Toe dié voormalige grootbaas van Sotheby’s International Realty Donderdagoggend in hof een verskyn het sodat die vonnisverigtinge kon voortgaan, was dit nie lank nie of sy regsverteenwoordiger, adv. Graham van der Spuy en regter Gayaat Salie-Hlophe het vasgesit oor die getuienis van die psigiater dr. Kevin Stoloff.

Volgens die regter het Stoloff reeds aan die begin van die jaar getuienis oor Rohde se ineenstorting voor die hof gedien.

Maar Van der Spuy het aangevoer hy wou met sy ondervraging van Stoloff die punt probeer maak dat Jason voortdurend saamgewerk het en nie aspris die hofverrigtinge wou vertraag nie.

Salie-Hlophe, wat al voorheen in die verhoor met Van der Spuy oor verskeie aspekte verskil het, het in 'n onverwagte wending die hof verdaag en vir Van der Spuy gesê om met sy kollega, Tony Mostert te konsulteer en na te dink oor hoe hy met haar (Salie-Hlophe) in die hof praat.

Jason Rohde en sy vrou se moord
  • Rohde is op 8 November vanjaar skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Susan Rohde.
  • Sy is in Julie 2016 dood aangetref agter die badkamerdeur van hul hotelkamer by die Spier-landgoed buite Stellenbosch.
  • Susan het saam met Jason, Sotheby’s se jaarlikse konferensie bygewoon.
  • Jason het aangevoer Susan het haar eie lewe geneem deur haarself met die koord van haar haartang op te hang maar die hof het bevind Jason het haar verwurg en met ’n kussing versmoor waarna hy haar na die badkamer gesleep het sodat dit lyk asof sy haar eie lewe geneem het.

Die hofverrigtinge het eindelik eers weer ná middagete voortgegaan.

Toe Salie-Hlophe haar opsomming van die oggend se gebeure voorlees, wou Van der Spuy daarop reageer. Die regter, met haar lang swart hare, wou egter niks hiervan weet nie en het vir Van der Spuy gesê hy kan dit later in sy slotbetoë aanspreek.

Van der Spuy het voorgegaan om vir Stoloff uit te vra oor Jason se gemoedstoestand.

Berou

Tydens kruisondervraging deur adv. Louis van Niekerk het Stoloff gesê Jason het berou oor hoe sy dade tot sy vrou se dood bygedra het.

“Dit is regtig aaklig wat in hul verhouding gebeur het, maar dit maak nie van Jason Rohde ’n moordenaar nie,” het hy duidelik ontsteld gesê, voor hy die hof verlaat het.

Later die middag, net na 15:00, het Van der Spuy gesê hy wil Jason se oudste dogter, Kate Rohde, roep om te getuig. Hy het egter gevra dat haar getuienis nie uitgesaai of oor berig word nie.

Volgens ’n hofbevel mag die media nie foto’s van die Rohde-dogters in die hof neem nie en hul getuienis mag ook nie uitgesaai word nie.


Salie-Hlophe het beslis dat Kate se getuienis wel uitgesaai mag word, maar dat sy nie afgeneem mag word nie. Sy het gesê die kamera’s kan op enige ander plek in die hof gerig word.

'n Angsbevange getuie

Die atmosfeer in die hof was gelaai en almal het asem opgehou toe die modelmooi Kate by die hof instap.

Die 20-jarige Kate het met groot oë in die beskuldigde bank gaan staan. Geklee in ’n liggrys rok en haar hare in ’n sagte vlegsel het sy gestaan en rondkyk. Jason was duidelik emosioneel terwyl hy na sy dogter gekyk het.

Maar net nadat sy ingesweer is om te getuig, het Kate volgens Van der Spuy aangedui dat sy nie meer wil getuig nie. Die hof het vir ’n paar minute verdaag sodat Jason se regspan met haar kon gesels.

Tyd het die hofverrigtinge egter ingehaal en Van der Spuy het gevra dat Kate eerder haar getuienis kan heroorweeg en volgende jaar geroep kan word.

Hy het kort daarna weer aansoek gedoen om borgtog sodat Jason tydens die feestyd saam met sy dogters kon wees.

“Hy is nie ’n vlugrisiko nie en het al sy borgvoorwaardes voorheen nagekom,” sê Van der Spuy.

Die regter het egter nie dié aansoek toegestaan nie en die saak is uitgestel tot volgende jaar.

Op 18 Februarie 2019 sal Jason Rohde weer in die hofverskyn, waarna die vonnisverrigtinge weer sal voortgaan.