’n Ouer het op ’n Wiskunde Gr. 4 WhatsApp-groepie ’n kaalborsfoto van haarself gedeel. Volgens ’n ander mamma wat ook in die groepie is, het die insident reeds agt maande gelede gebeur, maar iemand het die foto onlangs in die sosiale media gedeel

So hoe gemaak as jy ’n boodskap aan die verkeerde persoon stuur?

WhatsApp het in November 2017 ’n nuwe funksie bekendgestel en elke gebruiker sal in die wolke wees – jy kan nou jou boodskappe herroep. 

Met meer as 1 biljoen gebruikers wêreldwyd moet WhatsApp voortdurend op die hoogte van sake wees om relevant te bly. Sedert Facebook dié app vir ’n allemintige R256 biljoen gekoop het, is dit egter nie ’n probleem nie.

Die "Delete for everyone"-funksie sal enige boodskappe wat per ongeluk gestuur is, uit die stuurder en ontvanger se gesprek verwyder, solank jy dit binne 7 minute doen. 

Jy kan selfs foto’s, GIF’s en video’s herroep, maar as jy daardie afsnypunt van 7 minute misloop, sal jou boodskap bly. 

En al het die persoon reeds die boodskap gesien en jy verwyder dit binne 7 minute, sal die boodskap steeds verdwyn.  

Hoe om die nuwe funksie te kry en te gebruik:

  • Maak seker jy het die nuwe weergawe van WhatsApp. Die ontvanger moet ook die nuwe weergawe hê om die funksie te laat werk.
  • Klik op die boodskap wat jy wil uitvee.
  • Klik op die uitvee-opsie boaan die skerm.
  • Die "Delete for everyone"-opsie sal nou verskyn.

Ons is seker die nuwe herroep-kenmerk sal met ope arms verwelkom word!

Bronne: Gadgets.ndtv.comIndependant.co.uk