Die nuus oor die Centurion-tiener wat sy ouers na bewering wreedaardig met ’n mes en ’n gholfstok aangeval het, het ’n paartjie, wat hulself gereeld oor hom ontferm het, erg geskok gelaat.

Dries Jordaan se vrou, Bronwyn, het op 6 Januarie ’n oproep van Ruan van Heerden (18) gekry en niks daarvan gedink nie.

“Sy het nie die oproep geantwoord nie. Sy het gedink hy is nog in die rehabilitasiekliniek en wou ’n kans vat,” sê hy.

Min het hulle geweet dat die tiener op 10 Januarie in die middernagtelike ure sy ouers, Barnie (54) en Magda (49) by hul huis in Pierre van Ryneveld in Centurion na bewering sou aanval.

Magda is met veelvuldige steekwonde per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem en sterk tans in die intensiewesorgeenheid aan.

Sy pa, Barnie, se arm moes in die hospitaal geheg word, maar hy is reeds ontslaan.

Barnie van Heerden
Ruan saam met sy pa, Barnie. Foto: Facebook

“Hy het my vrou as ‘Ma’ aangespreek,” sê Dries.

Die egpaar het in Centurion gebly maar het intussen na Hoedspruit verhuis.

“Ons teel met luislange en Ruan het in ’n stadium van dié slange by ons gekoop met die doel om ook met hulle te teel, maar hy was gedurig in die moeilikheid en het hulle die heeltyd laat vrek.”

Hy sê hulle is erg geskok oor die gebeure.

“Dit kon net sowel ons gewees het. Hy het gereeld by ons kom kuier,” sê Dries.

Ruan was glo vir sowat ’n jaar in ’n rehabilitasiesentrum in De Aar voor hy in Desember 2019 na sy ouerhuis teruggekeer het.

Oor die dwelms beweer Dries Ruan se ma het baie met hom gesukkel weens sy verslawing.

“Sy het een keer in sy broeksak wit poeier gekry. Ek weet nie of dit kokaïene of CAT was nie.

“Ons is regtig diep geskok oor die gebeure. Sy ouers is goeie mense.”

Dwelms
Ruan (18) was vir ’n jaar in ’n rehabilitasiesentrum voordat hy verlede jaar Desember ontslaan is. Foto: Facebook.

Ruan het ná die aanval op sy ouers sy pa se motor gesteel. Die motor is verlate in Thembisa aan die Oos-Rand gevind.

Hy het glo ’n Uber-taxi gevat en is 600 km van sy ouerhuis in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap vasgetrek.

Volgens Stiaan Bekker, Barnie se sakevennoot, sterk die ouerpaar goed aan, maar gaan hulle nie in dié stadium enige onderhoude toestaan nie.