Kykers het gesien wat ’n Moslem-verlowing, oftewel lamba, behels toe die Samsodien- en Jaffer-gesinne bymekaarkom toe AB (Cedwyn Joel) vir Kamaal (Jeffrey Moss) vra of sy seun Rhafiek (Irshad Ally) aan Kamaal se dogter, Nuraan (Liezl Swartz), kan verloof raak. 

Kamaal het weer op sy beurt vir Nuraan gevra of sy Rhafiek as haar verloofde aanvaar, waarop sy toe instem. In die hele proses was Rhafiek nie teenwoordig nie en is hy en die vroue eers ná Nuraan se toestemming by die plegtigheid toegelaat. 

Of Rhafiek en Nuraan tot trou gaan kom, is wel 'n ander vraag, want die afgelope tyd lyk dit of hy dalk eerder oë het vir Carmen (Desiré Gardner). Sy het met ongemak toegekyk hoe dié verlowing gebeur. 

Volgens Wilmer Müller, Suidooster se woordvoerder, doen die skryfspan deeglik navorsing oor Moslem-tradisies en gebruike. 

“Abduraghmaan Adams, wat Ian October speel, is ook ons kulturele raadgewer terwyl Irshaad insette lewer,” sê hy. 

“Suidooster het ook al voorheen ander tradisionele Moslem-gebeure soos die proses van Ramadaan gewys.”

Die sepie, wat onlangs twee jaar oud geword het, is ook die eerste sepie met 'n Moslem-gesin as hoofkarakters. 

Kyk die video hier: