In The Art of Her Deal: The Untold Story of Melania Trump skets Mary Jordan, ’n Pulitzer-bekroonde joernalis van die koerant The Washington Post, ’n heel ander prentjie van die Amerikaanse presidentsvrou – en Melania het duidelik meer murg in haar pype as wat sy wys.

Die VSA se presidentsvrou, Melania Trump, is veel
Die VSA se presidentsvrou, Melania Trump, is veel meer as net die president se skoothond, onthul ’n nuwe boek deur die joernalis Mary Jordan.

Die boek, met sy titel wat dié van pres. Donald Trump se boek The Art of the Deal eggo, beeld die Amerikaanse presidentsvrou uit as ’n beskermende ma, ’n formidabele eggenoot, ’n fier vrou wat die vernedering van haar man se ontrouheid gebruik het om haar finansiële posisie te versterk en iemand wie se mening die president respekteer.

Mary bied ook ’n intieme blik op die Trumps se wêreld. Sy het met meer as 100 mense onderhoude gevoer.

Nogtans het die Withuis die boek as fiksie bestempel. Maar Melania self het met die skrywer gepraat en die insigte van dié in die binnekring is net so veelseggend as die feit dat die presidentsvrou enigsins gepraat het.

Die ‘prinses’ en die ‘portret’

Hulle is die twee magtigste vroue in die Withuis. Aan die een kant is Trump (74) se derde vrou, Melania (50), ma van sy jongste seun, Barron (14), en aan die ander kant sy dogter, Ivanka (38), ongetwyfeld sy gunsteling onder sy vyf kinders.

Die twee het volgens The Art of Her Deal nie veel ooghare vir mekaar nie. Melania is al gehoor waar sy na Ivanka as The Princess verwys, skryf Mary.

Melania by haar stiefdogter, Ivanka. Foto: Getty I
Melania by haar stiefdogter, Ivanka. Foto: Getty Images/Gallo Images

En op haar beurt het Ivanka Melania The Portrait genoem, “want sy praat so dikwels soos een”.

Maar toe haar stiefdogter se voortvarendheid op haar senuwees begin werk, het Melania dit duidelik gemaak wie die presidentsvrou is.

Sy het eers ses maande ná die president in die Withuis ingetrek terwyl hul seun, Barron, in New York skoolgegaan het.

“Met Melania uit die prentjie het Ivanka die privaat teater met sy weelderige rooi sitplekke gebruik en die ander Withuis-lekkertes geniet. Party mense het gesê sy behandel die privaat woondeel asof dit haar eie huis is.

“Melania het nie daarvan gehou nie. Toe sy en Barron eindelik intrek, het sy summier ’n einde daaraan gemaak deur streng grense te stel. Die Withuis sê dié storie is “heeltemal onwaar”.

Maar vroeër vanjaar het die Britse joernalis Vicky Ward, die skrywer van Kushner, Inc.: Greed. Ambition. Corruption, dieselfde ding in ’n onderhoud met die geselsprogramaanbieder Stephen Colbert gesê.

“Melania is die enigste mens in my boek wat ooit suksesvol teen Ivanka Trump opgestaan en gewen het,” sê sy.

“Ek het ’n toneel in die boek waar Ivanka vir die wêreld vertel het sy gaan nie by die Withuis aansluit nie. Absolute snert.

Agter die skerms het sy al planne beraam. Sy het ’n ‘Trump-familiekantoor’ laat optrek vir die Oosvleuel, wat normaalweg die presidentsvrou se gebied is.

“Toe Melania daarvan hoor, het sy baie vinnig ’n stokkie voor Ivanka se planne gesteek.”

Ander mense het ook al na die ongemaklike verhouding tussen die twee vroue verwys. Hul verhouding is “beleefd maar nie geheg nie”, sê Kate Bennett, skrywer van Free, Melania.

“ ’n Mens moet toegee dat Ivanka en Melania baie hard daaraan probeer werk het om van mekaar te hou en meer as blote verdraagsaamheid te bereik.”

In 2018 het die spanning tussen die twee vroue volgens die koerant The New York Times so hoog geloop oor afsonderlik beplande reise na Afrika dat die destydse Withuis-personeelhoof, John Kelly, moes ingryp.

Die vroue leef saam met “min oorvleueling in hul rolle”, skryf dié koerant se Maggie Haberman en Katie Rogers.

“Volgens alles wat ’n mens hoor, het hulle ’n ingewikkelde dinamika.

“Hulle beskou duidelik hul rolle anders. Melania verkies om uiters privaat te bly. Ivanka wou van die heel begin van die Trump-administrasie vir haar ’n rol as ’n raadgewer en beleidmaker uitkerf.”

Nou oorvleuel die vroue selde in die Withuis-kompleks: Ivanka, wat as ’n raadgewer vir haar pa dien, het ’n kantoor in die beknopte Wesvleuel, terwyl Melania vanuit die Oosvleuel aan die teenoorgestelde kant van die gebou werk.

‘Ivanka het ’n Trump-familiekantoor laat optrek vir die Oosvleuel, wat normaalweg die presidentsvrou se gebied is. Toe Melania daarvan hoor, het sy baie vinnig ’n stokkie voor haar planne gesteek’

Melania se waarheid

Melania is net so lief daarvoor as haar man om die waarheid te verdraai, sê Mary.

“Albei is ywerige skeppers van hul eie geskiedenis.”

Dit het al vroeg begin toe sy nie verslaggewers reggehelp het wat haar verkeerde ouderdom gehad het nie, en alte gelukkig was daarmee dat mense dink sy is jonger as wat sy is.

En ten spyte daarvan dat sy gesê het sy sal nie plastiese chirurgie ondergaan nie, beweer drie fotograwe wat al saam met haar gewerk het dat hulle haar littekens gesien het, sê Mary.

Sy haal een van Melania se gewese kamermaats in New York aan wat sê: “Met haar terugkeer van ’n besoek oor Kerstyd aan Europa in 1997 het sy meer rondborstig gelyk.”

Daar is ook min bewyse dat Melania vier of vyf tale kan praat, soos sy beweer.

“Mense wat deur die jare met haar saamgewerk het – insluitend mense met Italiaans, Frans en Duits as moedertaal – het vir my gesê hulle het haar nooit meer as ’n paar woorde van daardie tale hoor gebruik nie,” skryf Mary.

Daar word gefluister sy praat net Engels en Sloweens vlot.

Getroude lewe

Ingeligtes vertel die storie dat Melania Knauss, toe ’n 28-jarige model, en Donald Trump mekaar in 1998 ontmoet het op ’n modeweekpartytjie in ’n klub in Times Square in New York.

Melania en Donald in 1998 in New York. Foto: Getty
Melania en Donald in 1998 in New York. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar Mary kon min bewyse hiervoor kry; volgens baie van haar bronne was die twee toe al ’n ruk lank ’n paartjie.

Ná ’n verhouding van sewe jaar, waartydens hulle ’n paar keer uitgemaak het, is hulle in 2005 eindelik getroud op ’n sterbelaaide plegtigheid wat die tydskrif People “ ’n betowerende samesmelting” genoem het.

Op hul troudag in Januarie 2005.
Op hul troudag in Januarie 2005.

Deur die jare was daar hoogte- en laagtepunte, maar hulle het skynbaar gemaklik geraak in “parallelle lewens wat skaars oorvleuel”, sê Mary.

“Ek ken geen egpaar wat soveel tyd weg van mekaar deurbring nie.”

“Sy gaan selde by die Wesvleuel in. Sy is ’n alleenloper. Hy is ’n alleenloper. Hulle is heel gelukkig om nie bymekaar te wees nie.”

Daar is wyd berig die Trumps slaap in aparte kamers.

Die Amerikaanse joernalis Michael Wolff skryf in sy 2018-boek Fire and Fury: Inside the Trump White House die president het in die Withuis ingetrek en ’n slot vir sy slaapkamerdeur aangevra.

Dit is waar hy kaasburgers in die bed geëet het, na een van sy drie televisies gekyk het of vriende gebel het, sê Michael.

Melania het intussen ’n slaapkamer aan die ander kant van die huis gehad, glo die een waarin Michelle Obama se ma, Marian Robinson, gebly het toe die Obamas in die Withuis was.

Kate meen die slaapkamerreëling is om te keer dat hul huwelik verbrokkel.

“Trump het nie afsonderlike slaapkamers met sy vorige twee vroue gehad nie,” sê sy.

Hy was destyds 15 jaar lank met Ivana Trump (71) getroud en het haar met Marla Maples (56) verkul.

Hy en Marla het toe getrou – en ses jaar later geskei.

Mary se bronne in politieke kringe het die Trumps nog nooit saam sien eet nie.

Dit sluit personeel in by Trump se gholfbaan in Bedminster, New Jersey, waar die gesin dikwels naweke deurbring.

Victoriana Morales, ’n gewese huishoudster, sê wanneer Trump saans sy verskyning gemaak het, het Barron videospeletjies gespeel en Melania was op die rekenaar doenig.

“Ek het hulle nooit saam aan ’n tafel sien sit, eet en praat nie. Nooit, nooit, nooit.”

Die personeel het ook onthul Melania se kamer is vol foto’s van haar en Barron, terwyl foto’s van Trump saam met bekendes soos Michael Jackson teen die president se mure pryk.

Een van die take waarna skoonmakers die meeste opgesien het, sê Mary, was om “die oorblyfsel” skoon te maak ná een van Melania se gereelde aanwendings van selfverbruiningsproei.

Hulle moes ook seker maak die presidentsvrou het altyd twee bottels vol vloeibare onderlaag.

Maar as Melania gevra word om oor haar man te praat, bly sy ’n vurige ondersteuner.

Mary het ’n seldsame onderhoud met Melania vir die boek gekry, en die presidentsvrou het gesê sy en Trump kyk graag rolprente om te ontspan, onder meer Gone with the Wind en Sunset Boulevard.

Hulle “het ’n wonderlike vonk”, het sy bygevoeg, en gesê hy is “dierbaar en het ’n goeie hart”.

“Ons doen graag dinge waarvan ons hou, en ons gee onsself en mekaar ruimte.”

Sy het in 2005 dieselfde aan die nuuskanaal CNN gesê, toe sy vertel het sy het met hul ontmoeting in die laat 1990’s ’n onmiddellike konneksie met hom gevoel.

“Dit was ’n wonderlike vonk en energie. Ons het ’n wonderlike tyd gehad. Ons het begin praat en daar was dadelik iets tussen ons.”

Dit beteken nie sy het nog nie rede gehad om woedend vir hom te wees nie. Al het sy skynbaar teen dié tyd haar lewe aanvaar, het sy al meer as een keer in die openbaar gewys dat sy vir haar man vies is.

Toe besonderhede van Trump se affairs met die pornoster Stormy Daniels en Playboy-model Karen McDougal in 2018 bekend raak, het sy herhaaldelik geweier om sy hand in die openbaar vas te hou en dikwels gespanne en ongelukkig gelyk.

Trump saam met die pornoster Stormy Daniels. Melan
Trump saam met die pornoster Stormy Daniels. Melania het hom geglo gewaarsku sy affair met Stormy kan hom sy presidentskap kos. Foto: Myspace/StormyDaniels

In een geval het sy so te sê sy hand weggeklap. Melania, wat glo onkant betrap is deur die nuus, het Trump ook op ’n beplande reis na die Wêreld- Ekonomiese Forum versaak.

Luidens verskeie berigte was daar “botsings” in haar dagboek, maar een van dié afsprake blyk toe ’n twee dae lange wegbreek na hul Mar-a-Lago-oord in Florida met ’n spa-besoek daarby te wees.

Daar was nog subtiele stekies na haar man, onder meer die dra van ’n wit langbroekpak – die gunstelingstyl van sy politieke aartsvyand Hillary Clinton.

Maar die Trumps se verhouding werk omdat Melania bereid is om baie van haar man se seksistiese gedrag te verduur, sê diegene wat hulle al jare ken.

“Ek is nie ’n neulende vrou nie,” het sy al ’n paar keer laat hoor.

“Sy geniet haar rol waar sy terugtree en hom die kalklig laat neem,” het William Eubanks, ’n binneversierder en vriend van Melania aan die tydskrif Vanity Fair gesê.

Lisa Bytner, wat reklamewerk vir een van Trump se ondernemings gedoen het, het aan die publikasie gesê hy het in Melania die volmaakte maat gevind.

“Sy maak nie golwe nie. Praat net wanneer daar met haar gepraat word. Sy is net baie gaaf.”

‘Ek ken geen egpaar wat soveel tyd weg van mekaar deurbring nie’

Sy’s geen vloerlap nie

Melania word dikwels as die gedweë passasier uitgebeeld wat net die president oral volg, maar volgens Mary is dit allesbehalwe die geval.

Dit irriteer Melania dat sy as broos beskou word.

Sy is eintlik uiters gefokus en baie ambisieus. Sy het hul troue in 2005 haarfyn beplan en haar man se droom om dit ’n media-skouspel te maak verpletter.

Hy wou dit volgens People regstreeks op NBC-televisienetwerke oor die land laat uitsaai. Melania het geweier, en dit was dit.

Sy het haar man al belangrike raad gegee oor talle kwessies, soos om Mike Pence as sy medekandidaat te kies.

En sy het hom aangemoedig om die politieke beleid waar kinders van hul ouers by die Mexikaanse grens geskei word te laat vaar.

Sy verdedig en ondersteun hom ook wanneer dit haar pas.

Met sy aanvalle op Barack Obama in dié se ampstermyn, het Melania haar by haar man geskaar en gevra die oudpresident moet bewys hy is in Amerika gebore, al het hy dit toe reeds gedoen.

En sy het die integriteit en motiewe bevraagteken van vroue wat haar man van seksuele teistering beskuldig, al was sy agter geslote deure woedend daaroor.

“Melania beweeg agter die skerms, maar sy is ongelooflik invloedryk,” skryf Mary.

“Sy is nie iemand wat sal sê: ‘Stel hierdie persoon aan, dank hierdie persoon af’ nie. Maar sy laat die president weet wat sy dink, en hy neem haar menings ernstig op.

“Dit is ook duidelik dat dit uiters gevaarlik is om aan Melania se verkeerde kant te beland.”

Soos ’n voormalige Withuis-beampte dit stel: “Mense kruis op eie risiko swaarde met Melania – en daardie risiko is: ‘Jou kop gaan rol.’ Ek is ernstig. As sy nie van jou hou nie, is jy weg.”

Leeuwyfie

Melania wou volgens talle nie hê haar man moes die presidentsveldtog aanpak nie omdat sy nie wou deel hê aan enige veldtogwerk nie en haar lewe as ryk New Yorkse huisvrou wou geniet – toe sy kon gaan uiteet, die spa besoek en haar geliefde modetydskrifte lees.

Sy wou ook nie hul seun, Barron, se lewe ontwrig nie. Hy was 10 toe Trump president geword het.

Melania by hul seun, Barron. Foto: Getty Images/Ga
Melania by hul seun, Barron. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy was in gr. 5 by ’n spog-voorbereidingskool in New York, en sy wou hê hy moes die jaar daar voltooi. Dus het sy eers ses maande ná haar man se inhuldiging na die Withuis toe getrek.

Maar dit was nie net om Barron onnodige ontwrigting te spaar nie, glo Mary.

Sy meen Melania het die tyd benut om ’n bietjie slinkse onderhandelingswerk te doen – ook namens haar jong seun.

Sy het nog herstel van die nuus van sy ontrouheid en die vernedering wat die video-opname van Access Hollywood veroorsaak het.

Daarin spog Trump oor hoe hy vroue aan hul geslagsdele gryp.

Melania het tyd nodig gehad om “af te koel” – wat ook die ideale tyd was om nuwe onderhandelings vir haar voorhuwelikse ooreenkoms te doen, beweer Mary.

Volgens die boek wou Melania bewyse op skrif hê dat Barron as die gelyke van sy ouer halfsibbes behandel sou word.

Sy was nog altyd beskermend teenoor hom en het in 2015 aan People vertel sy het hom gehelp met sy huiswerk en was daar vir hom terwyl sy pa gereis het.

“Ek hou daarvan om betrokke te wees,” het sy toe gesê.

“Ek dink dis belangrik.”

Die twee praat dikwels Sloweens met mekaar, iets wat Trump glo frustreer.

Die Sloweense joernalis Bojan Pozar, skrywer van die boek Melania Trump: The Inside Story, sê Barron praat dikwels Sloweens met sy tante Ines, wat ook in New York woon.

Intussen probeer Melania haar kind uit die media hou.

“Ek beskerm hom en wil vir hom so ’n normale lewe moontlik gee,” het sy twee jaar gelede aan die Fox News-aanbieder Sean Hannity gesê.

“Dit is nie ’n normale lewe nie, maar ek hou daarvan om hom te beskerm en hom die kinderjare te gee wat hy verdien.”

Bronne: nytimes.com, washingtonpost.com, npr.com, dailymail.co.uk, slate.com, guardian.co.uk, newsweek.com, vanityfair.com, people.com, washingtonexaminer.com