Die glanspersoonlikheid Lee-Ann Liebenberg was omtrent ingenome toe sy Donderdagaand vir pres. Cyril Ramaphosa (65), etlike ure ná hoofregter Mogoeng Mogoeng die voormalige sakeman as ons nuwe staatsfhoof ingehuldig het, in die Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad raakloop.

“Het pas in ons nuwe PRESIDENT vasgeloop????? #Hoendervel,” het Lee-Ann op Instagram by 'n foto van die gelukskoot geskryf. 

Maar dit lyk nie asof Lee-Ann die enigste een is wat in ongeloof gekyk het hoe die man wat die hoogste amp in die land beklee doodluiters in 'n winkelsentrum rondloop nie.

'n Man wat oënskynlik verstar na die president staar, het groot aandag op sosiale media getrek.

Dit lyk of dié man – in ’n gemaklike kortbroek, kraaghemp en pet geklee – nie sy oë kan glo toe hy die nuwe president van Suid-Afrika in lewende lywe sien nie. Hy slaan selfs sy hande teen sy bors saam.

Maar Lee-Ann en dié man was nie die enigste wat Suid-Afrika se nuwe president in die openbaar gewaar het nie.

Die redakteur van Elle Dekor, Leigh Robertson, het ook ’n selfie saam met Ramaphosa in Exclusive Books geneem en geskryf dat haar baie “laasteminuut-laataand-verjaardagpresent-inkopietog” omtrent vrugte afgewerp het.