'n Maatskappy van Minneapolis in die Amerikaanse deelstaat Minnesota bied nou sy werkers troeteldierverlof, ook bekend as fur-ternity leave of paw-ternity leave.

"Troeteldiere het ook gehaltetyd nodig om 'n band met hul mense te vorm; daarom het ons (dié soort verlof) by ons voordelelys gevoeg," sê die bemarkingsfirma Nina Hale op hul Facebook-blad.

Ja, troeteldierverwante verlof is nou deel van hul amptelike maatskappyvoordelelys: werknemers kan 'n week tuis met hul nuwe hond of kat deurbring om seker te maak die outjie is oukei en raak stresvry gevestig.

Volgens Donna Robinson, maatskappyhoof, "het ons 'n kultuur waar ons ons bes probeer om verskillende gebeure in werknemers se lewe te akkommodeer".

"Gesinne neem alle vorme en groottes aan. Vir baie mense is hul troeteldiere hul kinders," reken Nina Hale se kliëntediensbaas, Allison McMenimen. "Ons wil die diversiteit van ons werksmag vier met beleid wat elkeen in staat stel om hul definisie van 'n gesin te steun."

Ja-wel.

Die maatskappy het darem ook seker gemaak werknemers misbruik nie dié geleentheid nie. Daar word van hulle verwag om steeds tot 'n mate van die huis af te werk. En fur-ternity leave geld hier nie vir goed soos slange of visse nie. Dit sluit amptelik diere uit wat hoofsaaklik in 'n kou of tenk leef.

Nina Hale het dit lankal oorweeg om hul mense so tegemoet te kom, maar 'n versoek van een van hul rekeningbestuurders, Connor McCarthy, het die deurslag gegee. Hy was bekommerd oor hoe sy twee maande ou golden retriever-poedelkruising, Bentley, wat senuagtig was oor sy nuwe omgewing, alleen tuis sou aanpas.

Die maatskappy het ook 'n program waardeur hy werknemers vergoed vir "welsynverwante" uitgawes wat wissel van masserings en pedikure tot kinderoppassers, gesinsetes en nuwe leesstof.

Bronne: ninahale.com, minnesota.cbslocal.com, tcb.mag.com, Facebook