Raven, oorspronklik van King William’s Town in die Oos-Kaap, en Michael het tot hier gevorder deur Jamie Murray (Brittanje, Andy se ouboet) en Bruno Soares (Brasilië) in 'n epiese stryd met 6-7, 7-6, 5-7, 7-6, 6-4 te verslaan.

So het die 35-jarige Suid-Afrikaner sy vorige beste Wimbledon-resultaat geëwenaar – hy het ook voorverlede jaar daar na die halfeindronde deurgedring met Rajeev Ram as sy dubbelsmaat.

'n Ander groot hoogtepunt in die SA veteraan se loopbaan was toe hy in 2014 saam met Eric Butorac die eindronde van die Australiese Ope gehaal het.

Dis bloot konsekwente harde werk wat Raven nou ook weer saam met Michael – hulle het maar begin vanjaar kragte begin saamspan – by Wimbledon laat skitter, vertel Gielie Hoffmann, 'n sportsielkundige en lewensafrigter, aan Huisgenoot. Hy het sowat agt jaar gelede saam met Raven begin werk.

"Raven is een van daardie spelers wat later in sy lewe sy deurbraak na die topvlak gemaak het. Hy het jaar ná jaar aangehou, toe hy nog nie juis geld gemaak het nie, en groot opofferings gemaak. Hy word vanjaar 36, maar bly ongelooflik gemotiveer en speel in dié stadium van die beste tennis van sy lewe," sê Gielie.

Ander spelers sou dalk al die pas begin markeer het, "maar hy’s nog bereid om die werk te doen."

Die lenige Suid-Afrikaner "is 'n baie gemaklike, gemoedelike en oopkop ou wat altyd bereid is om nuwe goed te probeer en aanpassings te maak. En ek noem hom ook Mnr. Goeie Maniere… he’s never too big for the small moment".

Deurdat albei sy trotse onnie-ouers, Japie en Yvonne, kranige tennisspelers was – asook 'n paar van sy oupas en oumas – is Raven as't ware met 'n raket in die wieg gelê. Hy het self vertel hy het al op ses begin tennis speel.

Vandag spog die beskeie sportman, wat in 2002 'n beroepspeler geword het en ook af en toe 'n potjie gholf geniet, met 14 ATP-titels.

Ekstra bronne: atp.com, espn.com, wimbledon.com