En dan is daar die ewige stryd teen miere in jou huis. 

En tog, glo dit of nie: Natuurkenners is toenemend bekommerd oor te min insekte in die wêreld. 

Volgens onlangse navorsing neem die insekbevolking in die Noordelike Halfrond gevaarlik vinnig af. As dit so voortgaan, kan talle van die “goeie” insekte binne die volgende 100 jaar uitsterf en net die nare peste oorbly. Wetenskap­likes waarsku reeds teen die gevare van ’n “insek-Armageddon”, sou dit gebeur. 

Is dit werklik ’n probleem?

wurm,insek,gogga
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die gevolgtrekking in ’n oorsigtelike verslag van 73 studies oor insekgetalle wys tot 40% van die wêreld se insekte kan binne die volgende paar dekades uitsterf. Die verslag is in Januarie vanjaar in die gesaghebbende Elsevier-wetenskaps­joernaal gepubliseer.

In een van die studies, wat in 2017 in Duitsland se nasionale parke gedoen is, is bevind die diversiteit van vlieënde insekte daar het in 25 jaar met 75% afgeneem. 

Volgens navorsing in Amerika het die bevolking van monargskoenlappers in dié land die afgelope 20 jaar met 90% verminder en dié van hommelbye met 87%. 

En tydens ’n onlangse studie in ’n reënwoud in Puerto Rico kon slegs ’n 60ste van die insekte van 40 jaar gelede gevang word. Die enigste langtermynstudie in Afrika wat in die verslag ingesluit is, was Suid-Afrikaanse navorsing oor naaldekokers.

“Dié studie toon ’n afname in die diversiteit van naaldekokers in ’n spesifieke gebied in die Wes-Kaap. Uit 155 spesies het vier reeds uitgesterf en 13 se getalle neem drasties af,” sê prof. Chris Weldon, ’n entomoloog aan die Universiteit van Pretoria (UP). 

Hy verduidelik die verslag wys sake is selfs benarder as wat insekkundiges vermoed het. “Ek was geskok oor die Elsevier-verslag; ek het nie gedink dis so erg nie. Dit fokus op die Noordelike Halfrond, maar ons weet nie wat in die Suidelike Halfrond aan die gebeur is nie.” 

Volgens Chris is daar ook insekspesies in Suid-Afrika wat bedreig word, soos die Brenton-bloutjieskoenlapper wat net in ’n klein reservaat by Knysna en die Krans-bergweduwee-skoenlapper wat net in die Waterberge voorkom.

“My grootste bekommernis is ons weet nie hoe groot die probleem is nie. Ons het nie genoeg entomoloë wat insek­diversiteit navors nie.”

Hy sê die meeste navorsing word gedoen met die doel om peste te bekamp, maar verduidelik die ironie is dat insekpeste juis floreer. “Insekdoders maak die ‘goeie’ goggas dood en ná ’n ruk word die peste immuun daarteen.”

Chris verduidelik ’n pes is ’n gogga wat vir die mens ’n gesondheidsrisiko inhou, wat byvoorbeeld die struktuur van geboue takel.

Hy sê peste raak ook bestand teen gif en het nie ’n konstruktiewe rol wat hulle in die ekostelsel speel nie. Goeie insekte het ’n bepaalde doel en teer nie bloot op ’n plant of ander insekte nie.

Hy sê ’n voorbeeld van ’n “goeie” gogga is ’n sekere plaaslike perdebyspesie wat luise en ander peste op plante vreet, maar die gifstowwe wat gebruik word om die luise en ander peste dood te maak, kan ook dié perdebye doodmaak. 

As die perdebye doodgaan en dit die natuurlike ekostelsel versteur, kan die luise die oorhand kry. Dis ’n bose kringloop, want dan is daar byna niks wat die luise in toom hou behalwe gifstowwe nie.

Dr. Hannelie Human, ook ’n entomoloog aan die UP, sê kommer heers veral oor heuningbye, wat noodsaaklik is vir die bestuiwing van blomme en voedselproduserende plante.

“’n Heuningby­studie oor vyf jaar wat gefokus het op die verliese van heuningbykorwe wat in ons land bestuur word, het getoon heuningbykolonies het met 48% verminder. 

“Ons moet ook bekommerd wees oor die afname in ander insekte wat belangrike funksies in die natuur verrig, ­byvoorbeeld motte, sekere skoenlappers en miskruiers, om net ’n paar te noem.

“Mense dink net bye bestuif plante, maar vlieë, skoenlappers, motte, miere, muskiete en perdebye kan ook bestuif.” 

Waarom verminder insekte?

blom,insek,plant,diere
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Volgens die Wits-entomoloog prof. Marcus Byrne kan verskeie faktore ’n rol speel, onder meer die versteuring van hul natuur­like habitat weens menslike bedrywighede, besoedeling, die gebruik van insekdoders, die toename in uitheemse insekte wat ons insekte uitroei, uitheemse plante wat ’n minder geskikte habitat vir hulle skep en klimaatsverandering.

Eksperimente deur Wits het bewys hoër vlakke koolsuurgas in die grond maak miskruiers kleiner en verminder hul vermoë om voort te plant, sê hy. 

Hannelie sê in die Chinese provinsie Sichuan moet boere peerbome met die hand bestuif omdat insekdoders bestuiwende insekte daar uitgewis het.

Party insekdoders bly in die omgewing agter en bou op in heuningkorwe, wat die bye kan laat doodgaan. 

Prof. Kerstin Krüger, nog ’n entomoloog van die UP, sê wetenskaplikes vermoed ligbesoedeling kan naginsekte uitwis. “Party maak staat op die maan en sterre om hulle te oriënteer. Kunsmatige lig wat insekte lok, kan daartoe bydra dat insekte soos motte verward raak en later van uitputting doodgaan.”

Wat sal die uitwerking van te min insekte op die aarde wees?

vlieg,muskiet,dier,omgewing
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Aan die ander kant van ’n ware “insek-­Armageddon” kan ’n wêreld wag sonder genoeg vrugte en groente, een waarin dooie materiaal nie behoorlik ontbind nie. Dit beteken ’n tekort aan kos en hou gesondheidsgevare in.

“Ons voedselsekuriteit is in gedrang as daar minder insekte is wat bestuif,” sê Hannelie.

Die ergste moontlike scenario?

“Ons sal sonder dié insekte net ’n kwart van die groente- en vrugtesoorte beskikbaar hê wat nou in ons land is. Net plante wat deur windbestuiwing bestuif word, sal voortbestaan. Dit beteken ons sal van graan moet leef.”

Die deursneemens dink nie aldag aan die rol wat insekte speel in die natuurlike prosesse wat vir kos op die tafel sorg nie. Hannelie sê insekte is nodig om talle kosse te verseker, soos piesangs, appels, pere, kersies, papajas, bessies, perskes, uie, verskeie neute, avokado’s, komkommers, tamaties, pampoene en kool – selfs suikerriet, koffie en sjokolade. 

As daar nie genoeg insekte op die aarde is nie, sal dié plantkosbronne verminder of verdwyn. 

Ook insekte wat dooie materiaal laat ontbind, is van kritieke belang vir volhoubare lewe op aarde, sê Chris. Gediertes soos besies, miskruiers en wurms is dalk minder gelief, maar sonder hulle sal alle plante, diere en mense wat sterf baie langer neem om te ontbind. 

“Die ontbindingsproses gaan dan baie, baie langer duur, want bakterieë en fungusse sal dit moet doen. Dit sal wees soos om riool oral om jou te hê. Dit hou ’n gesondheids­gevaar in en siektes sal toeneem, veral bakteriële siektes,” sê hy.

“Sonder insekte sal daar ook nie soveel voedingstowwe in die grond wees nie, wat plantegroei nadelig sal beïnvloed. Voedsel­sekuriteit word dan bedreig.”

Marcus beaam dit en sê hy is veral bekommerd oor die miskruierbevolking wat verminder. “Miskruiers verwyder nie net mis nie; hulle maak ook seker daar is genoeg lug in die grond sodat water opgeneem kan word. Hulle is nodig om ons grond gesond te hou, en dis immers grond wat alle lewe op aarde voed.”

Wat kan jy doen?

dier,insek,gogga
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Hou op om so mildelik insekdoder in jou huis en tuin te spuit,” maan Chris. “As die insek nie gevaarlik of nadelig vir jou gesondheid is nie of nie die struktuur van jou huis kan verswak nie, hoekom wil jy dit doodmaak?” 

Mense moet onderskei tussen goggas wat hulle bloot irriteer soos miere, kakkerlakke, spinnekoppe en vlieë en dié wat regtig ’n pes is. 

“As daar miere in jou huis is, soek hulle water of hulle word deur kos gelok. Dieselfde geld vir kakkerlakke. Maak eerder seker die oorsaak word verwyder,” sê hy. 

Die natuurliefhebber Dave Pepler sê as jou huis skoon is, behoort die meeste insekte buite te bly. “Gooi net die dingetjie buite. Ons moet groter respek vir die klein insekte hê.”

Hannelie beaam dit: “As jy insekdoder op ’n oppervlak spuit, maak jy nie net die spinnekop dood waarna jy gemik het nie; jy maak ook die miere dood wat hom eet en die geitjie wat oor die gebied loop.” 

Selfs muskiete moenie net vrekgemaak word nie, meen Chris. “Muskiete is die kos van ander reptiele wat weer op hul beurt in ons ekostelsel belangrik is.” 

Vermy insekdoders wat jy in ’n kragprop indruk, sê Hannelie. “Dié toestelle is on­skadelik vir mense omdat die dosis baie laag is, maar dit maak alle goggas voor die voet dood, nie net die peste nie.” 

Watter stappe kan die wêreld doen om te sorg dat daar op die lang duur nie op groot skaal skade gaan wees nie?

Jan Alleman en nywerhede moet uitlaat­gasse verminder. Almal moet herwin. Gebruik minder gifstowwe, want peste raak immuun.

Waardeer insekte en vind natuurlike maniere om hulle te hanteer pleks van gif te spuit. 

Help die goeie goggas bewaar

Kenners gee die volgende wenke oor wat jy nog kan doen:

  • Plant inheemse plante in jou tuin.
  • Plant plante wat nektar aan bye en skoenlappers verskaf. Enige plant met stuifmeel en ’n soet reuk lok bestuiwers. Goeie voorbeelde hiervan is roosmaryn, aalwyne, laventel, vrugtebome, kareebome, doringbome, vygies, 
    lelies, kruisement en aarbeie. 
  • Laat jou tuin natuurliker groei en moenie heeltyd alles netjies snoei en 
    al die blare en dooie plantmateriaal ver­wyder nie. Laat dit ’n natuurlike ­deklaag vorm waar goggas gelukkig kan 
    leef.
  • Skakel snags net die nodige ligte aan om ligbesoedeling te verminder.
  • Maak jou kinders lief vir goggas deur ’n goeie voorbeeld te stel en self dié klein gediertes te waardeer. Laat hulle sywurms aanhou, wys hulle die erdwurm in die tuin of die spinnekop in sy fraai web. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!