Die fees vind van 2 tot 7 Oktober vir die 21ste keer in Potchefstroom plaas. Die feesprogram is onlangs in The Market Square, Johannesburg, bekendgestel.

“Dit is vir my ’n voorreg om vanjaar die 21ste keer by Aardklop op te tree,” sê die sangeres Amanda Strydom, wat in die produksie Stadig oor die Klippers te sien sal wees.

Amanda Strydom.

“Ek was in 1998 met die eerste fees daar en het nog nie een misgeloop nie. Ek het herinnerings aan wonderlike produksies en heerlike etes by die destydse Dros, nog saam met Johannes Kerkorrel.”

Christo Davids wat as Errol Pieterse in 7de Laan sy groot deurbraak gemaak het, gaan vanjaar weer sy lyf regisseur hou.

Altesaam 30 debuutwerke word vanjaar aangebied.

Die sanger en akteur Bouwer Bosch gaan vir die eerste keer in ’n teaterproduksie, Lykskou, te sien wees. Hy en Je-ani Swiegelaar vertolk die rolle van ’n boet en sus wat hul dienste as kosmetiese kunstenaars vir lyke aanbied.

Van links is Bouwer Bosch, Anna Davel en Joshua na die Reën, oftewel Jacques de Villiers.

“Teater was nog altyd vir my ’n droom,” sê Bouwer.

“Dis my heel eerste teaterproduksie, en om dit te doen in Potchefstroom, waar ek grootgeword het, is die beste geskenk ooit."

Foto's: Lubabalo Lesolle