Sy het gehoop daar sou eindelik opgetree word teen die man wat na bewering in die noodlottige ongeluk in Desember 2017 op die N4 by Pretoria teen haar seun Ruan en sy verloofde, Jessika Kennedy (25), vasgejaag het, vertel Ursula Kors aan Huisgenoot.

Maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om wel nou die verdagte vir moord te vervolg, was vir haar en Ruan se broer, Desmond, ’n baie bemoedigende verrassing. 

Die verloofdes was perfek vir mekaar, sê Ursula.
Die verloofdes was perfek vir mekaar, sê Ursula. Foto: Verskaf

Dit volg nadat sy Afriforum se regspan onder leiding van adv. Gerrie Nel in 2018 om hulp genader het omdat daar destyds geen vordering in die polisie se ondersoek was nie. Dit het geblyk die betrokke dossier het vermis geraak, en adv. Nel en sy privaat vervolgingseenheid moes die hele dossier van vooraf saamstel. 

Maar die NVG het dié eenheid onlangs laat weet dat hulle die bestuurder van die voertuig op aanklagte van moord gaan vervolg. En die verdagte, wat na bewering onder die invloed van sowel drank as dwelms was, sal nou einde aanstaande week in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Hy mag uiteraard eers ná sy verskyning geïdentifiseer word.

“Adv. Nel het destyds vir my verduidelik dat die klagstaat in so ’n saak gewoonlik strafbare manslag aandui en dat dit baie moeilik is om ’n saak van moord te bring,” vertel Ursula vanuit haar tuiste in Pretoria.

“Covid het hul werk verlede jaar vertraag, maar sy span het ons vroeg vanjaar laat weet die hersaamgestelde dossier was vir hersiening by die staatsaanklaer. 

Ursula by haar seuns, Ruan (regs) en Desmond. Foto
Ursula Kors by haar seuns, Ruan (regs) en Desmond. Foto: Verskaf

“Ons voel baie bevoorreg dat die saak nou wel tot in die strafhof geneem word sodat die man verantwoording kan doen. Daar is soveel ander gesinne in ons land wat nie afsluiting kan kry nie.”

Skoktyding net voor Kersfees: ‘Alles het donker geword om my’

Ruan en Jessika was daardie verskriklike dag op pad terug huis toe nadat hulle ’n paar weke ná hul verlowing by haar ma op Witrivier in Mpumalanga gekuier het, onthou Ursula.

“Ruan het my nog ge-WhatsApp toe hulle daar wegtrek en gesê dat hy my sou laat weet wanneer hulle hierdie kant aankom.”

Maar toe haar foon kort voor vier die middag lui, was dit nie haar seun nie, maar ’n vriend van Jessika se ma. “Hy het gesê daar was 'n ongeluk . . .” En toe sy dadelik vra of Ruan-hulle oukei is, antwoord hy: Hy’s verskriklik jammer, maar albei is opslag dood.

“Op daardie oomblik was dit asof dit net donker word rondom my. Ek het op die bed gaan sit en bid.

“En toe wou ek sonder versuim na die ongelukstoneel. My buurvrou het my nog probeer keer, maar ek moes net gaan.

“Toe ek daar aankom, is Ruan en Jessika al uit hul motortjie gehaal. 

“Alles was baie deurmekaar . . . Die intense gevoel van onwerklikheid die res van daardie dag sou my bybly; ek kon my nie indink dat hulle nie meer daar is nie.

“Intussen het ek nie geweet hoe ek die nuus aan Desmond sou meedeel nie. Vandat ons hom sy bababoetie – twee jaar jonger as hy – die eerste keer laat vashou het, was die twee onafskeidbaar. Hy het Ruan altyd beskerm.

“Dit was vir my een van die moeilikste goed om te doen, en Desmond was ontroosbaar. Ek was bang hy sou ’n ineenstorting hê. 

Ruan en ouboet Desmond was onafskeidbaar. Foto: Ve
Ruan en ouboet Desmond (links) was onafskeidbaar. Foto: Verskaf

"Ek is van hul pa geskei toe hulle baie jonk was. Vir die grootste deel van hul lewe was dit maar ons drie. Ons het baie sakke sout saam opgeëet, daar was ’n baie hegte band tussen ons.”

Ursula vertel ’n ooggetuie wat in ’n groot viertrekvoertuig gery het, hoër as Ruan-hulle se motor, het haar nommer op die toneel gelos en gevra dat sy haar kontak.

“Sy het my vertel hoe sy skielik ’n groot BMW oor die middelman sien vlieg het, en dat hy Ruan-hulle met ’n geweldige snelheid getref het. Omdat hul voertuig kleiner en ligter was en nie baie vinnig kon ry nie, is dit die veld ingeslinger en het dit verskeie kere gerol voor dit op die dak tot stilstand gekom het.

“Die ooggetuie het dadelik stilgehou en na hulle toe gehardloop. Sy het vir tekens van lewe gekyk, maar geen gekry nie.” Die impak het ook die onderstel van die motor laat begin brand, “maar iemand het dit vinnig met ’n brandblusser uitgesit”.

'n Gedenkteken vir Ruan en Jessika langs die hoofw
'n Gedenkteken vir Ruan en Jessika langs die hoofweg waar hulle dood is. Foto: Verskaf

In die dae en weke daarna het Ursula haar na die Here gedraai.

“Waar ek nie staande kon bly nie, het ek my seer na Hom toe geneem. Dit was vir my ’n bron van krag wat my gedra het in die moeilikste tye, waar ek soms so in my motor gehuil het dat ek nie die pad voor my kon sien nie.”

Ruan was ’n baie lieftallige mens.

“Hy sou haweloses by ons aanbring en my vra om hulle te help”, onthou Ursula, wat haar laat in haar lewe in verpleegkunde bekwaam het en ook ’n troufotografie-onderneming het. “Toe hy en Jessika begin saamwoon, het hy nooit die mense wat by hul hek aangekom laat weggaan sonder om vir hulle iets te ete te maak nie.

"Hy het soveel empatie gehad met mense wat swaarkry en my vertel hy wens hy kon meer vir almal doen. Ek onthou sy liefde en lig. Hy het my Momsy Dear genoem: ‘Momsy Dear, wanneer kom jy weer koffie drink?’”

'n Gedig wat Ursula vir haar seun geskryf het. Fot
'n Gedig wat Ursula vir haar seun geskryf het. Foto: Verskaf

“En toe Jessika deel van ons gesinnetjie word, het sy soos ’n eie kind baie diep onder ons vel ingekruip. Sy het ’n baie mooi hart gehad. Sy en Ruan was baie goed vir mekaar.”

Vergelding

Sy en Desmond het besluit om die bestuurder te vergewe. Maar dis uit gehoorsaamheid aan hul geloof, “dit het niks te doen met hoe ek voel, die pyn waardeur ons is nie. Dit neem dit nie weg, nie die trauma en die harde werklikheid nie.”

Hulle sien nie daarna uit om met die verdagte “gekonfronteer te word” wanneer hy op 29 April in die hof verskyn nie. “Maar ons besef ons moet deur dié proses sodat geregtigheid kan geskied en die boodskap uitgestuur word dat hierdie soort gedrag gestraf moet word. 

"Die kultuur van wetteloosheid in ons land moet dringend aangespreek word. En dit strek ver en wyd. Hierdie is maar een geval.

“Vergelding is nie vir ons die belangrike ding nie; wel die boodskap aan die samelewing en die wetmakers dat iets daadwerklik gedoen moet word om ander mense sulke verlies en pyn te spaar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe