Die COVID-19-pandemie versprei soos 'n wegholveldbrand oor die wêreld en saai gevoelens van vrees en onsekerheid so ver dit gaan. 

Intussen wil almal weet: Hoe lank gaan dit aanhou, en sal die wêreld soos ons dit geken het ooit weer dieselfde lyk?

Vir party lê die antwoorde in die sterre. 

Rod Suskin, 'n bekende astroloog en skrywer in Kaapstad, meen daar is hoop en dat die grootste bedreiging van dié dodelike virus tot November vanjaar sal duur voor alles weer na normaal kan terugkeer. 

Maar hoe presies werk dit?

“Astroloë gebruik die beweging van die planete, wat in siklusse voorkom, om die geskiedenis, wat ook in siklusse voorkom, te ontleed,” vertel Rod aan Huisgenoot.

Volgens hom het die COVID-19-pandemie plaasgevind in 'n bekende sterresiklus wat elke 35-40 jaar voorkom.

Hierdie spesifieke siklus word geassosieer met wêreldwye krisisse en inkrimping. 

“Die vorige keer dat ons so iets gesien het, was in 1982 en 1983 – toe dit die begin van die MIV/Vigs-krisis sowel as die groot globale resessie was,” sê hy. 

“Ons kan dus weer 'n resessie verwag sowel as groot veranderings in ons gedrag- en sosiale norme.”

Volgens Rod is dit wat ons tans ervaar 'n natuurlike verskynsel, en hoewel dit die wêreld verander, is dit die gewone manier hoe enige blywende sosiale veranderinge in die samelewing plaasvind. 

En ongeag dat dit vir ons gelyk het na 'n baie dramatiese begin van die pandemie – dit wil sê die begin van die jaar toe Suid-Afrika sy eerste COVID-19-geval aangeteken het en die infeksies vandaar skerp toegeneem het – meen astroloë die veranderinge het as’t ware reeds 'n paar jaar tevore begin. Dit het net geleidelik plaasgevind. 

So sal die wêreld ooit weer dieselfde wees?

“Ná alles sal die wêreld nie onmiddellik drasties anders lyk nie, hoewel sosiale distansiëring 'n norm gaan word en gevolglik baie van ons gedragspatrone sal verander,” meen Rod. 

“Hoewel ons vir die volgende drie tot vier jaar streng besuinigingsmaatreëls vir die ekonomie kan verwag, sal die gepaardgaande sosiale veranderinge sekere ongelykhede in die samelewing regstel en wette en regte, wat voordelig sal wees vir die meeste, sal vanuit hierdie siklus spruit.”

Rod sê die grootste bedreiging van COVID-19 sal duur tot in November vanjaar voor ons weer in Februarie 2021 na normaal kan terugkeer. 

Hy waarsku egter dit sal nie heeltemal die einde van die pandemie wees nie. 

“Ons sal waarskynlik weer met die virus te doen kry in 2022 en 2023 voor dit heeltemal agter ons is, maar dit sal dan heelwat minder wees."

  • Rod Suskin is 'n bekende astroloog, skrywer en uitsaaier. Sy program Rod Suskin’s World word elke Vrydag en Sondag op Cape Town TV uitgesaai. Kontak hom by rod@rodsuskin.com