Leah neem die leisels oor by Minki, wat die reeks vir twee seisoene aangebied het. Die Afrikaanse sangeres is die vyfde aanbieder van die reeks, wat in 2007 die eerste keer uitgesaai is.

Leah, wat al talle Huisgenoot Tempo-toekennings ingeoes het, is gewoond aan die kollig. Sy sing nie net verhoë aan die brand nie. Sy is deesdae ook aktrise en is volgende maand te sien in die nuwe kykNET-fliek Susters saam met Diaan Lawrenson en Quanita Adams.

Leah gaan die nuwe reeks se boere help liefde vind. Foto: Willem Botha, WiB Creations

Vir Leah is ’n droom verwesenlik met dié dat sy nou die pasmaatprogram Boer Soek 'n Vrou gaan aanbied. "Ek weet ek het groot skoene om vol te staan, maar ek is nie bang vir ’n uitdaging (of vir ’n bees, skaap of boer) nie!" sê sy luidens ’n verklaring.

Ook Minki is opgewonde oor Leah nou by die Boer Soek ’n Vrou-familie aansluit. "Deelnemers en kykers gaan beslis aanklank vind by Leah, want sy is opreg en gaan sonder twyfel diep in almal se hart inkruip," sê Minki, wat tans swanger is met haar derde kind.

Die geliefde Minki verdwyn darem nie heeltemal van die kassie nie. Sy is steeds ’n veldaanbieder op Kwêla.

Die 11de seisoen van Boer Soek ’n Vrou begin in Oktober.

Boere wat weer pasmaats op die kassie wil soek, moet spring. Inskrywings sluit op 9 Februarie. Dié wat wil inskryf kan kyknet.tv besoek of die vervaardiger, Marche Media, by 079-335-5137 kontak of e-pos stuur na boer@marche.media