Hailee Stender (30) het ’n nier aan haar sterwende pa, John, geskenk nadat fase 4-nierversaking by hom gediagnoseer is en hy gehoor het hy het net twee jaar oor om te leef. 

Die twee is afgeneem waar hulle mekaar huilend omhels toe hulle herenig is nadat albei operasies op 12 Maart in die Cleveland-kliniekhospitaal in die Amerikaanse deelstaat Ohio afgehandel is.

Hailee, die enigste biologiese dogter tussen drie sibbes, het nie twee keer gedink toe sy ’n hospitaalafspraak bywoon en hoor haar pa se gesondheid gaan agteruit en hy moet dadelik ’n nieroorplanting kry nie. 

Oor haar eerste gedagtes toe sy ná die operasie met haar pa herenig is, sê Hailee: “Maak nie saak hoeveel pyn ek ervaar het nie, ek sou dit elke liewe keer weer gedoen het.

Die twee is afgeneem waar hulle mekaar huilend omhels toe hulle herenig is. Foto: Magazine Features

“Ek het gesien hoeveel beter hy lyk danksy daaraan. 

“Ek is nou met meer as net deur bloed aan my pa verbind. ’n Deel van my sal altyd by hom wees. Ek het ’n kans gehad om sy lewe te verbeter. Ek voel baie geëerd dat ek sy lewe kon help red.”

Haar suster, AnaRosa, wat as ’n baba in Ecuador aangeneem is, het die hele ervaring vasgelê en loof haar suster oor haar “lewensreddende en onbaatsugtige daad”. 

AnaRosa sê: “Hailee het geweet sy sal in ’n stadium in haar lewe trou en sy wou hê haar pa moet met haar kansel toe stap.

“Sy is die onbaatsugtigste en bewonderenswaardigste mens wat ek ken. 

“Sy het innig lief en haar bereidheid om ’n nier te skenk, spreek boekdele daarvan. Hailee is amptelik ’n lewensredder. Sy het ons pa se lewe gered. Dit het ons familie se lewens verander.”

John herstel glo goed nadat hy sy dogter se gesonde nier ontvang het. Die dokters hou hom fyn dop en hy moet sy chirurg twee keer per week besoek. 

’n Nier kan enige tyd verwerp word, maar dit gebeur gewoonlik in die eerste 72 uur of tussen drie tot ses maande ná die operasie. 

Hailee, wat haar geskenkte nier Kevin genoem het, wou die ervaring as ’n lighartige avontuur beskou, maar moes haar hele lewe ná die operasie aanpas – van haar dieet tot haar daaglikse oefensessies.

Die operasies het gesamentlik agt en ’n half uur geduur en die verwagte hersteltyd is tot ses maande.