Klein Owen Montoya is doof gebore, maar die 15 maande oue kleinding het verlede week ’n operasie ondergaan in Phoenix, Arizona, om ’n kogleêre inplanting in sy linkeroor te kry.

Die hartvermurwende video wys die toweroomblik toe die toestel aan sy ma se foon via Bluetooth verbind word om die kleinding aan die wêreld van musiek bekend te stel.

“Ons is baie opgewonde om te sien hoeveel hy musiek geniet; dit was die ongelooflikste oomblik,” het Owen se ma, Janae Montoya, gesê.

“Dit was baie swaar vir ons toe ons uitvind Owen is doof omdat ons familie baie musikaal is. Ek wou altyd hê hy moes dit ervaar. Ek was ’n bietjie senuweeagtig toe ek die musiek aanskakel, want baie babas reageer nie goed daarop nie. Ek het verwag dat ek dit dadelik sou moes afskakel."

“Maar Owen is anders. Hy volg sy eie kop. Hy het dadelik begin dans, en sy kop heen en weer geskud en dit terdeë geniet.”

Janae (26), ’n verpleegster en ma van een, was bekommerd omdat haar seun aanvanklik bangerig was met die bieptoetse toe sy kogleêre inplanting aangeskakel word.

Maar sy sê die oomblik toe hulle sy nuwe gehoorapparaat aan haar foon koppel om musiek te speel, het sy frons in ’n glimlag verander.

Janae het vir Owen ’n gospelliedjie gespeel wat spesiaal is vir die streng godsdienstige gesin wat baie nou by hul plaaslike kerk betrokke is. 

En dit lyk asof dit liefde met die eerste luisterslag was, want sy vertel Owen word van toe af elke dag meegevoer deur musiek.

“Hy luister al die afgelope twee dae na verskillende goed en is mal daaroor. Hy is veral dol oor regstreekse musiek, want ek dink hy voel hy is werklik daar. Sy grootouers het gesing, ek het gesing, my broer het musiekskool bygewoon . . . ons is almal sangers en baie musikaal. Dis ’n groot deel van alles wat ons doen."

“Dit het soveel deure vir hom oopgemaak. Owen is volmaak nes hy is, maar die kogleêre inplanting is ’n hulpmiddel vir hom om verhoudings te bou en musiek te ervaar."

“Die wete dat iets afgesluit is vir jou kind, kan hartverskeurend wees, maar hy het nou elke geleentheid ter wêreld.”