Dirk Prinsloo agter tralies in Belarus. Foto: Gall
Dirk Prinsloo agter tralies in Belarus. Foto: Gallo Images/Foto24/Julian Rademeyer

Meer as drie jaar nadat Dirk Prinsloo in Belarus in die ooste van Europa op parool vrygelaat is, is steeds geen aansoek om uitlewering gebring sodat hy in Suid-Afrika kan teregstaan op die aanklagte teen hom nie.

Nadat vroeër berig is oor die voormalige advokaat se vrylating in 2017 uit ’n Belarussiese tronk, blyk dit nou dat hy steeds ’n vry man in dié Europese land is. Hy is 'n beskuldigde in 'n kindersekssaak wat van 20 jaar gelede dateer.

So vry is Prinsloo dat hy volgens polisiebronne glo onlangs met ’n Belarussiese burger getroud is, al kon die bronne nie bevestig of hierdie onbekende vrou die ma van een sy twee dogters is nie.

“Ja, dit is so. Sover ons kennis strek is hy tans op parool – so ja, hy is dus ’n vry man in Belarus,” sê kol. Brenda Muridili, ’n woordvoerder van Interpol in Suid-Afrika, aan Huisgenoot.

Prinsloo en sy destydse lewensmaat, Cézanne Visser (wat ook bekend was as adv. Barbie), is in 2002 in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer bedrog, verkragting en die vervaardiging van kinderpornografie. Die aanklagte is aanvanklik teruggetrek, maar die advokate is weer in 2003 aangekla voor hulle op borgtog vrygelaat is.

Dirk Prinsloo was die inspirasie agter Cézanne se transformasie. Foto: Nardus Nel
Dirk Prinsloo en Cézanne Visser. Foto: Nardus Nel
Dirk Prinsloo en Cézanne Visser. Foto: Nardus Nel

Destyds is Prinsloo se versoek goedgekeur om Rusland midde sy verhoor te besoek omdat hy nie as ’n vlugrisiko beskou is nie, maar hy het nooit in 2006 vir sy verhoor opgedaag nie.

Maar die voormalige advokaat het vir ’n tweede keer keer sy rieme styfgeloop – dié keer kort voor 2010 – toe hy in Belarus in hegtenis geneem is. Hy is in Februarie 2010 tot sowat 13 jaar tronkstraf gevonnis vir bankroof. Hy was in daardie stadium op Interpol se rooilys van die mees gesoekte persone.

Muridili het vandeesweek aan Huisgenoot gesê Prinsloo is al drie jaar gelede in Belarus op parool vrygelaat nadat hy daar die helfte van sy vonnis uitgedien het. Hy kon glo al in Februarie 2017 vir parool in aanmerking kom, maar sy aansoek is eers teen die einde van daardie jaar aangehoor en goedgekeur. 

“Volgens die inligting wat tot ons beskikking is, woon hy steeds in Belarus,” sê sy.

Muridili kon geen besonderhede oor Prinsloo se vrou bevestig nie. Voorheen is berig hy het twee kinders by twee Belarussiese vroue gehad, maar Muridili meen die polisie het geen inligting hieroor buiten die gerugte wat ook hul ore bereik het nie.

“Die punt is dat die strafregtelike verhoor teen Prinsloo in Suid-Afrika steeds hangende is,” sê sy. 

Muridili het aan Huisgenoot gesê daar is tot nou nog geen aansoek om Prinsloo se uitlewering gebring nie. Wat die uitlewering glo bemoeilik, is dat daar geen uitruilooreenkoms tussen Suid-Afrika en Belarus is nie.

Op ’n vraag oor wie so ’n aansoek moet bring, het Muridili die navraag na die departement van korrektiewe dienste verwys. 

’n Woordvoerder van dié departement, Chrispin Phiri, het dieselfde navraag na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys.

“Die NVG is verantwoordelik vir die aansoek omdat hulle oor kundige en persoonlike kennis van die saak en die aanklagte teen hom beskik,” sê Phiri. “Dit is hulle prerogatief om die stawende dokumente – dit verwys na die lasbriewe, dokumente oor sy inhegtenisneming en ook oor die aanklagte teen hom – saam te stel vir die aansoek om uitlewering.” 

 Dirk Prinsloo. Foto: Gallo Images/SBU Mafeka
Dirk Prinsloo. Foto: Gallo Images/SBU Mafeka

Teen Vrydag het Sipho Ngwena, ’n woordvoerder van die NVG, aan Huisgenoot gesê hy kon steeds nie daarin slaag om genoeg inligting bymekaar te maak om te bepaal waarom ’n aansoek om uitlewering nog nie afgehandel is nie.

“Die probleem is dat minstens twee van die mense wat in die verlede met hierdie saak gewerk het, intussen afgetree het. Daar is dus baie navorsing om te doen,” verduidelik hy.

Op ’n vraag of die NVG dan dus so ’n aansoek sal oorweeg, het hy geantwoord: “Dit alles hang af van die inligting wat ons bymekaar kry. Ons moet eers bepaal waarom daar nog nie ’n aansoek gebring is nie – die rede hiervoor kan wees dat daar destyds besluit is om nie met die aansoek voort te gaan nie, wat ek nie kan voorhou as ’n feit nie, maar dit sal die NVG se volgende stappe bepaal.”

In 2017 het Prinsloo in briewe aan Suid-Afrika, wat Netwerk24 bekom het, beweer dat hy teen daardie tyd al verskeie kere “geëis” het om aan Suid-Afrika uitgelewer te word. Destyds het hy gesê sy situasie in Belarus is “onuithoudbaar”. Hy het ook nes destyds volgehou dat hy onskuldig is oor die aanklagte teen hom in Suid-Afrika.

“Ek was eens ’n bekende en suksesvolle advokaat, maar, weens aanhoudende media- en staatsvervolging teen my, het ek alles verloor,” het hy in een van die briewe geskryf. “Ek is onregverdiglik skuldig bevind en in ’n Belarussiese tronk gegooi.”

Cézanne Visser  en Dirk Prinsloo op 10 Mei 2002 by
Cézanne Visser en Dirk Prinsloo op 10 Mei 2002 by die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Gallo Images/Cornel van Heerden

Destyds het die verhoor teen Cézanne sonder Prinsloo voortgegaan. Sy is in 2010 tot sewe jaar tronkstraf gevonnis nadat sy op 11 aanklagte skuldig bevind is waaronder onsedelike aanranding op kinderhuiskinders. Sy is in 2013 op parool vrygelaat, wat intussen ook uitgedien is.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe