Die magsbehepte en gevaarlike Wladimir Poetin, wat Rusland al byna 20 jaar regeer, is vir nóg ’n termyn as president verkies. Hoe kry hy dit reg?

Dit sou maklik wees om aan Wladimir Poetin te dink as net ’n koddige, magsbehepte man in beheer van ’n vervalle supermoondheid. ’n Kort, bles judovegter behep met aksiefoto’s van homself.

Dié voormalige KGB-agent, wat Rusland al byna twee dekades direk of indirek met ’n ysterhand regeer, se bewind is pas met nóg ses jaar verleng.

Maar terwyl baie politieke kenners die verkiesing van 18 Maart as nogmaals bekook en ondemokraties beskryf (nes die 2012-verkiesing), was ontleders verbaas oor die steun wat hy gekry het – 76% van die stemme, 13 persentasiepunte meer as in 2012.

CNN en die saketydskrif Forbes het Poetin (65) verlede jaar as “die magtigste mens ter wêreld” bestempel en in die aanloop tot sy oorwinning boonop gewaarsku Rusland het ’n nuwe arsenaal kernmissiele ontwikkel wat Amerika se lugverdedigingskild kan binnedring.

“Dit is die begin van ’n nuwe Koue Oorlog,” was die reaksie van die militêre ontleder Alexander Golts.

Poetin se dreigemente kan nie sonder meer weggelag word nie, want dit wys hy het ’n brandende begeerte om Rusland weer in ’n gevreesde supermoondheid te omskep.

Hier is ses redes hoekom Poetin nou as een van die magtigste en gevaarlikste mans ter wêreld beskou word – en hoe hy hier gekom het.

1. HY KLOU VAS AAN SY MAG

Hy is reeds die langs dienende Russiese staatshoof sedert die diktator Josef Stalin, in wie se greep van 1922 tot 1952 miljoene van sy eie landsburgers hul lewe verloor het.

Aan die einde van sy nuwe termyn sal Poetin 71 wees.

Sy jongste oorwinning was g’n verrassing nie. Sy enigste ware teenstander, Aleksei Nawalni, is immers deelname aan die verkiesing verbied op grond van bedrogklagte – wat die Poetin-regime glo bekook het.

Sy pa, Wladimir Spiridonowitsj Poetin, was in die vloot, en sy ma, Maria Iwanowna Poetina, ’n fabriekswerker. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Poetin het ook sy propagandasmasjien ingespan om kritiek teen hom te besweer en sy vierde ampstermyn met ’n sterk meerderheid te begin.

Regtens moet hy daarna uittree – maar wette kan verander word.

In Amerika het die Republikeinse senator John McCain intussen pres. Donald Trump uitgetrap omdat hy Poetin gebel het om hom geluk te wens.

“ ’n Amerikaanse president lei nie die Vrye Wêreld deur diktators met hul oorwinning in ’n skynverkiesing geluk te wens nie,” het hy getwiet.

2. HY HUNKER TERUG NA ‘GLORIE’

Vir Poetin was dit vernederend om te sien hoe die eens magtige Sowjetunie ná die val van kommunisme in 1991 verbrokkel.

Etniese minderhede het afgeskei van Rusland en eie state gevorm. Amerika het gedy as al oorblywende supermoondheid.

Gewese Sowjetsatellietstate het aangesluit by Navo, Amerika en Europa se militêre groepering.

Kenners meen Poetin word gedryf deur die begeerte om Rusland se verlore glorie te herstel.

Prof. Hussein Solomon, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van die Vrystaat, meen dié “Russiese ingesteldheid” is agter die magsbeheptheid en imperialistiese neigings.

“Onlangs is die land ook ekonomies deur China en Indië oorskadu,” vertel Hussein. “Russe hunker na hul verlore status.” 

‘Joernaliste moet heeltemal gedienstig aan Poetin wees’

Poetin kon nie die Russiese ekonomie regruk nie, vertel Hussein.

“Toe, nes enige sterkman, verskuif hy sy aandag van die binne- na die buiteland.”

Deur sy spiere vir die buiteland te bult vuur Poetin die nasionalistiese gevoelens aan van Russe wat nostalgies is oor die gevreesde militêre mag wat dié land eens was – en lei hy hul aandag weg van hul swak ekonomiese omstandighede tuis.

3. DIE WÊRELDVERHOOG IS SY SKAAKBORD

Poetin hou sy hande nie tuis nie en meng in by ander lande se sake.

Oekraïne

In 2012 het Rusland dié buurland binnegeval en hul Krimgebied afgeneem.

Poetin het ook ’n opstand teen hul pro-Westerse regering gesteun met geld en troepe.

Amerika en Wes-Europa het luidkeels beswaar gemaak, maar nie ingegryp nie.

Sirië

Wie kan vergeet hoe die stad Aleppo deur Russiese bomwerpers vernietig is? Poetin het in 2015 militêr ingegryp om die Siriese diktator Bashar al-Assad, sy bondgenoot, van ’n binnelandse opstand te red.

Sodoende het Poetin die Siriese rebelle verslaan en die terreurgroep die Islamitiese Staat verdryf.

Rusland het twee strategiese militêre basisse in dié Midde-Oosterse land.

Amerika

In 2016 het Russiese kuberkrakers glo onregmatig toegang tot Amerikaanse rekenaars verkry om Donald Trump te bevoordeel in sy verkiesingstryd teen Hillary Clinton.

Poetin ontken dit, maar die FBI en ’n komitee van die Amerikaanse Kongres ondersoek steeds dié aantygings.

4. HY ONDERDRUK TEENSTANDERS

Die Russiese joernalis Anna Politkofskaja het eenmaal geskryf: “As jy as joernalis wil aanhou werk, beteken dit algehele gedienstigheid aan Poetin. So nie kan jy sterf.”

Sy is inderdaad vermoor.

Maria Aljochina van Pussy Riot, ’n feministiese protesrockgroep van Rusland, het geskryf baie van hul landgenote wat tydens 2012 se presidentsverkiesing teen Poetin betoog het, is landuit.

“Maar honderde is nog agter tralies en politieke sluipmoorde duur voort.”

Poetin se teenstanders is blykbaar nie eens in die buiteland veilig nie:

Alexander Litvinenko

Dié uitgesproke teenstander van Poetin se regime is in 2006 in ’n Londense soesjirestaurant met radioaktiewe polonium-210 vergiftig.

Voor sy dood weke later in ’n Londense hospitaal het hy verklaar Poetin sit agter die KGB-agtige sluipmoord.

Die Nowitsjok-skok

In Russies beteken “nowitsjok” nuweling. Dié senumiddel is blykbaar die jongste wapen in die nuwe Koue Oorlog.

Teen ons saktyd het die Russiese dubbelagent Sergei Skripal (66) en sy dogter, Yulia (33), nog in ’n Britse hospitaal om hul lewe geveg nadat iemand hulle oënskynlik met hierdie middel probeer vergiftig het.

Boris Johnson, Britse minister van buitelandse sake, het Poetin prontuit beskuldig: “Ons dink oorweldigend dit was sy besluit om ’n senumiddel in die strate van Brittanje te gebruik.”

5. HY MAAK KERNDREIGEMENTE

Op die groot skerm vlieg die Russiese kernmissiel oor die Atlantiese Oseaan en Suid-Amerika. Kalifornië doem op – en dan word die skerm swart. Die Russiese politieke elite juig Poetin toe . . .

Dié toneel het afgespeel tydens Poetin se staatsrede op 1 Maart vanjaar, drie weke voor sy omstrede herverkiesing.

Poetin was op sy dag ’n KGB-agent.

Die demonstrasie was ’n waarskuwing aan Amerika dat Rusland ’n nuwe geslag “onstuitbare” kernmissiele het en nie sal huiwer om dit te gebruik nie.

Met verwysing na die kernontwapeningsooreenkoms van 1987 – waarmee Rusland volgens hom ingeloop is – het Poetin gesê: “Julle het nie toe na ons geluister nie – luister dus nou na ons.”

Volgens Poetin het die Russe drie verskillende nuwe missielstelsels: ’n hipersoniese missiel wat so vinnig vlieg, Amerikaanse teenmissiele kan dit nie afskiet nie; ’n missiel wat rondom alle teenmissiele kan navigeer; en ’n kernaangedrewe missiel wat onbepaald in die lug kan bly.

“Poetin wil die Weste bang maak,” sê Alexander.

6. HY IS BEHEP MET SY EIE BEELD

Poetin gebruik die Russiese media en staatsmasjinerie om sy teenstanders se geloofwaardigheid te ondermyn en, soos met die kernmissieltentoonstelling, sy sterkmanbeeld te poets en die buiteland te intimideer.

Kort voor die besetting van die Krim het hy hom laat fotografeer op ’n rit saam met ’n ultranasionalistiese motorfietsbende, Die Nagwolwe.

Die Russiese media en sy persoonlike Kremlin-webtuiste wemel van geposeerde foto’s en video’s wat sy manlikheid uitbeeld: waar hy visvang en jag op die ysige Siberiese vlaktes; ski in die Oeralgebergte; kaalbolyf op ’n perd is; soos ’n boer op ’n trekker sit; en, onheilspellend, agter die stuurstang van ’n bomwerper of oorlogstenk is.

Bronne: Reuters, rt.com, BBC, CNN, theconversation.com, biography.com, channelnewsasia.com, forbes.com, economist.com, washingtonpost.com