Die storie van die spekboom is byna soos dié van iemand wat deur ’n talentsoekkompetisie ontdek is. ’n Paar jaar gelede het min Suid-Afrikaners hulle aan dié inheemse plant met sy heldergroen blaartjies gesteur.

Maar met die klimaatskrisis wat ’n ál groter en dringender gesprekspunt word, het dié nederige vetplant byna oornag popsterstatus gekry en pryk hy nou op al wat ’n Instagramfoto is.

Spekbome, glo baie mense, kan ’n bydrae lewer om ons van aardverwarming te help red; daarom plant mense dwarsoor Suid-Afrika nou dat dit bars en daag hulle ander uit om dieselfde te doen as deel van die #SpekboomChallenge.

Spekbome is toppresteerders met die omskakeling van koolstofdioksied (CO2) in suurstof. Hulle lewe lank en is daarom die ideale hulpmiddel teen aardverwarming, verduidelik prof. Stefan Siebert, ’n professor in plantkunde aan die Noordwes-universiteit.

’n Hektaar spekbome kan tussen 4 en 10 t CO2 per jaar absorbeer – ’n hektaar van die Amasonereënwoud net ’n bietjie meer as 1 t per jaar.

Plantkenners is lankal bewus van dié plantjie se talente, maar die algemene publiek het eers die afgelope jaar of wat daarvan te hore gekom.

DIE SPEKBOOMUITDAGING

Die aktrise Pascal Pienaar, wat veral bekend is vir haar rol as Karli in die kykNETsepie Binnelanders, het in September verlede jaar spekbome begin plant nadat sy ’n artikel oor die plant se voordele gelees het.

Sy het haar volgelinge met die hutswoord #SpekboomChallenge in die sosiale media aangemoedig om dieselfde te doen.

Sedertdien het sy al sowat 900 spekbome by onder meer skole, universiteite en restaurante geplant. Pascal dryf nou haar eie spekboomprojek deur T-hemde te verkoop. “Vir elke T-hemp wat verkoop word, gaan plant ek twee spekbome,” verduidelik sy.

Terselfdertyd het die bestuur van die Boplaas-wynlandgoed naby Calitzdorp in die Wes-Kaap verlede jaar ’n veldtog begin om Suid-Afrikaners aan te moedig om teen 2025 saam ’n miljoen spekbome aan te geplant het om die klimaatskrisis te help beveg.

Sedertdien daag mense mekaar in die sosiale media uit om elk 10 spekbome te plant.

Die eienaar van Boplaas, Carel Nel, het 30 jaar gelede besef die aarde gaan groot omgewingsuitdagings moet oorkom, vertel Rozanne Nel, Carel se dogter en die bemarkingsbestuurder van die plaas.

Dus het hy so 2 200 ha veld waar spekbome natuurlik voorkom vir natuurbewaringsdoeleindes bekom.

’n Omgewingsimpakstudie van hul plaas het gewys die bome in die veld haal jaarliks so 5 000 t CO2 uit die lug en maak hul plaas CO2-neutraal: Al die CO2 wat die plaas se bedrywighede vrystel, word weer verwyder.

Die Nels plant nou nog spekbome in hul bewaringsgebied, maar Boplaas werk ook saam met ander instellings in die omgewing om bome op ander plekke te plant, sê Daniel Nel, ’n distilleerder en bemarker van Boplaas.

Dit sluit skole, huise, veld wat gerehabiliteer word en selfs die middelmannetjies van strate op Oudtshoorn in.

Boplaas maak en versprei steggies na ander dele en moedig mense aan om ook self steggies te maak en uit te deel.

HOEKOM IS DIT ’N WONDERPLANT?

Ons doen en late lewer vinniger CO2 as wat plante dit kan opneem en in suurstof kan omskakel, sê Stefan. Dít veroorsaak ’n oormaat CO2 in die atmosfeer en dra by tot aardververwarming en die klimaatskrisis.

“Ons het dus die natuur se fabrieke, soos spekbome, nodig om hierdie CO2 op te neem,” sê Stefan.

Die immergroen spekboom is een van die plantspesies in die wêreld wat CO2 die maklikste kan absorbeer omdat dit van twee verskillende fotosinteseprosesse gebruik maak.

“Spekbome kan net soos ander plante fotosintetiseer en bedags CO2 deur hul stomata of huidmondjies (die klein openings in die plantweefsel waardeur gasse opgeneem word) opneem,” sê Stefan.

spekbome
Rozanne en Daniel Nel van die Bo­plaas-wynlandgoed, wat onderneem het om ’n miljoen spekbome te plant om te help om die klimaatskrisis te beveg. Foto: Verskaf

“Maar in droë, warm toestande kan hulle hul huidmondjies bedags sluit om vogverlies te beperk. Om hiervoor te vergoed (want hulle benodig steeds CO2 vir fotosintese), maak hul huidmondjies saans oop, neem CO2 op en bêre dit om dit die volgende dag in fotosintese te gebruik.”

WAAR KAN JY DIT PLANT?

Spekbome kom net in Suid-Afrika voor. Daar is drie verskillende spesies. Waar een van die spesies seldsaam is, kom die ander een, Portulacaria afra, algemeen in die tuinboubedryf voor. Dit het twee tuinvariëteite, sê Stefan.

“Die sure, wat plat en meer rankerig groei met geelgroen blare (die ‘prostrata’), en die soete, wat regopper groei met groter, heldergroen blare (die ‘Limpopo’).”

Spekbome kan maklik gekweek en versorg word.

“Hulle kom natuurlik voor in semiwoestynagtige gebiede en het net sowat 250 ml water per jaar nodig om te oorleef,” verduidelik Peter Shrimpton, uitvoerende hoof van Heart Capital, ’n maat- skaplike beleggingsliggaam in Kaapstad wat sy eie spekboomprojek, Wonder Plant, bedryf.

spekbome
Van die entrepreneurs wat gehelp het om spekbome vir die reusedoolhof te kweek: Van links is Derek Zingela, Loyiso Rosha, Peter Shrimpton, Rekai Mapenda en Valentine Kangura. Foto: Verskaf

“Spekbome sukkel wel in omgewings waar dit baie ryp en temperature ysig is,” sê hy. Maar omdat hulle so aanpasbaar is, kan ’n plant selfs ná rypskade weer uitloop, sê Stefan.

Volwasse spekbome is ook meer rypbestand. Omdat spekbome heelwat minder water as ander plante vereis, kan mense in droër streke van Suid-Afrika dit ook oorweeg om dit te plant, meen Stefan.

Die plante floreer in volle sonlig en droër, goed gedreineerde grond, maar ’n kusklimaat is nie skadelik daarvoor nie. En as jy nie ’n yslike tuin het nie?

Al kan spekbome tot 5 m hoog groei, is hulle ook goeie potplante en kan hulle op jou stoep of selfs binnenshuis leef, sê Peter.

Kweek so ’n spekboom van ’n steggie

  • Sny ’n takkie van ’n spekboom af en laat dit sowat twee dae effens uitdroog in ’n koel omgewing.
  • Plant die takkie in sanderige grond en gee dit ’n bietjie water.
  • Plaas die plant op ’n warm plek in die skaduwee en gee die spekboom sowat een keer elke twee weke ’n bietjie water.
  • Wortels sal begin vorm en jy sal binne 4 tot 6 weke ’n nuwe boompie hê. Jy kan dit buite uitplant of in ’n pot hou.

“As die blaartjies dun en gedehidreer lyk, moet jy vir die plant water gee,” sê Peter. Jy kan dit weekliks of elke twee weke water gee.

Veelsydige spekboom

Spekbome het ’n magdom talente:

Dis lekker in slaaie.

Die blaartjies het ’n suurlemoenagtige smaak en werk goed in ’n slaai saam met tamatie en kekerertjies, sê Stefan.

Die res van die plant smaak nie lekker nie, maar is nie giftig nie, sê Stefan.

  • Dit voorkom erosie. Spekbome het ’n penwortelstelsel en is daarom ’n goeie grondbinder.
  • Jy kan jou dors les deur aan die blare te suig.
  • Dit kan skete behandel. Kou die blaartijes vir ’n seer keel – dit is propvol vitamien C. Die fyngedrukte blare kan ook help om onder meer insekbyte en sonbrand te behandel.
  • Dit werk in ’n drankie. Die takkies en blare word gebruik om jenewer te geur en laat jou drankie byderwets lyk.

Die doolhof

’n Reusedwaaltuin van spekbome word in Februarie net buite Stellenbosch geplant. Dit gaan uit 90 000 spekbome bestaan en 230 x 230 m groot wees.

Daar gaan nog sowat 30 000 spekbome rondom die labirint geplant word, sê Peter Shrimpton van die Wonder Plant-organisasie.

“Ons wil graag met die doolhof aandag trek vir ons boodskap: dat mense moet oplet na hul koolstofspoor.”

Die plantwerk gaan na verwagting drie maande neem om te voltooi, sê Peter. Mense kan betrokke raak deur die spekbome in die doolhof te help plant of van die paadjies te borg – gaan na www.wonderplant.co.za.

Peter het sowat drie jaar gelede begin om mense in townships op te lei om spekboompies te kweek as deel van die organisasie se maatskaplike opheffingsprogram.

“Ons het met 300 boompies begin. Vandag het ons 164 000 bome en ons het al meer as 65 000 geplant.”

Ekstra bronne: Shamwari.com, boplaas.co.za, wonderplant.co.za, sciencemag.org