Sy onthou nog daardie ysingwekkende klop aan haar deur in die vroegoggendure van April 2017: Sy moet gou kom, het ’n buurman dringend gesê, haar pa is in die hospitaal; hy het baie seer gekry . . .

Dit was 6 April, net ná 04:00 in die oggend, en die buurman se dringende klop het haar uit haar slaap wakker geruk, vertel Miekie Jacobs (24), wat destyds in Oranjeville in die Vrystaat gewoon het.

Dis eers tóé dat Miekie Jacobs, steeds in ’n slaapbenewelde toestand, die boodskappe van haar broer, Ruberto (25), op haar selfoon sien: Daar was ’n ongeluk by die kroeg; pa is na die hospitaal geneem; kom so gou as wat jy kan.

Net vroeër die aand het haar pa, Robert (47), saam met Ruberto en twee ander vriende by ’n kroeg in Vanderbijlpark gaan kuier.

Byna twee jaar later is die presiese omstandighede wat haar pa se lewe geëis het steeds onduidelik – en Miekie baklei steeds vir antwoorde oor daardie noodlottige aand.

Robert en Miekie
Robert en Miekie. Foto: Verskaf

“Ons weet steeds nie presies wat gebeur het nie,” sê ’n emosionele Miekie Dinsdag aan Huisgenoot.

“In die byna twee jaar sedert die ongeluk, het ons net enkele dinge wys geword. Een van die vriende wat saam met my pa en broer gekuier het, het na bewering ’n onderonsie met ’n ander groep mans in die kroeg gehad.

“My pa en dié vriend lyk dieselfde – veral van agter af – en een van die ander mans het hom toe getakel. My pa het glo aanvanklik gesê: ‘Ek weet nie waaroor julle baklei nie, maar dit was nie ek nie.’ Maar toe reën die houe op neer.

“My broer het ingespring, maar een van ’n groep mans het hom in ’n hoek vasgekeer. My pa is aangerand; stukkend geslaan . . . Hy het in die kroeg inmekaargesak. Dis toe dat ’n ambulans ontbied is.”

Miekie beweer die vriend van haar pa, wie se naam weerhou word, het daardie aand weggehardloop en sy motor op die toneel gelos. Hy het nooit weer met die familie kontak gehad om oor daardie aand se gebeure te praat nie.
Ruberto
Ruberto. Foto: Verskaf

Robert is dieselfde aand na die Sebokeng-hospitaal in Vanderbijlpark geneem. Albei sy arms was gebreek, hy het bloeding op die brein gehad en was erg gekneus. Dokters meen glo hy is met ’n swaar voorwerp oor die kop geslaan, en sou waarskynlik nooit volkome herstel het nie.

“Robert vertel hy het my pa nog opgehelp nadat die ouens hom klaar bygekom het. Hy het gesê: ‘Help my! Help my!’ Toe verloor hy sy bewussyn – en hy het nooit weer wakker geword nie.”

Robert is twee dae ná die voorval van die Sebokeng-hospitaal na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal oorgeplaas waar hy ’n breinoperasie sou ondergaan. Maar sy gesondheid het drasties agteruitgegaan, en hy is dieselfde dag, op 9 April, in die hospitaal oorlede.

“Dit het ons familie gebreek. Ons was stukkend. Niemand van ons kan dink dat iemand so ’n sinnelose daad kan doen nie – om ’n onskuldige man tot ’n pulp te slaan; om sy lewe net daar te neem. Dis die wreedheid van die daad wat nog daagliks by ons spook,” sê sy.

Miekie se pleidooi op Facebook, waarin sy vra vir ooggetuies om vorendag te kom, word nou wyd versprei. Daarin vra sy: “As jy die aand teenwoordig was, of enige inligting het rakende die persone wat my pa doodgeslaan het, inbox my. Daar is baie wat teenwoordig was, maar niks wil sê nie . . .”

Hieroor sê sy: “Dis ál wat ek wil doen – ek wil net hê geregtigheid moet vir hom geskied. Hy verdien dit. En ek sal aanhou baklei tot daar meer antwoorde is en iemand hiervoor boet.”

Sers. Gertrude Makhale, ’n woordvoerder vir die polisie, sê op navraag van Huisgenoot nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Die saak word steeds ondersoek – maar meer inligting daaroor, en waar sake staan, kan nie nou bekendgemaak word nie.”