Wandel jy op die kampus van die Stanford-universiteit met sy pragtig gesnoeide palmbome, dakke met Spaanse teëls en netjies versorgde grasperke, sal jy vergewe word as jy dink jy het ’n verkeerde afdraai na Club Med se eerste voorstedelike oord geneem. Maar moenie ’n fout maak nie; die plek is die ene besigheid.

Stanford lê genestel tussen golwende heuwels en onopvallende kantoorparke in Palo Alto, een van die duurste plekke in Amerika se Silicon Valley, en is die teelaarde van groot tegnologie.

Dit is die beginpunt van die volgende Groot Ding. Hewlett Packard, LinkedIn en Instagram, om maar ’n paar te noem, is deur oudstudente op die been gebring. Google, wat Larry Page en Sergey Brin hier as ’n studenteprojek begin het, is nou die grootste maatskappy ter wêreld naas Apple, wat net ’n entjie straataf is.

Stanford se posisie as die kloppende hart van Silicon Valley se toekomsmasjien is geen toeval nie. Die universiteit meng akademie met vurige kapitalisme. Professore, dikwels self tegnomagnate, belê in studente se beginondernemings. Tieners skop op by die instelling waar jy sowat R540 000 per jaar vir jou studie betaal om ondernemings te stig wat hulle meen dalk net die wêreld kan verander.

Die laaste keer dat dit gebeur het, was in 2011 toe Evan Spiegel en ’n paar van sy “broers” van sy studentevereniging ’n seksboodskap-app begin. Hulle het dit later Snapchat genoem. Die hele verhaal sedert hulle die eerste keer die idee gekry het vir ’n app waarmee jy gewaagde foto’s kan stuur wat ná ’n paar sekondes vanself tot niet gaan, het stof vir ’n Silicon Valley-legende geword.

As jy ouer as 30 is, het jy dalk nog nooit Snapchat gebruik nie en sal jy ook nie weet hoe wanneer jy probeer nie. Maar as jy kinders ouer as 11 het, is hulle waarskynlik obsessief daaroor. Sowat 178 miljoen mense wêreldwyd gebruik daagliks die app, maar die aanhangers is jonk. Volgens onlangse data besoek gebruikers van 24 en jonger dit sowat 18 keer per dag.

Die Facebook-stigter Mark Zuckerberg wou dit vir biljoene koop. Evan, toe 23 jaar oud, het dit van die hand gewys.
Justin Bieber.
Ariana Grande.
Gigi Hadid.
Kim Kardashian.
Selena Gomez.
Zendaya.

Hulle gebruik dit om selfies te stuur waarop honde-ore ingevoeg is of om kort video’s te deel wat hulle kan stel om ná enigiets van een tot 10 sekondes vanself te vernietig of aaneenlopend te speel. Snapchat het selfs meer daaglikse gebruikers as Twitter en verkonding trots dat dit die teenvoeter vir Facebook is: Dit is die plek aanlyn waar jou ouers nie is nie en ook nooit sal wees nie.

Evan, wat eenkeer die “broers” in sy manstudentevereniging in ’n e-pos aangesê het “f*** bitches, get leid [sic]”, is ’n biljoenêr. Die 27-jarige ry in ’n sportnutsvoertuig met donker ruite, en weerskante ry altyd gewapende sekuriteitswagte.

Die media en advertensiereuse wat desperaat is om hul produkte onder die aandag van tieners en iets-in-die-20’s te kry, aanbid die grond waarop hy loop. Evan beskou homself as die troonopvolger van die Apple-ghoeroe Steve Jobs, van wie ’n portret voorheen in sy kantoor gehang het. Hy is ook mnr. Miranda Kerr met dié dat hy verlede jaar met die Australiese supermodel getrou het.

Die klein plegtigheid was in die agterplaas van hul huis van R141 miljoen in die styl van ’n Amerikaanse plaasopstal in Brentwood, Kalifornië. Dié imposante woonplek het voorheen aan die akteur Harrison Ford behoort.

Tog was sy paadjie tot aan die bopunt van die tegnologieleer net so omstrede soos wat dit onwaarskynlik was.

In ’n nuwe boek, How to Turn Down a Billion Dollars, gee Billy Gallagher, ’n tydgenoot van Evan by Stanford, insig in ’n meteoriese opgang wat ’n ooreenkoms met dié van Facebook toon. Dit is op meer as 200 onderhoude en sy eie eerstehandse ervaring as Evan se “broer” in hul studentevereniging gegrond.

En by sy storie sluit Billy ’n bitter hofsaak in van ’n uitgestote medestigter, jeugdige onbesonnenheid en naelbyt-opwinding namate die projek se gewildheid met rasse skrede toeneem – en lei tot aanmatiging, vernedering en, ironies genoeg, ’n sterverskyning deur die Facebook-stigter Mark Zuckerberg.

Destyds, toe dit in 2013 duidelik was Snapchat is besig om ’n merkwaardige verskynsel te word, het Mark aangebied om dit vir biljoene te koop. Evan, toe 23 jaar oud, het die aanbod van die hand gewys. Die episode het nie net die boek se titel geïnspireer nie, maar ook ’n groot getal rekenaarfoendi-aanhangers. Maar hoe het ’n ryk kind van Los Angeles die heerser van tieners se gunstelingkoninkryk geword?

Binne maande het 100 gebruikers honderdduisende geword.

Op ’n koue Januarie-oggend ontmoet ek Billy, wat die Evan-vertoning eerstehands aanskou het, om hom te vra. Hy studeer nou vir ’n M.B.A. Hy sit by ’n restaurant in die binnehof van Stanford se sakeskool ineengekrimp in sy pofbaadjie met ’n dag oue stoppelbaard en ’n lelike hoes aan suurlemoenwater en teug.

Ná al die jare probeer hy steeds begryp wat hy gadegeslaan het.

“Dit het gevoel of dit ’n gier was wat net hier by Stanford bestaan,” sê hy. “Iets soos: ‘O, ons vriend het die app gemaak, en dis verspot en prettig, en ons sal dit waarskynlik oor ’n paar maande uitwis.’ En toe is dit $800 miljoen (R9,6 biljoen)werd. Nou bied Facebook aan om dit te koop. En elke paar maande was dit net boem, boem, boem. Jy dink heeltyd: Sjoe, dis gek.”

So, hoe het Evan dit gedoen? Billy sê dit kom neer op sy gawe om te weet wat mense wil hê, ’n vaardigheid wat hy baie jare gelede geslyp het as uithaler-partytjie-aanbieder by sy Stanford-studentevereniging, Kappa Sigma.

Toe Billy in 2010 as eerstejaarstudent by Stanford aankom, was Evan reeds in sy derde jaar en welbekend. Kappa Sigma was op die punt om uit die kampus geskop te word, grootliks weens Evan.

“Evan was ’n groot teenwoordigheid,” sê Billy. “Hy is ’n windmaker. Hy wil dit altyd groter en beter en treffender doen. Dit was altyd meer, meer, meer.”

Billy het aan die Amerikaanse Weskus, dié plek as jy wil naam maak in tegnologie, opgedaag soos talle ander jong wit mans. Hy was vars uit die skool, die eksklusiewe Haverford School in Pennsilvanië aan die Ooskus, waar ouers R446 500 per jaar vir klasgeld opdok. Hy het nie ’n greintjie twyfel gehad oor die sukses wat op hom wag nie en het selfs ’n deeltydse pos as skrywer vir die nuuswebtuiste TechCrunch losgeslaan.

Dié was gretig vir binne-inligting oor die volgende Groot Ding wat uit die universiteit kom. Snapchat was ideaal. Dit was ’n ruwe, anderste app wat almal skynbaar gebruik het om vir mekaar foto’s te stuur van ouens wat in die klas aan die slaap raak, of dikwels veel gewaagder materiaal.

Die idee wat tot Snapchat gelei het, is die vorige jaar gebore. Dit was ’n lentedag in 2011 toe Reggie Brown, ’n “broer” van Evan, saam met vriende ’n zol rook en ’n vlaag inspirasie kry. Hy is haastig in die gang af na Evan se kamer toe.

“Ons moet ’n app maak wat uitwissende fotoboodskappe skep,” het hy uitgeblaker. Evan se gesig het verhelder. Hy het dit ’n “miljoendollar-idee” genoem.

Bobby Murphy (links), die Snapchat-medestigter, en Evan (middel) verlede jaar by die New Yorkse aandelebeurs.

Reggie se idee sou later R329 biljoen werd wees. Evan het bevoorreg grootgeword in Pacific Palisades, ’n strandgemeenskap van Los Angeles, as die seun van suksesvolle korporatiewe prokureurs. Hulle het hom na die Crossroads School for Arts and Sciences gestuur, ’n vooraanstaande privaat skool wat onder A-lyssterre soos Dustin Hoffman en Gwyneth Paltrow byval vind.

Toe hy by Stanford aankom, was hy van een ding seker: “Ek gaan nie vir iemand anders werk nie.”

Sy eerste onderneming, Future Freshman, was ’n databasis van universiteitsinligting vir voornemende studente. Maar dit het ’n reusehoeveelheid datavaslegging geverg. Gelukkig het Evan gratis arbeid gehad.

Soos by die meeste studenteverenigings moes aspirantlede – kandidate – ontgroeningsrituele deurmaak. Dié “doopproses” behels vernederende, soms gevaarlike, waagtoertjies en fuifdrinkery.

Evan was ’n geesdriftige ontgroener en het dikwels “inlywings” gereël. Eendag het hy hulle vir ’n ander doel bymekaargeroep. Hy het Future Freshman uitgestippel, die kandidate oor hul nuwe werk as datavasleggingsklerke ingelig en hulle toe gelos om die databasis te bou.

Hy was so in Snapchat verdiep dat hy ophou klasloop het. Hy het nie genoeg krediete gehad om sy graad te kry nie.

Billy vertel: “Hulle het by ’n vat oorskietbier saamgedrom, en terwyl die helfte gedrink en oor Evan gekla het, het die ander helfte gedrink en die werk gedoen.”

Future Freshman het misluk. Toe Reggie die volgende jaar met sy “miljoendollar-idee” vorendag kom, het Evan dit aangegryp. Maar as ’n ontwerpstudent het hy nie die tegnologiese kennis gehad om ’n app te skep nie. Hy het Bobby Murphy gewerf, ’n stil kodeerder wat ’n ruwe prototipe aanmekaargeslaan en dit Picaboo genoem het. Dit was ’n misoes.

Evan is nie van stryk gebring nie. Toe die universiteit vir die vakansie sluit, het Bobby, Evan en Reggie by Evan se pa se huis in Pacific Palisades ingetrek om hul app te ontwikkel. Evan was die dryfkrag en Bobby het die kode geskryf.

Reggie was ’n vyfde wiel aan die wa, maar hy het die nou beroemde spooklogo ontwerp en Picaboo se eerste persverklaring geskryf: “Watter vrou wil ooit hê iemand moet haar foto’s in die hande kry? Die jongste app vir iPhone, Picaboo, laat jou en jou kêrel foto’s stuur vir loer en nie vir hou nie.”

Die verklaring het die onderneming se beeld help vaslê as veral ’n seksboodskap-app, wat Evan gou sou probeer omkeer. Maar in die vroeë dae was hulle desperaat vir erkenning. In hul aanloop tot die bekendstelling daarvan in Apple se App Store in 2011 het Evan na bemarkingsmodus oorgeslaan.

Hy het foto’s van modelle in bikini’s by die skermgrepe vir Picaboo ingesluit. Dit het nie gehelp nie. Behalwe vriende en familie het niemand van die app geweet nie. Reggie het huis toe gevlieg na Suid-Carolina, waar hy die res van die somer deurgebring het. Die volgende maand het wrokkigheid oor sy werk en rol tydens ’n foonoproep oorgekook.

Teen daardie tyd was dit duidelik Snapchat boei jong mense se aandag op ’n manier wat Facebook nie kan regkry nie.
Die Face­book-stigter Mark Zuckerberg.

Evan het die foon doodgedruk en Reggie en Bobby gelos om te praat. Reggie was paranoïes daaroor dat hy op die punt was om uitgestoot te word en het gesê hy wil 30% van die maatskappy hê. Bobby het geantwoord: “Dit gaan nie gebeur nie.”

Dae later het Evan en Bobby die wagwoorde na Picaboo se stelsels verander. Reggie was uit. Kort ná die verbrokkeling het hulle Picaboo se naam na Snapchat verander nadat hulle ’n stakingsbrief van ’n fotomaatskappy met dieselfde naam ontvang het.

Vir Reggie was die vraag: Maak enigiets daarvan saak? Hul klein app het minder as 100 gebruikers gehad.

Toe hulle teruggaan universiteit toe vir wat Evan en Reggie se laaste jaar sou wees – Bobby het toe reeds graad gevang – het ál meer mense “Evan se app” afgelaai. Benewens Stanford was die eerste plek waar dit inslag gevind het ’n hoërskool 650 km verder suid, in Orange County.

Evan se ma het vir sy niggie daar van die app vertel en sy en haar vriende het dit begin gebruik. Binne maande het 100 gebruikers tienduisende geword, toe honderdduisende.

Billy vertel: “Ná ’n paar maande het ek net gesien al my vriende aan die Ooskus is skielik op Snapchat. Ons klein app by Stanford was skielik ’n veel groter ding. Dit was duiselingwekkend.”

Sake het vinnig verloop. In Junie 2012 het Evan tydens die gradeplegtigheid oor die verhoog gestap – en ’n leë lêer ontvang. Hy was so in Snapchat verdiep dat hy ophou klasloop het. Hy het nie genoeg krediete gehad om sy graad te kry nie. Hy en Bobby het na Suid-Kalifornië getrek en hulle in die maatskappy verdiep.

In Februarie 2013 het Reggie hulle gedagvaar. In die eis is beweer sy gewese vennote het hom “verraai” en uit die maatskappy verdryf waarvan hy die medestigter was.

Ná ’n jaar het Snapchat geskik. Reggie se uitbetaling was R1,5 biljoen vir wat op nege maande se deeltydse werk neergekom het. In ruil het hy ingestem tot ’n muilbandbevel wat hom verbied om daaroor te praat.

Die beproewing het Evan uitgebrand en hy het uit die kollig onttrek. Billy, wat verskeie kere met hom ’n onderhoud gevoer het, is uitgeskuif nadat hy oor Reggie se hofsaak geskryf het.

Onlangs het die aandeleprys in net een dag met 6% geval toe die werklikheidster Kylie Jenner twiet sy gebruik nie die app nie, want sy haat die nuwe ontwerp. Die twiet het sowat $1,3 biljoen van die maatskappy se markwaarde uitgewis.

Intussen het Snapchat van krag tot krag gegaan. Kort voor lank het nog ’n jong Turk kom aanklop. Mark Zuckerberg het Facebook toe net op die aandelemark noteer en was naarstig op soek na maniere om sy sakeryk uit te brei.

In November 2012 het hy aangebied om Snapchat vir $60 miljoen (toe sowat R516 miljoen) te koop, maar dit was nie ’n vriendelike aanbod nie: Hy het dit duidelik gemaak Facebook is dae daarvan weg om ’n nuwe kenmerk, bekend as Poke, in werking te stel wat presies doen wat Snapchat gedoen het: foto’s en video’s wat verdwyn.

“Die boodskap was duidelik: Sluit by ons aan of ons verpletter jou,” skryf Billy. Evan het die aanbod beleef van die hand gewys.

Poke was ’n flop. Mense het dit nie gebruik nie. Snapchat, daarenteen, het aangehou om tienmiljoene aanhangers te kry terwyl dit kenmerke bekendgestel het wat gewoonlik suksesvol was – soos om gebruikers foto- en videobrokkies in daaglikse “stories” te laat aanmekaarlas.

Mark het ’n laaste keer probeer. In November 2013 het hy ’n aanbod gemaak wat hy gedink het ’n uitklophou sou wees: $3 biljoen (toe sowat R30 biljoen). Evan het weer nee gesê. Teen daardie tyd was dit duidelik Snapchat boei jong mense se aandag op ’n manier wat Facebook nie kan regkry nie.

“Teen die tyd dat ek in my tweede jaar op universiteit was, het ek en my vriende gesê: ‘Ek wens daar was ’n knoppie waar ek net alles op Facebook kon uitvee.’ So baie van wat daarop was, was net ’n verleentheid,” sê Billy.

“Snapchat het die aanloklike gevoel van ‘ek kan plaas wat ek wil en dit sal weggaan’. ” Tog is Snapchat toe bloot as ’n seksboodskap-app beskou. Billy meen dit was deels omdat die meeste joernaliste te oud was om die app te verstaan.

Maar Evan se verlede het by hom kom spook. In 2014 is e-posse gepubliseer wat hy in sy partytjiejare gestuur het. Dit was aaklig. Hy het geskerts oor “vet meisies” wat met lasers geskiet word. Die episode het die indruk gewek dat Evan pleks van ’n visioenêr soos Steve bloot ’n prototipiese tegnobroer is.

“Ek het geen verskoning nie. Ek’s jammer,” het hy geskryf.

Evan is verlede jaar met die Australiese supermodel Miranda Kerr getroud.

“Dit weerspieël geensins wie ek vandag is of my beskouings jeens vroue nie.”

Minder as drie jaar ná sy openbare vernedering, op 2 Maart verlede jaar, het Evan en Bobby die klok gelui om verhandeling op die New Yorkse aandelebeurs te open. Snap Inc., soos die maatskappy hernoem is, het ’n uitstekende eerste dag as openbare maatskappy gehad. Sy aandeelprys het van $17 tot $24,48 per aandeel opgeskiet en hy is op $28 biljoen gewaardeer.

Danksy hul aandele was Evan en Bobby elk $5 biljoen werd.

Sedertdien het sake nie heeltemal so goed verloop nie. Nadat hy verskeie biljoene dollars van beleggers ingesamel het, is Evan onder druk om sy idee in ’n geldmaakmasjien te omskep. Dit word ál moeiliker, meen Billy, deels as gevolg van Evan self. Die maatskappy het tot byna 3 000 werknemers gegroei, maar hy vertrou net ’n klein binnekring.

Hy verkies om vergaderings te hou terwyl hy op die promenade stap, want teoreties is dit dan moeiliker vir mense om af te luister. In 2016 het die onderneming byna $900 000 (sowat R12,6 miljoen) aan sy persoonlike veiligheidsreëlings bestee, onder meer die genoemde gewapende wagte wat hom in sy sportnutsvoertig vergesel.

Op sy aandrang werk spanne in aparte geboue, dikwels onder streng opdrag om hul projekte van kollegas geheim te hou.

Dalk het dit deels met sy ou aartsvyand, Mark, te doen. So te sê elke kenmerk wat Evan bekendstel, word skaamteloos deur Facebook en sy foto-app, Instagram, nageboots. Die heersende grap is dat Evan Mark se hoof van navorsing en ontwikkeling is.

Sedert die dolle eerste dag van verhandeling het Snap Inc. se aandeleprys amper halveer. Onlangs het dit in net een dag met 6% geval toe die werklikheidster Kylie Jenner twiet sy gebruik nie die app nie, want sy haat die nuwe ontwerp. Die twiet het sowat $1,3 biljoen van die maatskappy se markwaarde uitgewis.

Maar dit lyk of Kylie sedertdien van die app se nuwe voorkoms begin hou het – sy het dit gebruik om ’n video van haar babadogter, Stormi, se voet te plaas.

Evan se uitdaging is duidelik: Omskep Snapchat in ’n advertensiekolos sonder om die bekoring uit te doof waaraan so baie jong mense verslaaf is. As hy dit regkry, kan hy dalk net aan skeptici bewys hy is ’n waardige opvolger vir sy held, Steve, en nie net ’n “studentebroer” wat dit gelukkig getref het nie.

“Dis Evan se vertoning,” sê Billy, en maak nie saak wat gebeur nie, “hy gaan beslis die opdragte uitdeel”.

© Danny Fortson/The Sunday Times Magazine/News Syndication; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Snapchat