Ons ken Mike Bolhuis as die speurder met die kenmerkende haarstyl wat jou twee keer laat kyk en die skelms vreesloos aan die pen laat ry.

Nou is hy te sien in ’n nuwe werklikheidsreeks, Bolhuis, wat in Oktober die lig sal sien.

“Ek is positief oor die program”, sê Mike. “Die agenda is om misdaad soos ons dit ken, aan te vat en te probeer verhoed. Ons eindig ook elke program met raad sodat mense wat 'n soort misdaad vermoed, sal weet wat om te doen as hulle in so 'n situasie beland.”

In dié reeks delf ons dieper in van die sake wat al op Mike se lessenaar beland het, soos die Delmas-moorde, waarin die vyf maande oue Wiehan Botes en sy oppasser vermoor is en waarvan die moordenaar steeds op vrye voet is, lui ’n verklaring van kykNET.

Mike toe hy verlede jaar op kykNEt se Ontbytsake was. Foto: Facebook

Mike waarsku kykers moet bedag wees daarop dat die taal in die program gekruie is. “Mense moet weet dit is nie persoonlik nie, maar dit is die soort taal wat ons gebruik wanneer ons met mense in die onderwêreld praat. Dit is maar net hoe ons onsself uitdruk en dit was vir ons belangrik om nie iets voor te gee wat ons nie is nie. Alles wat die kykers sien, was werklik en niemand het toneel gespeel nie.”

Hy en sy span was glad nie betrokke by die redigering van die reeks nie en hulle het nog niks van die program gesien nie. “Ons sal dit almal saam met die publiek vir die eerste keer op 10 Oktober sien."

Die radio- en televisiepersoonlikheid Rian van Heerden is die vervaardiger van die reeks. Mike en Rian ken mekaar al jare en Mike sê die rede waarom hy en sy organisasie ingestem het om die program te doen, is omdat hy absolute vertroue in Rian het.

Rian van Heerden

Hy glo mense gaan waarskynlik ’n goeie idee kry oor wie hy is, maar vra dat hulle na die hele program kyk voor hulle finale afleidings maak. “Ek is seker daar gaan gelag word ook, maar dit is nogal ’n ernstige program aangesien die enigste doel is om die skokkende omstandighede van ons wettelose land te wys.”

Onderwerpe wat in die program ondersoek sal word, sluit in:

& Dwelmmuile: Desperate mense word oorreed om dwelms in of uit die land te smokkel - net om eindelik gevonnis te word tot lang tronkstraf of selfs die galg oorsee. Die program ondersoek die misdryf en gesels met dwelmmuile se families wat steeds bly hoop.

& Wurban: Willie Steenkamp was ’n finansiële konsultant en die hoof van ’n internasionale beleggingsmaatskappy, Wurban, wat beleggers fabelagtige winste belowe het. Eindelik het Willie en miljoene rande spoorloos verdwyn. 

& Ralph Haynes: Die man wat bekend was as die “Godfather van die Wes-Rand”, het in 2011 spoorloos verdwyn nadat hy in ’n helikopter van die Kitty Hawk-lughawe opgestyg het. Waarom was Ralph so berug en wat presies het van hom geword? Mike soek die man wat hy goed geken het.

& Die Knysna-moorde: Gedurende ’n besonder bloedige paar maande op die pragtige dorpie Knysna is drie mense vermoor; dit het soos die werk van ’n reeksmoordenaar gelyk. ’n Plaaslike platejoggie is in hegtenis geneem, maar sit die verkeerde mens nie dalk agter tralies nie? Mike besoek Knysna saam met ’n joernalis wat destyds die storie geskryf het.

& Selfdood: Wanneer besluit ’n mens om hul eie lewe te neem en wanneer probeer ’n moordenaar dit soos selfdood laat lyk? Mike ondersoek gereeld dié soort sake. In die program word met familielede gesels wat met meer vrae as antwoorde agtergebly het en iemand wat so 'n voorval oorleef het, gesels voor die kamera. 

Die reeks bestaan uit 13 episodes en sal op kykNET (DStv Kanaal 144) uitgesaai word.