Het jy vanjaar vreemde dinge gedroom? Jy is nie alleen nie – dis miljoene mense reg oor die wêreld se lot, en dis als die pandemie se skuld.

Minstens vyf navorsingspanne wêreldwyd het vasgestel die verhoogde stresvlakke en gedwonge afsondering van die inperking het ’n ingrypende uitwerking op ons slaappatrone en drome gehad.

Slaapkenners meen as ons ons van ons gewone daaglikse stimuli onttrek, soos tydens die inperking, laat dit ons verstand met ’n gebrek aan inligting waaruit ons snags materiaal vir drome kan put, en dit dwing ons breine om in ons onopgeloste verlede te delf.

“Ons gebruik gewoonlik REM-slaap en drome om intense emosies te hanteer, in die besonder negatiewe emosies,” sê die droomkenner Patrick McNamara, ’n medeprofessor in neurologie aan die Universiteit van Boston se mediese skool.

“Vanselfsprekend veroorsaak die pandemie baie stres en angs.” Die ongewone omstandighede van die afgelope jaar beteken ook ons onthou waarskynlik meer drome as wat ons gewoonlik sou.

Angs en ’n gebrek aan aktiwiteit veroorsaak dat ’n mens slegter slaap en gereelder wakker word – albei faktore wat verbind word daarmee dat drome beter onthou word.

In ’n studie in Italië waarin die drome van mense onder inperking ontleed is, is bevind baie deelnemers ervaar nagmerries en word dikwels wakker – wat met die simptome van posttraumatiese stressteuring ooreenstem.

Kenners meen drome help met die verwerking van emosionele gebeure en kan as oefenreaksies op dreigende situasies dien. Een manier om beheer oor herhalende nare drome te kry is “dream scripting”, ’n tegniek wat deur Deirdre Barrett, ’n professor in sielkunde aan die Harvard-universiteit, gebruik word.

Dromers moet die nuwe “draaiboek” probeer skryf van watter rigting hulle graag wil hê hul droom moet inslaan en dit voor slaaptyd repeteer.

As jy byvoorbeeld aanhou droom jy word aangeval, kan jy jou probeer voorstel jy baklei terug of jou aanvaller krimp tot die grootte van ’n mier. Om die stresvolle situasie op hierdie wyse bewustelik te verander kan die angel uit jou nagmerrie haal.

Jy het moontlik vanjaar, of voorheen, van dié drome gehad – dít is wat dit volgens droomkenners moontlik kan beteken.

JY VAL

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié algemene droom word verbind met ’n gevoel dat jy oorweldig, onseker of buite beheer voel.

Die Amerikaanse sielkundige William Braun meen as die vloer onder jou voete wegval, kan dit as ’n “verval in onguns” verstaan word.

JY WORD GEJAAG

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit hang alles af van wie die jaagwerk doen. Heel dikwels word die dromer deur ’n nagmerrieagtige monster gejaag of soms ’n mens wat hulle die minste sou verwag, wat ’n bedreiging kan verteenwoordig.

“Die monster kan ’n manifestasie van ’n indiskresie, verslawing of skuld wees,” verduidelik William.

Kenners meen hierdie soort droom, wat meer dikwels by vroue as by mans voorkom, is veronderstel om die dromer aan te moedig om ’n kwessie wat stres veroorsaak aan te pak.

JY VLIEG

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Party kenners meen die droom hou verband met vryheid en dinge wat in plek val. Ander meen as jy sukkel om te vlieg, kan dit beteken iets of iemand hou jou terug van vooruitgang in die lewe.

“Dit kom gewoonlik voor wanneer ons met kwessies van vryheid, beweging of ’n gebrek daaraan te doen het,” sê die psigoterapeut Jeffrey Sumber.

KAAL WEES IN DIE OPENBAAR

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die droomsielkundige Ian Wallace meen die dromer voel dalk kwesbaar. “Dit kan wees dat jy ’n onbekende situasie binnegaan waar jy ’n gebrek aan selfvertroue ervaar,” sê hy.

Ander meen dromers ervaar skuld of skaamte – dalk omdat hulle in die verlede afgeskeep is.

TOT DIE DOOD ONS SKEI

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy van afgestorwe geliefdes droom, kan dit ’n simbool van gerusstelling en leiding wees terwyl jy dalk onverwagte veranderingeervaar.

Dit word soms “visitation dreams” genoem, en die dooie mens lyk dikwels gelukkig, gesond en opgewek en is daar om hulp aan te bied.

Het jy geweet?

Minstens 70% van mense ervaar net voor hulle insluimer ’n onwillekeurige spiertrekking in hul liggaam wat as hipnagogiese of hipniese skok bekendstaan.

Oormatige kafeïen-inname en fisieke en emosionele stres kan die gereeldheid daarvan verhoog.

JY SKRYF SKOOLEKSAMEN

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Minstens een uit vyf mense sal in hul lewe ’n eksamendroom ervaar. Die eksamen in die droom dien as ’n spieël en hou dikwels verband met stres of ’n uitdaging wat jy moet baasraak.

“Of jy ’n nuwe kliënt probeer werf, dit KPA-tyd by die werk is, of jy ’n bevordering probeer kry – enige tyd dat jy voel jy word getoets en jy moet jouself bewys,” sê die droomkenner en skrywer Lauri Loewenberg.

“Hoe het jy in die droom gevoel? Was jy voorbereid? Dit is amper soos ’n spieël.”

KUIER SAAM MET ’N BEKENDE

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sien jy in jou drome hoe jy met Brad Pitt of Laurika Rauch sosiaal verkeer? “Vra jouself wat dit oor die mens is wat op jou terugkaats,” stel Lauri voor.

“Dit kan ’n rolprent wees waarin hulle is, een van hul liedjies – die boodskap sal in die titel van daardie fliek of die lirieke van daardie lied wees.”

Om te droom dat jy beroemde vriende het, kan ook met hoë aspirasies en ’n geïdealiseerde weergawe van een van jou werklike vriendskappe verband hou.

LAAT WEES VIR ’N VERGADERING

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kenners meen die droom is veronderstel om as ’n herinnering te dien om nie toe te laat dat angs en selfopgelegde spertye jou van stryk bring om jou doelwitte te bereik nie.

“Dalk wil jy teen ’n sekere datum gewig afskud of ’n vlak in jou loopbaan bereik,” sê Lauri. “Dis nooit te laat nie.”

JOU TANDE VAL UIT

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kenners meen dié droom simboliseer angstigheid en magteloosheid in tye van verandering en oorgang. Die droom kan ’n teken van trauma wees wat die dromer laat vertroue en mag verloor het.

“Ons kan hieraan dink as kommer oor mag en die vermoë om jou in die wêreld te laat geld,” sê William.

JY IS SWANGER

droom
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ontspan – dit het niks te doen met ’n baba van jou eie hê nie, maar dit is steeds “positief”. Lauri sê die droom gaan oor iets nuuts en vars op die horison.

“Swangerskapsdrome hou gewoonlik verband met iets anders in jou lewe wat in die groei- en ontwikkelingsfase is. Baie vroue kry dit wanneer hulle aan ’n graad werk of wanneer hulle op die rand van ’n nuwe verhouding is.”

In jou drome

Ons het elke aand sowat vyf drome wat tussen 15 en 40 minute kan duur. Dit beteken ons droom elke nag sowat twee uur lank.

Met rofweg 8 miljard mense op aarde het ons gesamentlik amper 40 miljard drome in ’n tydperk van 24 uur. 

BRONNE: NATIONALGEOGRAPHIC.COM, HEALTHLINE.COM; THEVERGE.COM; HUFFPOST.COM; HARPERSBAZAAR.COM; DREAMS.CO.UK; IANWALLACEDREAMS.COM; PSYCHOLOGYTODAY.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe