Só het 'n uiters verligte Kay Longstaff aan joernaliste vertel nadat 'n Kroatiese kuswagspan haar Sondagoggend skuins voor tien opgepik het nadat sy Saterdagnag laat oorboord geval het vanaf die sewende dek van die Norwegian Star. Medepassasiers het haar ná middernag as vermis aangemeld.

“Ek is baie gelukkig om te leef. Ek het van die agterste dek af geval en was reeds 10 uur in die water toe hierdie 'wonderlike ouens' my kom red,” het die 46-jarige Britse lugwaardin aan 'n Kroatiese TV-span gesê.

“Sy was nie beseer nie, net baie uitgeput en in 'n toestand van skok en hipotermie," het 'n Kroatiese regeringswoordvoerder verklaar. "Sy't ons gesê die feit dat sy joga beoefen en fiks is, het haar gehelp … en dat sy vir haarself gesing het om nie oornag die koue in die see te probeer voel nie,” het 'n lid van die reddingspan vertel.

Die Norwegian Star van 92 000 ton, wat volgens hul webtuiste spog met onder meer “10 kroeë en sitkamers, 'n reuse spa en 'n opwindende casino met 'n BBP-area”, was in die Adriatiese See van Pula in Kroasië na Venesië in Italië onderweg. Dit was teen die einde van 'n week lange vaart waar hulle ook onder meer by Montenegro en die Griekse eilande aangedoen het.

Medepassasiers het vertel Kay het alleen in haar eie kajuit oorgebly, maar die plesiertog saam met familie en vriende onderneem. Sy het blykbaar die aand saam met hulle gekuier en drankies gedrink.

Volgens The Sun het sy ook vroeër die aand aanhoudend vasgesit met haar kêrel en familie.   

Haar mense het alarm gemaak toe hulle agterkom sy het verdwyn. Dis in dié stadium nog onseker hoe sy in die see beland het, maar haar handsak, met onder meer haar paspoort daarin, het op die dek agtergebly min of meer waar sy oorboord is. Een passasier het vertel die bemanning het die betrokke area met metaalstawe afgesper.

Danksy kringtelevisie kon die bemanning bepaal wanneer Kay oorboord is en min of meer hoe ver terug hulle na haar moes gaan soek. Nadat die skip ten minste vier keer verby die betrokke plek gevaar het, dog vergeefs, het die Kroatiese kuswag, vergesel van 'n verkenningsvliegtuig, oorgeneem. Hulle het haar toe eindelik kort voor tien Sondagoggend al swemmende amper twee kilometer vanwaar sy vermoedelik oorboord is, opgespoor.

Oorlewingskenners het gesê buiten haar joga, fiksheid en geestesingesteldheid, het die feit dat die water nie ysig koud was nie en 'n gesonde persentasie liggaamsvet wat haar met tussenpose behoorlik help dryf het, ook in haar guns getel.

Verlede maand is Francis Santiago, 'n Filippynse skoonmaker op die Norwegian Getaway-plesierskip, eers ná 22 uur in die Atlantiese waters deur 'n skip van Carnaval Cruise Line gevind.

Maar die Suid-Afrikaner Brett Archibald se beproewing van sowat 28 uur, nadat hy in 2013 tydens 'n tropiese storm in die Mentawaii-seestraat van 'n boot afgeval het, sal veral die verbeelding aangryp.

Dié branderryer het onder meer in 'n boek vertel hoe hy gedurende dié uitgerekte nagmerrie 'n haai-aanval, hordes giftige jellievisse, hallusinasies en ander gevare sowat 100 km van die Indonesiese kus af getrotseer het.

  •  'n Geraamde meer as 300 mense het sedert 2000 tydens plesiervaarte oorboord geval.

Bronne: bbc.co.uk, telegraph.co.uk, metro.co.uk, Facebook, brettarchibald.com, The Sun