Die gesig van die tweejarige meisie van Honduras is vertrek van angs, en die trane maak stofstrepe oor haar wange. In haar pienk truitjie en skoene kyk sy hulpeloos toe hoe ’n groot, fris geboude Amerikaanse grenswag haar ma in hegtenis neem.

Dié hartverskeurende toneel aan Amerika se grens met Mexiko is net een van talle soortgelykes wat die wêreld die laaste tyd aan die hart geruk het.

Met verontwaardiging vra mense oor die wêreld heen nou: Hoe gebeur sulke dinge in Amerika, ’n land wat hom roem op sy demokratiese beginsels en tradisie van immigrante wat die groot Amerikaanse droom met sukses najaag?

Die ouers wat van hul kinders weggevat en in die tronk gesmyt word, is tegnies onwettige immigrante, maar is dit werklik ’n misdaad om ’n beter lewe vir jou kinders te soek?

Die anhoudingsentrums vir die kinders lyk soos hokke. Dit is die wrede werklikheid. En dit gebeur op bevel van pres. Donald Trump.

Voorheen sou ouers en kinders saam aangehou word terwyl hulle wag vir hul asielverhoor. Maar Trump se nuwe regulasies vereis dat volwassenes dadelik tronk toe gaan en dat hul kinders afsonderlik in staatsorg gehou word tot tyd en wyl oor asiel besluit is.

Yanela Sanchez en haar ma, Sandra, se reis van Honduras en deur Mexico, was vol gevare en ontbering. Oplaas, ná weke op die pad, was daar een laaste hindernis vir hulle en ander hoopvolle migrante: ’n nagtelike vaart op ’n vlot oor die Rio Grande-rivier wat Mexiko van Amerika skei.

Pres. Donald Trump se “hartelose” immigrasiebeleid het hom in die pekel laat beland. Foto: Gallo Images/Reuters

Maar die oomblik toe hulle voet aan wal sit in Texas het die verskuilde grenswagte agter die bome uitgekom.

Die bekroonde fotograaf John Moore was dié keer saam met die grenswagte en het elke oomblik van wat volgende gebeur het, met sy kamera verewig. John, ’n fotograaf wat al oorloë deur sy lens beleef het, vertel dié toneel was een van die moeilikste van sy loopbaan.

Dit was traumaties om te luister hoe die kind paniekbevange na haar ma roep. “Ek wou haar huil stilmaak. Die ma het gelate gestaan terwyl sy deursoek is en die meisietjie het gehuil.

Sy moes by haar ma gewees het.” Die foto van die huilende klein Yanela het gou ikonies geword, die simbool van die ongeregtigheid van Trump se “geen verdraagsaamheid”-beleid jeens onwettige immigrante.

Die tydskrif Time het ’n treffende voorblad van Yanela en Trump geskep.

En dis ook danksy dié foto dat Trump dit ná net ’n paar weke moes laat vaar. Intussen het haar pa, Dennis Javier Varela Hernandez, uit Honduras aan die tydskrif Time gesê hy het verneem Yanela en haar ma is nie van mekaar geskei soos Moore en die wêreld glo nie.

Volgens sy inligting is hulle saam in ’n aanhoudingsentrum in Texas. Maar hy is nogtans trots Yanela het die simbool van ’n stryd teen ongeregtigheid geword. “Meer as 2 000 ander kinders was nie so gelukkig nie. Hulle is van hul ouers af weggeskeur...

Ek is trots daarop dat my dogter die gesig van die migrasie-kwessie geword het,” sê Dennis, wat gekies het om in Honduras agter te bly.

“Ek hoop Trump sal in sy eie hart kyk en dat die Amerikaanse owerheid asiel aan my vrou en kind sal toestaan.” In die ses weke dat Trump se omstrede migrasiebeleid in plek was, is sowat 2 300 kinders na aanhoudingsentrums geneem, van babas wat geborsvoed moet word tot kinders met Downsindroom.

Klein Yanela was gelukkiger as so baie ander kinders, maar Moore se foto van haar het eindelik die hardkoppige Trump, wat selfs die pous se kritiek geïgnoreer het, tot oorgawe gedwing.

“Ek het nie gehou van hoe dit voel om te sien hoe gesinne geskei word nie,” het hy gesê.

“Ons het ’n uitvoerende bevel geteken wat ek as ’n belangrike uitvoerende bevel beskou. Maar dit gaan daaroor om gesinne bymekaar te hou, en terselfdertyd te verseker ons het ’n sterk grens.” En toe staak hy die onmenslike beleid.

So het die kinderhel ontstaan

Migrasie was een van die hoekstene van Trump se presidensiële veldtog in 2016. Maar die president sukkel sedertdien om nuwe migrasiebeleide deur die Amerikaanse Kongres te kry.

Uit pure frustrasie het Trump onlangs sy “zero verdraagsaamheid”-beleid ingestel. Daarvolgens is alle volwassenes wat die grens onwettig oorsteek in hegtenis geneem en deur misdaadklagte in die gesig gestaar.

En hul kinders is weggeneem omdat hulle ingevolge die Amerikaanse wet nie in federale tronke aangehou mag word nie. Die Demokratiese opposisie in Amerika noem die beleid “barbaars”.

Selfs lede van Trump se eie Republikeinse Party was met afgryse vervul en het hom daarvan beskuldig dat hy onskuldige kinders gebruik om sy beleid af te dwing.

Onwettige immigrante in ’n tydelike aanhouding­sentrum op die Amerikaanse grens. Foto: US Center for Border Protection

Die woede het toegeneem namate inligting begin uitlek het oor die toestande waarin kinders aangehou word: in groot aanhoudingsentrums in omheinde kamers wat soos hokke lyk of in tente. Maar Trump wou nie toegee nie.

“Die Verenigde State van Amerika sal nie ’n migrantekamp wees nie,” het hy laat hoor.

“Jy kyk na wat in Europa gebeur. Jy kyk na wat op ander plekke gebeur. Ons kan nie toelaat dat dit in die VSA gebeur nie. Ek sal dit nie toelaat nie.”

Die omstredenheid rondom sy beleid het saamgeval met Amerika se onttrekking aan die Verenigde Nasies se Menseregteraad.

Amerika is die eerste land wat vrywillig uit die wêreld se belangrikste menseregteliggaam stap.

Die besluit was glo uit protes teen die raad se gereelde kritiek op Israel, Amerika se bondgenoot. Kenners beskou die stap as ’n teken van Trump se voornemens om ’n ontoegeefliker benadering tuis en oorsee te volg.

Trump is in dieselfde tyd vir die Nobel-vredesprys benoem omdat hy Noord-Korea glo oorreed het om hul kernwapenprogram te staak.

’n Tentedorp vir kinders in Texas. Foto: Gallo Images/Reuters

Wat het Trump van plan laat verander? 

Die foto’s van huilende kinders het beslis ’n rol gespeel.

Kenners reken Trump het waarskynlik besef hy is goed op pad om Amerika se mees gehate president te word. Selfs sy vrou, Melania, was geskok.

Die presidentsvrou maak weinig opmerkings oor beleidskwessies, maar in dié geval het sy ’n verklaring deur haar kommunikasiedirekteur, Stephanie Grisham, uitgereik.

“Mev. Trump haat dit om te sien hoe kinders van hul gesinne geskei word en hoop albei kante van die saak kan bymekaarkom en suksesvolle migrasiehervorming moontlik maak,” het sy aan die media gesê.

“Sy glo ons moet ’n land wees wat alle wette nakom, maar ook ’n land wat met sy hart regeer.” Trump se dogter Ivanka het dit ook duidelik gemaak sy keur nie die ongevoelige stappe teen migrantegesinne goed nie.

Trump is bekend vir sy hardkoppigheid wanneer hy gekritiseer word. Maar dit lyk of hy dié keer, met selfs sy eie gesin wat hom braai, besluit het dit is wys om bes te gee.

Trump se dogter Ivanka was ook ongelukkig omdat kinders van hul ouers geskei is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kinders se lyding nie verby nie 

Kritici wys daarop Trump het ’n situasie geskep waar gesinne geskei én in aanhouding is.

Boonop mag kinders ingevolge Amerikaanse wetgewing nie langer as 20 dae aangehou word nie.

En met soveel asielsake wat in die hof aangehoor moet word, is dit onwaarskynlik dat alles binne 20 dae afgehandel sal wees.

Jonathan Turley, ’n regsprofessor aan die George Washington-universiteit, verduidelik: “As dit 20 dae duur, moet jy óf die hele gesin vrylaat óf die kind in bewaarsorg plaas, en sodoende skei jy net weer die gesin.”

Ontleders wys daarop dat die president geen melding gemaak het van stappe om die duisende kinders in aanhouding weer met hul ouers te herenig nie. Sommige van die ouers is in tronke honderde kilometers weg van waar hul kinders aangehou word.

Die tragedie is dit kan nog lank duur voor ander kinders soos die meisie van Honduras weer in hul ma se arms is. 

Melania op haar baadjie takseer

Die Amerikaanse presidentsvrou, Melania Trump, het die wêreld laat gons toe sy onlangs kinders wat van hul ouers geskei is by ’n skuiling in die Amerikaanse deelstaat Texas besoek.

Sy het tydens haar vlug na Texas ’n olyfgroen baadjie van die kettingwinkel Zara gedra met die woorde agterop: I really don’t care, do u?

Kritici het gesê die boodskap op die baadjie is onsensitief en getuig van swak smaak gegewe die lot van die gesinne wat deur die gebeure by die grens geraak is.

Melanie Trump se baadjie het haar in die sop laat beland. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dis net ’n baadjie; dit het geen geheime boodskap nie,” het haar woordvoerder, Stephanie Grisham, gesê.

Donald Trump het getwiet die woorde agterop die baadjie was op die “fopnuusmedia” gemik en het nie verwys na die kinders wat sy besoek het nie. Melania se keuse van uitrusting vir dié bepaalde besoek word steeds wyd veroordeel.

Bronne: Sky News, EWN.co.za, Businesslive.co.za, Netwerk24.comWashingtonPost.com, CNN.com, Gaurdian.co.uk