Die blote gedagte aan sommige van oudpres. Jacob Zuma se aanstellings op finansiële gebied is genoeg om jou ’n spanningshoofpyn of sooibrand te gee.

Sy omstrede keuses het met tye die rand laat tuimel, internasionale beleggers die skrik op die lyf gejaag en ons op die afdraande pad na rommelstatus geplaas.

Maar ons nuwe president, Cyril Ramaphosa, is na die onlangse Statebond-sakeforum in Londen met ’n groot doel voor oë: om $100 miljard (sowat R1 200 miljard oftewel R1,2 biljoen) se nuwe beleggings na Suid-Afrika te probeer lok.

En om die 52 staatshoofde in Londen van sy erns te oortuig, het hy op die vooraand van die forum sy nuwe ekonomiese A-span aangekondig.

Dit is ’n span wat die wêreld nou moet oortuig skoon regering en volhoubare groei is boaan sy agenda en dat ons daarom ’n beleggersmekka is.

Ramaphosa se vier spesiale ekonomiese gesante, Trevor Manuel en Mcebisi Jonas (onderskeidelik voormalige minister en adjunkminister van finansies), die gerekende bankier Jacko Maree en die sakeleier Phumzile Langeni, is nie onbekend nie.

Cyril Ramaphosa op die Statebond-­sakeforum. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maar dis Ramaphosa se keuse van sy ekonomiese raadgewer wat almal aan die gons het. Op 40 is Trudi Makhaya die jongste presidensiële ekonomiese raadgewer in die era ná 1994.

Sy het die reusetaak om Manuel, Jonas, Maree en Langeni se werk te koördineer en te lei en ook om Ramaphosa ekonomiese rigtingwysers te gee.

Maar wie is dié jong sakevrou in wie Ramaphosa soveel vertroue plaas?

NOG ALTYD ’N UITBLINKER

Makhaya is die uitvoerende hoof van Makhaya Advisory, ’n konsultasiegroep wat op entrepreneurskap in Suid-Afrika fokus.

Sy het op Hammanskraal, ’n arm maar skilderagtige plattelandse distrik noord van Pretoria, grootgeword.

In 1996 het sy met onderskeiding aan St. Barnabas-kollege in Randburg gematrikuleer.

In die taai 1980’s en ’90’s het die meeste leerders aan dié hoogaangeskrewe instelling uit benadeelde gemeenskappe gekom.

“Ons was in ’n instelling wat in ons geglo het. Ons het geweet ons word ernstig opgeneem; daarom het ons onsself ernstig opgeneem,” het sy al oor St. Barnabas gesê.

Sy het ’n B.Com.-graad in regte en ekonomie asook ’n meestersgraad in ekonomie aan Wits behaal. As ’n Rhodes-beurshouer het sy ’n M.B.A.- en M.Sc.-graad in ontwikkelingsekonomie aan die Universiteit van Oxford in Engeland verwerf.

Haar belangrikste les in haar tyd by Oxford was die besef van eiewaarde en om jou “nie deur ‘grootsheid’ te laat intimideer nie”, het sy op die aanlyn mentorplatform Change Exchange vertel.

“Baie wêreldleiers en briljante denkers doen by Oxford aan om praatjies te lewer. Om sommige van hulle te ontmoet het ’n mens se geneigdheid getemper om sulke individue op ’n voetstuk te plaas. Om te besef iemand soos Hillary Clinton is eintlik ’n gawe, hardwerkende tannie en nie ’n mitiese supervrou nie, is nogal bevrydend en inspirerend. Skielik het dit gevoel asof baie dinge binne jou bereik is,” het sy aan Change Exchange vertel.

HAAR OPGANG AS SAKEVROU

Ná haar terugkeer na Suid-Afrika van Oxford het sy as konsultant vir die ouditreus Deloitte, die ekonomiese navorsingsgroep Genesis Analytics en die mynwesegroep AngloGold Ashanti gewerk voor sy in 2010 by die Mededingingskommissie aangesluit het.

Daar was sy eers hoofekonoom en later uitvoerende komiteelid en adjunkkommissaris.

‘Ons moet na ’n ekonomie van matige koste en hoë produktiwiteit oorskakel’

As sodanig het sy ’n groot rol daarin gespeel om 15 boumaatskappye wat tenders vir die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi onbehoorlik beïnvloed het aanspreeklik te hou.

Hulle is ’n rekordboete van R1,46 miljard opgelê. Makhaya was voorheen ook ’n direksielid van MTN Suid-Afrika en die Vumelana Advisory Fund, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat gemeenskappe in grondhervormingsprogramme hul grond help ontwikkel.

In 2015 het sy haar eie adviesfirma begin. Die fokus was om jong ondernemers met mentorskap en aanvangskapitaal te help.

Sy meen jong Suid-Afrikaners wat ’n eie onderneming wil begin, moenie onnodig lank daaroor wroeg nie, maar wel hul bedryf versigtig kies sodat groot maatskappye hulle nie vertrap nie, het sy aan Change Exchange gesê.

ONTLEDER EN SKRYWER

Sy het die versreël Be nobody’s darling uit die gelyknamige gedig van die Amerikaanse skrywer Alice Walker, van The Color Purple-faam, vir haar toegeëien, het sy op haar webtuiste vertel.

As rubriekskrywer vir Business Day en vir Acumen, ’n sakejoernaal van die Gordon Institute of Business Science, het sy gereeld kommentaar gelewer op kwessies van openbare ekonomiese belang.

Maar in haar vrye tyd het sy ook al haar hand aan fiksie gewaag. Onder meer het van haar kortverhale in die literatuurjoernaal New Contrast verskyn.

Sy is ook op Twitter aktief en lewer gereeld oor brood-en-botterkwessies op dié sosialemediaplatform kommentaar.

Makhaya het al oor haar bewondering vir die onafhanklike skolegroep Curro geskryf en dit ’n “uitsonderlike sukses in bekostigbare onderrig” genoem, en gunstig geskryf oor die bank Capitec se rol in toeganklike finansiering.

In ’n meningstuk vir Daily Maverick het Makhaya destyds voorspel Zuma sou vir Nhlanhla Nene as minister van finansies pos, ’n jaar voor dit gebeur het.

Sy glo ’n mens moet na alle kante van ’n saak kyk en lug haar mening selfs wanneer hewige debat oor omstrede kwessies woed.

Gedurende die Rhodes Must Fall-protes in 2015 teen koloniale simbole soos die Cecil John Rhodes-standbeeld by die Universiteit van Kaapstad het sy in Business Day geskryf die Britse mynmagnaat en politikus se erflating is beperk deur die seksisme en rassisme van sy era, maar sy nalatenskap wat studiebeurse (soos die een wat haar aan Oxford help studeer het) betref, dui op ’n erkenning van sekere universele waardes.

HAAR VISIE VIR DIE EKONOMIE

Sy meen alle rolspelers sal opofferings moet maak as Suid-Afrika beter met die res van die wêreld wil meeding.

“Ons moet na ’n ekonomie van matige koste en hoë produktiwiteit oorskakel. Ons moet onwrikbaar wees in ondersoeke na ons swakheid in onderrig, gesondheid, landsbestuur en infrastruktuur . . . en dit regruk,” het sy op Change Exchange gesê.

Sy het nog nooit geskroom om die staat te kritiseer nie. “Die regering se vermoë tot ekonomiese verandering is deur swak uitvoering en verantwoordbaarheidstelsels gekniehalter,” het sy die afgelope Desember in Acumen geskryf.

Kort ná Ramaphosa se sege op die ANC se leierskongres in Desember verlede jaar het sy in Business Day geskryf die land se nasionale ontwikkelingsplan, waarin mense soos Manuel en Ramaphosa ’n groot aandeel gehad het, maar waarmee die Zuma-bewind gesloer het, moet sonder versuim behoorlik toegepas word.

En met Makhaya in sy hoek lyk dit of Ramaphosa nou behoorlik in die kryt klim om dit te laat gebeur.

CYRIL SE SPESIALE GESANTE

1. Trevor Manuel

Foto: Gallo Images/AFP.

Mense het bespiegel Ramaphosa sou hom weer as minister van finansies inspan, maar toe is Nhlanhla Nene in dié pos aangestel.

Manuel het vroeg verlede jaar laat blyk hy sou graag ’n Ramaphosa-kabinet van raad bedien. Nou is hy een van Ramaphosa se prominentste ekonomiese gesante, bekend en gerespekteer onder buitelandse beleggers.

Hy het in 1996 by Chris Liebenberg as minister van finansies oorgeneem en in die kabinette van Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Kgalema Motlanthe en Zuma gedien.

2. Jacko Maree

Foto: Gallo Images/Financial Mail/Robert Tshabalala.

Hy het begin 2013 uitgetree as uitvoerende hoof van Standard Bank, wat hy help bou het tot Afrika se sterkste bankgroep.

Dit was juis onder hom dat China ’n beduidende belegging in dié groep gemaak het. Ná sy uittrede het hy ’n ruk lank bly handgee, eers as senior bankier en sedert 2016 as mede-adjunkvoorsitter van die groep.

Tans is hy voorsitter van Liberty Holdings Limited en Liberty Group Limited.

Sy ervaring van sake in die buiteland doen en kliënteverhoudings kweek sal Ramaphosa goed te pas te kom.

3. Mcebisi Jonas

Foto: Gallo Images/Daily Sun/Jabu Kumalo.

Hy het van 2014 tot vroeg in 2017 as adjunkminister van finansies in Zuma se kabinet gedien voor dié hom saam met Pravin Gordhan gepos het.

Kort daarna het Jonas as ANC-parlementslid bedank.

Hy het aan die voormalige openbare beskermer Thuli Mandonsela vertel hoe hy ’n omkoopaanbod van die Guptas om as nuwe finansiesminister na hul pype te dans geweier het.

Jonas se teenwoordigheid in Ramaphosa se span kan potensiële beleggers oortuig Suid-Afrika is nou ernstig oor skoon regering.

4. Phumzile Langeni

Foto: Gallo Images/Sowetan/Veli Nhlapo.

Soos Maree dra sy wat privaatsektor-ondervinding betref tot die span by.

Die voorsitter van die Afropulse-groep was voorheen ook al direksielid van verskeie ander groot korporasies, waaronder Massmart en Imperial Holdings.

Sy het boonop ook ervaring in die openbare sektor, byvoorbeeld as ekonomiese raadgewer vir die departement van minerale en energie voor 2010. Sy is ook ’n geregistreerde aandelemakelaar.

BRONNE: TRUDIMAKHAYA.CO.ZA, CHANGEEXCHANGE.CO.ZA, ACUMENMAGAZINE.CO.ZA, POLITICSWEB.CO.ZA, FIN24.COM, BUSINESSLIVE.CO.ZA