Dit is van die treffendste beelde uit die afgelope tyd: die wenfoto’s wat onlangs in die jaarlikse nuusfotokompetisie van die organisasie World Press Photo vertoon is.

Die beoordelaars het wenners uit 73 044 foto’s deur 4 548 fotograwe van 125 lande gekies. Die foto van die jaar van ’n betoger wat in Venezuela aan die brand gesteek word, het die fotograaf Ronaldo Schemidt sowat R150 000 in die sak gebring.

Die wenfoto’s word in ’n jaar lange uitstalling in 45 lande uitgestal. Besoek worldpressphoto.org vir nog.

Rohingias vlug om aan etniese suiwering te ontsnap

Kevin Frayer, Kanada, vir Getty Images 

’n Rohingia-vlugteling word uit ’n boot gehelp toe sy in Bangladesj aankom. Aanvalle op die dorpe van Rohingia-Moslems in Mianmar het veroorsaak dat honderdduisende vlugtelinge na Bangladesj vlug.

Baie het dit nie oorleef nie. 

Foto: Kevin Frayer, Getty Images.

Motoraanval

Ryan M. Kelly, Amerika, vir The Daily Progress

Mense trek deur die lug toe ’n motor deur ’n groep betogers ploeg.

Hulle het in Augustus verlede jaar teen ’n Unite the Right-byeenkoms in Charlottesville, Virginië, geprotesteer.

Foto: Ryan M. Kelly, The Daily Progress.

Marathon des Sables

Erik Sampers, Frankryk

Hardlopers spring weg op ’n skof van die moordende Marathon des Sables van 250 km in die Sahara-woestyn in Suid-Marokko, waar die kwik tot 50 ºC styg.

Foto: Erik Sampers.

Sprong

Thomas P. Peschak, Duitsland/Suid-Afrika

Geelkuifpikkewyne spring van rots tot rots aan die ruwe kuslyn van Marion-eiland, ’n Suid-Afrikaanse subantarktiese grondgebied in die Indiese Oseaan.

Foto: Thomas P. Peschak.

Berustingsindroom (uppgivenhet in Sweeds)

Magnus Wennman, Swede, vir The New Yorker

Die Kosovaanse sigeunervlugteling Djeneta (regs) is al twee en ’n half jaar in Horndal, Swede, bedlêend en haar suster, Ibadeta, langer as ses maande.

Berustingsindroom maak pasiënte heeltemal passief.

Foto: Magnus Wennman.

Nie meer heilig nie

Jasper Doest, Nederland

Kaoru Amagai deel sy huis in Ota-shi, Gunma, Japan, met drie makape wat hy soos sy eie kinders behandel.

Hulle is voorheen beskou as heilige tussengangers tussen gode en mense, maar word deesdae getem en vir vermaak opgelei.

Foto: Jasper Doest.

Omo-verandering

Fausto Podavini, Italië

Sorgelose Karo-kinders op die oewer van die Omo-rivier in Ethiopië.

Die sand waarop hulle speel, is waar ’n dam gebou word om hidroëlektrisiteit te verskaf.

Die Karo-mense, wat heeltemal van die Omo afhanklik is vir oorlewing, se voortbestaan word deur dié ontwikkeling bedreig.

Foto: Fausto Podavini.

Venezuela-krisis – die wenfoto

Ronaldo Schemidt, Venezuela, vir Agence France Press

José Víctor Salazar Balza (28) brand te midde van gewelddadige botsings met die onlustepolisie tydens ’n betoging teen pres. Nicolás Maduro in Caracas, Venezuela.

Hy het die voorval oorleef, maar eerste- en tweedegraadse brandwonde opgedoen.

Foto: Ronaldo Schemidt, Agence France-Presse.

Boko Haram het selfmoordbomme aan hulle vasgegespe, maar dié tienermeisies het oorleef

Adam Ferguson, Amerika, vir The New York Times

Nigeriese militante het plofstof aan meisies soos Falmata (15) vasgegespe om hulself in skares op te blaas, maar hulle het ontstap.

Foto: Adam Ferguson, The New York Times.

Die seuns en die bulle

Nikolai Linares, Denemarke

Twee seuns van ’n bulgevegskool in Almería, Spanje, vaar die aand die strate in om hul sport te beoefen.

Bulgevegte is al lank omstrede en die gewildheid daarvan neem af, maar oral in Spanje droom seuns steeds van glorie in die arena.

Foto: Nikolai Linares.

Vryheid in die water

Anna Boyiazis, Amerika

’n Jong vrou leer dryf in die Indiese Oseaan aan die kus van Zanzibar.

Tradisioneel word meisies ontmoedig om te leer swem, grootliks weens hul konserwatiewe Islamitiese kultuur en die gebrek aan fatsoenlike swemdrag.

Foto: Anna Boyiazis.

Stryders wat olifante gevrees het, beskerm hulle nou

Ami Vitale, Amerika

Gewese Samburu-krygers wat nou by die Reteti-olifantskuiling in Noord-Kenia werk, voer die kleintjies van die reusediere.

Foto: Ami Vitale, National Geographic.

Wagtend op vryheid

Neil Aldridge, Suid-Afrika

Dié jong suidelike witrenoster is bedwelm en geblinddoek en op die punt om in die Okavangodelta, Botswana, vrygelaat te word nadat hy van Suid-Afrika verskuif is vir beskerming teen stropers.

Foto: Neil Aldridge.

Stomende skrum

Stephen McCarthy, Ierland, vir Sportsfile

En die manne sweet! ’n Pluim stoom styg op uit ’n hittige skrum tydens ’n wedstryd tussen die Britse en Ierse Leeus en die Maori All Blacks.

Dié ongewone verskynsel is vasgevang in die Rotorua-Internasionale Stadion in Rotorua, Nieu-Seeland.

Foto: Stephen McCarthy, Sportsfile.