Politici hou ’n openbare beeld voor; daarom is dit dikwels byna onmoontlik om te peil wat regtig in hul gedagtewêreld aangaan. Kyk gerus na pres. Donald Trump van Amerika en die Noord- Koreaanse leier, Kim Jong-un, se onlangse beraad in Singapoer.

Die twee het geglimlag, gewuif en ’n verklaring oor kernontwapening op die Koreaanse Skiereiland onderteken.

Beteken dit die wêreld gaan vrede hê? 

Dit sal raadsaam wees om te kyk na die skrif waarmee hulle hul handtekeninge aanbring, meen handskrifontleders. Hier bekyk ontleders ’n paar wêreldleiers se handtekeninge.

AMERIKA DONALD TRUMP (72)

Die genadelose onderhandelaar

Sy was “taamlik ontsteld” toe sy die handtekening van die Amerikaanse president en opperbevelvoerder van hul weermag die eerste keer sien, het die Australiese handskrifkenner Melissa Becker aan die aanlyn koerant The New Daily gesê.

“Hy vereenvoudig baie erg. Hy gebruik sigsaglyne en laat sommige verbindingsvorms heeltemal uit.”

Dié soort skrif word deur intelligente mense gebruik, glo sy.

Die ‘p’ in ‘Trump’ – dié groot falliese simbool skree: Ek’s pure man.”

“Dis ook die gunstelinghandtekening van uiters aggressiewe, trouens gewelddadige, mense. Jy kan self besluit waar jy dink hy op die spektrum inpas.”

Die ineengedronge, dik, hoekige vorm van sy handskrif is vir haar kommerwekkend.

“Dit het geen empatie nie. Dit wys: ‘Ek gaan voort op dié groot, konsekwente manier en ek is oor niemand anders besorg nie.’ Ek dink ’n mens sal moet sê dit is genadeloos.”

Michelle Dresbold, wat deur die Amerikaanse geheime diens opgelei is om dokumente te ontleed, vel dieselfde oordeel oor Trump se stekelrige gekrabbel.

Die algehele gebrek aan kurwes wys hy “kort empatie en smag na mag, aansien en bewondering,” het sy aan die webtuiste Politico gesê.

“Benewens die verwaandheid wat uit sy skrif blyk, is nog iets oorgroot: die ‘p’ in ‘Trump’. Dié groot falliese simbool skree: Ek’s pure man.”

Trump is ’n “dapper, taai, reguit onderhandelaar” wat dink “hy weet die beste,” het Tracey Trussell, ’n Britse handskrifkenner, aan die Daily Mail gesê.

“Die vloedgolf letters onthul sy plofbare humeur.”

NOORD-KOREA

KIM JONG-UN (35) – Die humeurige optimis 

Tracey sê die diktator se stygende, uitgestrekte handtekening wys hy is ’n “ewige optimis en opdringerig”.

“Sy handtekening is groot, styg dramaties en is breed, met breë spasiëring,” het sy aan die Daily Mail gesê. Die vereenvoudigde styl dui daarop dat hy ’n “skerp intellek het en gou raaksien waar geleenthede lê,” sê sy.

Sy handtekening verklap hy het ’n vurige humeur. “Ek vermoed hy kan net so onbuigsaam soos Trump wees. As hy nie sy sin kry nie, dwing hy sy wil af. Die uitgestrekte horisontale hale onthul sterk wilskrag.”

Kim se handtekening dui daarop dat hy ambisieus en “intuïtief eerder as rasioneel en logies is,” het die handskrifkenner Koo Bon-jin aan CNBC gesê.

“Hy skryf baie vinnig.”

SUID-AFRIKA

JACOB ZUMA (76) – Die onvolwasse pragmatis

Die handtekening van die voormalige Suid-Afrikaanse president toon ’n gebrek aan vloeiendheid, samehang en volwassenheid, sê Michelle Barker, ’n forensiese handskrifontleder van Johannesburg.

“Dit is duidelik uit ’n aantal handskriftekens soos losstaande letters waarvan party skeef trek na regs en die onreëlmatige ruimtes.”

Die manier waarop letters verbind word en sy geronde handskrif verklap hy wil alle aandag op hom vestig, maar hy is tog sensitief vir kritiek, sê sy.

Dit wys ook hy het ’n praktiese kant, maar is iemand wat makliker daaglikse probleme kan oplos as strategiese langtermynprobleme.

BRITTANJE

THERESA MAY (61) – Die doelgerigte vraat

Die geronde letters en breë lusse in die beleërde Britse premier se handtekening wys sy het ’n spontane persoonlikheid, sê die Amerikaanse handskrifkenner Sheila Kurtz. Maar haar handtekening verklap ook haar gulsigheid.

“Sy klou vas aan wat sy beetgekry het en neem die inisiatief,” sê Sheila. Theresa se handtekening lyk asof dit blitsvinnig gemaak is, sê Martin Hastings, ’n Britse ontleder. Dit is ’n teken van ’n aktiewe en rustelose verstand.

“Die groot kurwe van die hoofletter-T in haar handtekening is soos ’n dak wat haar teen die aanslae van ’n openbare lewe beskerm,” meen hy.

“Haar handtekening toon tekens van wantroue in die buitewêreld. Die effens wisselende vorms (van letters) dui dikwels op ’n onsekere selfbeeld waarvoor sy vergoed deur dinge gedoen te kry en doelwitte te bereik.”

KANADA

JUSTIN TRUDEAU (46) – Die vasberade entoesias

Die Kanadese premier se indrukwekkend gekrulde letters en die ligter as normale druk wat hy op die papier uitoefen, wys hy is ’n “uiters vinnige en moeitelose denker”.

Die lang kruise oor sy T’s verklap hy is vasberade en geesdrif- tig, sê Sheila.

“Hy is versigtig onortodoks, maar tog uiters beskermend oor sy ware karakter.”

FRANKRYK

EMMANUEL MACRON (40) – Die onafhanklike energiebol

Die Franse president se swierige handtekening wys hy is selfgenoegsaam en energiek.

Sy skerp letters beteken hy beweeg vinnig en druk homself goed uit, sê Sheila.

SUID-AFRIKA

CYRIL RAMAPHOSA (65) – Die slim diplomaat

“Hy is hoogs intelligent en kreatief; dit kan ’n mens in die yl skryfstyl sien. Die individuele letters word nie behoorlik gevorm nie. En jy sien dit in die spoed waarteen hy skryf,” sê Michelle. Sy stygende en gesentreerde handtekening, asook die grootte daarvan, wys hy is ambisieus en het ’n behoefte aan erkenning.

“Sy skrif neig na regs en die yl skryfstyl dui daarop dat hy veelsydig en oopkop is en vele fasette het. Hy daag reëls en tradisies uit en is hoogs diplomaties.

“Hy het ’n strategiese brein.”

DUITSLAND

ANGELA MERKEL (63) – Die goeie siel

Sheila het ’n dokument bestudeer wat in Mei verlede jaar deur elk van die G7-leiers op ’n beraad in Italië onderteken is. Sy het tot die slotsom gekom die Duitse kanselier is die moeilikste om te ontleed.

Van haar ronde, regop letters raak nie aan mekaar nie. Dit verklap sy is intuïtief en het ondernemingsgees.

“Sy is lief daarvoor om te praat en is geneig tot afguns,” meen Sheila. Martin se beskrywing van Angela se skrif is vleiender.

“Die hale en vorms straal warmte en ’n plat-op-die-aarde praktiese sy uit,” sê hy.

“Die eenvoudige, ronde vorms is tipies van mense wat gretig is om in ’n span saam te werk pleks daarvan om al die glorie vir hulself toe te eien.”