Wanneer die hekke van dié bekende pretpark langs die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad Dinsdag laatmiddag sluit, sal dit ook vir die laaste keer wees.

’n Nuwe ontwikkeling sal in die plek van die pretpark opgerig word, het Netwerk24 verlede jaar berig. 

Maar wat gaan word van die gewilde Cobra-pretrit, wat 32 meter hoog en 779 meter lank is?

Die Cobra-pretrit gaan na die buiteland verskeep word.

“Die Cobra en Bushwacker (’n korter tuimeltrein – ook een wat op spore geloop het) is albei aan ’n makelaar verkoop wat die pretritte oorsee gaan verskuif,” sê Maggie Rowley, bemarkingsbestuurder van die Rabie-eiendomsgroep.

“Die pretritte sal uitmekaar gehaal word sodra die park toemaak en sal dan binne die volgende twee tot drie maande na hul nuwe tuistes verskeep word.”

Daar is gerugte dat van die kleiner ritte by die Canal Walk-winkelsentrum aangewend sal word in ’n kleiner kinderpark. Volgens Maggie is daar wel onderhandelinge om van die kleiner pretritte te verskuif na ’n nuwe tuiste in Kaapstad.

“Maar ons kan nog nie verdere besonderhede bekend maak voor die sake gefinaliseer is nie,” verduidelik sy. Verskillende moontlikhede word in die stadium oorweeg, sê sy.

Volgens Maggie het meer as ses miljoen mense die pretpark, wat in 1998 sy deure oopgemaak het, besoek.

Oor die jare het die park ook ’n paar veranderinge ondergaan.

Hoewel daar sowat 30 verskillende pretritte en aktiwiteite by Ratanga Junction is, is daar dikwels nuwe aantreklikhede aangebring. Sewe jaar gelede is The Slingshot, die groot rek waarmee mense die lug in geskiet is, aangebring, vertel Maggie.

Die destydse Diamond Devil Run.
Die Congo Queen.

“So ’n paar jaar gelede moes twee pretritte, die Crocodile Gorge en Diamond Devil Run toegemaak word om plek te maak vir die Century City Square-ontwikkeling wat die konferensiesentrum insluit.”

Volgens Maggie gaan daar baie werk voorlê om die stuk grond waar Ratanga is, voor te berei vir die nuwe ontwikkeling wat uit ’n openbare park, woonstelle, restaurante en winkels gaan bestaan.

“Die herontwikkeling sal oor ’n paar jaar in verskillende fases gebeur,” verduidelik sy.