Die wêreld was verstom toe die Britte in 2016 in ’n referendum stem om die Europese Unie (EU) te verlaat. Wil dié eilandnasie dan nou ’n ekonomiese eiland ook word? Skielik was die omstrede gonswoord “Brexit” op almal se lippe.

Maar hoe nader D-dag vir Brexit kom, hoe groter word die politieke gemors . . . Die onlangse bedanking van vyf Britse ministers laat Brexit eerder na ’n swaaideur vir politieke loopbane lyk as die poort na ’n nuwe era.

Hoekom? Want dit verg ingewikkelde onderhandelings om dekades se diplomatieke ooreenkomste met Europese lande ongedaan te maak – en ook om uit te werk waarmee dit vervang moet word.

Hoe meer die druk oplaai in die aanloop tot 29 Maart 2019 – die sperdatum vir Brittanje om die EU te verlaat – hoe meer gryp die Britte mekaar aan die keel. Want teen daardie tyd moet hulle ’n plan hê vir die lewe buite die EU.

En in hierdie stadium lyk dit asof Brittanje aan ’n Brexit-breinfloute ly. Onder die kabinetsministers van die regerende Konserwatiewe Party wat bedank het, was die minister van buitelandse sake, Boris Johnson – einste hy wat in 2016 die groot Brexit-kampvegter was. Nou moet die premier, Theresa May, die gemoedere kalmeer en die Brexit-sweep swaai.

Dit was juis danksy die belofte van Brexit dat May vir David Cameron as leier van die Konserwatiewe Party en Britse premier vervang het. In 2016 het hy toegegee aan druk om ’n referendum te hou oor ’n Britse uittog uit die EU – ’n skuif waarteen hy openlik gekant was. Toe die ja-stem wen, het hy bedank eerder as om Brexit self toe te pas.

Waarnemers meen May is heimlik ook maar louwarm oor Brexit. Maar hoekom die gemors? Wat beteken die nuwe gonswoorde “harde Brexit” en “sagte Brexit” en waarom jaag dit die Britte in twee kampe?

Kan May die volgende slagoffer van Brexit wees – en is dit regtig die einde van daardie ou politieke kalant, die eksentrieke en omstrede Boris Johnson?

Theresa May, Britse premier en volgens ­sommige die onwillige vroedvrou vir Brittanje se omstrede uittog uit die Europese Unie.

DIE HARDE PAD NA – EN NÁ – BREXIT

Die stryery gaan nou oor die boute en moere wat die Brexit-wa moet laat loop. Anders gestel, die land sit met die gevolge van die besluit om die EU te verlaat en moet nou dié plan laat werk.

Om 45 jaar se ingewikkelde verdrae en ooreenkomste – oor als van landboukwotas en immigrasiebeheer tot die landingsregte van vliegtuie – los te rafel en nuwe ooreenkomste in die plek daarvan te weef is ’n enorme taak.

En boonop een wat behels dat onderhandelaars deur ’n see van burokratiese rompslomp en vertragings moet waad.

Klink dit frustrerend en vervelig? Wel, ja – maar as dit nie reg gedoen word nie, kan Brittanje op ’n ekonomiese ramp afstuur. En hoe nader D-dag kom, hoe groter die druk en frustrasie.

G’n wonder May se eie Konserwatiewe parlementslede is so suur nie.

HARD OF SAG?

Dis die groot rede vir die konflik in May se kabinet. “Harde Brexit” beteken ’n algehele breuk met die EU en sy verdrae. “Sagte Brexit” beteken ’n gedeeltelike breuk, met ander woorde Brittanje behou sekere EU-voordele soos vrye handel.

Maar in die Brexit-referendum is kiesers nie gevra om een van hierdie twee opsies te kies nie. Hulle het bloot ja of nee gestem. En sonder ’n duidelike opdrag van die kiesers baklei die politici nou daaroor.

Groot vervaardigers soos Airbus, BMW en Jaguar Land Rover het die druk verhoog deur te dreig om hul fabrieke en beleggings uit Brittanje te neem as ’n harde Brexit realiseer.

Hulle sien nie kans vir die rompslomp van nuwe handelsvoorwaardes en doeanetariewe wat hul handel kan benadeel nie. As die vervaardigers hul dreigemente deurvoer, kan die Britse ekonomie – no. 5 in die wêreld – vinnig in duie stort.

DRAMA IN DIE KABINET

Twee jaar lank het May haar nie verbind tot hard of sag nie. Tog moes sy onlangs, onder druk van die naderende spertyd, haar keuse uitstippel. Maar eers het sy haar kabinet berispe. Hou op om julle soos kinders te gedra, het sy gesê.

Daarna het sy summier haar Brexit-bloudruk voorgelê en geëis dat hulle dit steun. Dit was toe die sagte Brexit-opsie – vermoedelik onder druk van die groot vervaardigers.

Die geswore kampvegters vir ’n harde Brexit was woedend. Onder die vyf “harde Brexiete” wat bedank het, was Johnson en die Brexit-minister, David Davis (69).

Dit was sedert 2016 Davis se werk om toe te sien dat Brexit reg verloop; daarom skep sy bedanking nou ’n leemte.

Johnson, die voormalige burgemeester van Londen, was een van die mees uitgesproke kampvegters vir ’n harde Brexit. In 2016 het hy baie kiesersteun vir Brexit gewerf.

Hy kan dit moeilik maak vir May om ’n sagte Brexit deurgevoer te kry, en dit kan haar op die lang duur baie politieke steun kos.

In ’n brief waarin hy sy bedanking verduidelik, sê Johnson die “Brexit-droom is aan die sterf”, en May se bloudruk sal van Brittanje ’n “EU-kolonie” maak.

Maar May hou voet by stuk. In ’n onlangse toespraak in die Britse parlement het sy gesê sy werk nou “met die praktiese gevolge van Brexit . . . nie met die droom nie”.

GLO MAY IN WAT SY MOET DOEN?

Die premier was ten tyde van die referendum in 2016 gekant teen Brexit, nes Cameron. Maar ná sy bedanking het sy tog die hoogste politieke pos in die land aanvaar – en daarmee saam die kiesers se opdrag om Brexit te laat gebeur. Beteken dit sy is sedertdien geesdriftig oor Brexit?

Die “Brexiete” is glad nie daarvan oortuig nie. Hulle het haar “Maybot” gedoop omdat sy soos ’n robot klink wanneer sy oor Brexit praat.

EN WAT VAN OU BORIS?

Die vraag is nou of die ambisieuse Boris Johnson die Brexit-kwessie gaan gebruik om May uit die premierskantoor te kry. Hy is destyds as joernalis by The Times afgedank omdat hy aanhalings in stories uit sy duim gesuig het.

Die ambiseuse oudburgemeester van Londen Boris Johnson het dalk steeds sy oog op die Britse toppos.

Toe word hy ’n politikus. In 2001 het hy ’n parlementslid geword voor hy in 2008 vir twee termyne die burgemeester van Londen geword het. As burgemeester is hy as progressief beskou.

Maar toe hy in 2016 na die parlement terugkeer, het hy baie waarnemers onkant betrap deur die uitgesproke kampvegter vir Brexit te word.

Met sy aweregse charisma en slag met woorde het hy baie kiesersteun vir Brexit gewerf. As minister van buitelandse sake het hy egter soos ’n wafferse Britse Donald Trump die vreeslikste goed kwytgeraak.

In 2016 het hy opslae gemaak toe hy na Afrika as “daardie land” verwys. En verlede jaar is hy wyd gekritiseer toe hy gesê het die Libiese stad Sirte het ’n blink toekoms as ’n luukse toeristeoord – “mits hulle net eers van die lyke ontslae raak”.

Sommige politieke waarnemers meen Johnson se Brexit-steun en uitlatings is ’n poging om die onlangse golf van nasionalisme in Europa en Brittanje tot in die premierskantoor te ry. Dalk word die blondekop-grootbek nog ná Brexit die nuwe Britse baas. 

Brexit in syfers
45: Soveel jaar was Brittanje lid van die Europese Unie (EU).

45%: Die persentasie Britse uitvoer­produkte wat deur die EU gekoop word.

£40 miljard: Die finale bedrag wat Brittanje vermoedelik sal moet betaal om die “egskeiding” te bekragtig. 

2,3 m: Die getal Europeërs wat in Brittanje werk. 

30: Die getal parlemente binne die EU met wie Brittanje nuwe ooreenkomste moet beding weens Brexit.
Foto's: Gallo Image/Getty Images, AAI/Fotostock SA

Bronne: Guardian.co.uk, Reuters.com, Newyorker.com, Independent.co.uk, BBC.co.uk, TheJournal.ie