‘die velskoen,’ ” onthou Nick (41) waar hy nou saam met Ross (ook 41) in die raadsaal van hul onderneming in Paardeneiland, Kaapstad, sit.

Dan brom Ross onderlangs dit was beslis hy wat dit destyds voorgestel het.

“Maar die ander ou – wie dit ook al was – sê toe: ‘Maar velskoene is so lelik,’ ” vertel Nick joviaal verder.

“Ja, dis so 'n vervelige bruin ding,” het Ross toe beaam.

“Maar velskoene hoef nie so te lyk nie,” het Nick, ’n kunsadviseur, ge­antwoord. Hy was juis kort tevore op ’n sakebesoek aan Amerika waar hy vir hom ’n paar formele skoene met heldergeel sole aan­geskaf het. 

 Die akteur Ashton Kutcher het in Veldskoen belê.
Die akteur Ashton Kutcher het in Veldskoen belê. Foto: Gallo Images/ Getty Images

En dit het die saadjie gesaai vir ’n idee wat vinnig in albei se gedagtes ontkiem het.

Hulle het op die plek 'n ontwerpersvriend gevra om ’n lukrake internetfoto van velskoene te manipuleer sodat die sole en veters in dieselfde helder kleur “soos rooi, blou en geel is”, vertel Nick. 

Hy was daardie dag nog op die langpad toe hy die gedokterde foto’s op sy selfoon kry. En dit was sommer dadelik duidelik hulle het ’n goeie idee hier beet.

Tussen die ry en stop deur het die twee vriende bly dink, bly google en mekaar elke paar minute gebel.

“Teen die tyd dat ek in Kaapstad aangekom het, het ons al ’n aansoek ingedien om die handelsnaam Veldskoen Shoes te registreer,” vertel Nick.

“Dit het alles binne vyf uur gebeur,” las Ross by. Want as 'n blink gedagte jou te binne skiet, moet jy nie gras onder jou voete, of jou byderwetse vel­skoene, laat groei nie.

Nou, byna drie jaar later, het die twee se aanlyn onder­neming as’t ware al sy kinder­skoene ontgroei en  so uitgebrei dat die twee vriende hul produkte na Australië, Engeland en Amerika uitvoer. 

Die vellies met sole en veters in helder kleure het eg Suid-Afrikaanse name soos “die Bloem”, “die Vilakazi” en “die Pino­tage”, en bekendes soos prins Harry is al daarin gekiek.

Vroeër vanjaar het die Amerikaanse akteur Ashton Kutcher en sy sakevennoot, die Shark Tank-belegger Mark Cuban, in die onderneming belê nadat ’n Suid-Afrikaanse entrepreneur in Amerika, Steve Watts, Veldskoen onder hul aandag gebring het. 

“Dieng!” lui ’n klokkie skielik gelyktydig op hul albei se selfone.

“Dit gebeur wanneer ons 'n paar skoene verkoop het,” sê Nick en glimlag ingenome. 

Prins Harry is ook glo ’n aanhanger. Foto: Gallo I
Prins Harry is ook glo ’n aanhanger. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sy en Ross se paaie het in 1992 gekruis toe albei as 13-jariges aan Pretoria Boys High begin skoolgaan het. Hulle was saam in die koshuis en het “saam moeilikheid gemaak”, skerts die twee. 

Ná matriek het hulle verskillende rigtings ingeslaan, maar vriende gebly. Nick het gasvryheidstudie aan die Kaapstad-hotelskool in Grangerbaai studeer.

“Maar ek wou nog altyd 'n entrepreneur wees,” sê Nick, wat later met ’n kuns-en- uitstalonderneming begin het en nou die uitvoerende hoof is van hul oorhoofse aanlyn onderneming, DORP, oftewel Digital Online Retail Products & Platforms

Ross wou eers 'n fisioterapeut word, maar ná twee jaar aan die Universiteit Stellenbosch het hy sy studierigting verander.

Hy het toe konstruksiebestuur en bou­rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. Daarna was hy in die restaurantbedryf betrokke, maar drie jaar later het hy Kaap toe getrek en in die boubedryf begin werk. 

Tog het die twee vriende na nuwe idees vir 'n onderneming bly soek, tot die dag dat hulle met nuwe oë na velskoene begin kyk het. Die eerste 18 maande was hul Veld­skoen-onderneming 'n “stokperdjie” wat hulle ná ure bedryf het.

Albei was toe reeds gesinsmanne, en die vel­skoene moes wag tot saans nadat die kinders bed toe is. Dan het hulle soveel moontlik oor leervelskoene opgelees.

Hulle het ook 'n fabriek begin soek om die skoene vir hulle te vervaardig. 

“Baie plekke het gelag toe ons hulle van ons idee vertel,” sê Nick. Eindelik het hulle 'n fabriek in Durban gekry wat die skoene vir hulle kon maak. 

“Ons het niks van 'n aanlyn winkelwebtuiste geweet nie,” erken hy.

“Ons het onsself met behulp van YouTube geleer en die webtuiste self aanmekaargesit.”

Die drie vennote, (van links) Nic Latouf, Ross en
Die drie vennote, (van links) Nic Latouf, Ross en Nick, in Londen. Foto: Verskaf

Toe nog 'n skoolmaat, Nic Latouf (43), 'n inhoudsvervaardiger met 'n kreatiewe brein en digitale kennis, Kaap toe trek, het hulle hom in September 2017 gevra om 'n vennoot te word.

“Ons vroue het gedink ons is stapelgek,” vertel Nick.

“Eintlik het baie mense gedink ons is mal.”

Hulle het klein begin en die skoene eers net op bestelling vervaardig. Hulle wou hoofsaaklik op toeriste fokus en 'n produk skep wat hulle ná 'n besoek aan Suid-Afrika kon terugneem huis toe.

Maar toe hulle weer kyk, het bestellings van hul landgenote begin instroom. 

“Ek het ’n foto van my swanger vrou waar sy op 'n Saterdag in PostNet sit en etikette invul om pakkies weg te stuur,” vertel Nick laggend van sy vrou, Freya, wat toe hul seun, Charlie (2), verwag het.

Sy is ’n bestuurder in 'n bank se tegno­logieafdeling en deesdae ook Veld­skoen se handelsnaambestuurder.

“Ons sou dit nie sonder ons vroue kon doen nie en ons beskou onsself as 'n familieonderneming,” sê hy.

“Hulle het ons baie gesteun,” beaam Ross, wie se vrou, Driekie, die bedryfshoof van Veldskoen is. Ook Nic se vrou, Leila, ’n kosstilis, help met die stilering van die produkfoto’s.

Die name van hul kinders, Asha (4) en Romi (10 maande), sal saam met dié van Ross se twee, Cleo (18) en Ferdi (10), en Nick se Charlie op die skoenboks pryk van ’n reeks kinderskoene wat hulle binnekort gaan bekendstel. 

Hul suksesresep is kort en kragtig: “Die grootste ding vir enige nuwe onderneming is om nie net daaroor te praat nie; jy moet dit doen,” sê Nick. “Dis die moeilikste deel. Almal praat oor al hierdie goeie idees, maar as jy niks daaraan doen nie, sal niks gebeur nie.”

Party firmas laat druk hul kenteken op die skoene.
Party firmas laat druk hul kenteken op die skoene. Foto: Misha Jordaan

Hul produkte is hoofsaaklik aanlyn beskikbaar in Suid-Afrika, maar is ook in ’n winkeltjie by hul hoofkantoor en 'n bekende groep kampeer-en-buitelug­winkels te koop.

Hulle onderhandel nou met ’n groot kettingwinkel om hul skoene ook landwyd in hul takke te verkoop. 

Dit is nog net die begin, sê die twee.

“Ons werk nog aan ’n paar idees,” verklap Nick geheimsinnig. 

En wat van die idee waarmee alles begin het: dié van ons Olimpiese span wat op volgende jaar se Spele in Tokio, Japan, op die veld stap in eg Suid-Afrikaanse velskoene so kleurryk soos ons vlag?

Dis steeds hul droom, sê Nick. “Ons werk daaraan; niks is al vas nie, maar ons werk daaraan.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.