Ja, die skok laat alles steeds onwerklik voel, die leemte is groot en die vrae baie, vertel Chanti Dawson (30) aan Huisgenoot kort voor haar pa se afskeidsdiens, hierdie Maandag elfuur in Broederstroom.

Die wrede, sinlose moord op Peter Dawson (64) in 'n huisrooftog op 'n kleinhoewe in die omgewing het die soveelste keer die afgelope maande 'n landelike gemeenskap laat steier. Sy jonger dogter Crystal (28) was saam met hom tuis, maar het daarin geslaag om te ontsnap en in die donker deur die bosse gehardloop tot by 'n pad.

Daar het 'n paartjie hulle eindelik oor die verwarde, getraumatiseerde vrou ontferm, nadat sy vergeefs 'n aantal ander motoriste probeer stop het, en haar gehelp om Chanti en hul jongste suster Sarah (24) in die hande te kry sodat die polisie ontbied kon word.

"Crystal vaar so goed as wat sy kan onder omstandighede, maar die hele familie voel verlore en ons het baie gemengde emosies," vertel Chanti. "Waarom hy, waarom ons… waarom wou die rowers vir my en Sarah wag om terug te keer?"

Die twee het by 'n paar vriende gaan inloer nadat die drie susters, by Peter vir hul gebruiklike "pa-en-dogters"-naweek, die Sondag aandete saam met hom geniet en bordspeletjies gespeel het. Crystal, 'n bietjie tam, het eerder by haar pa agtergebly en saam met hom na flieks gekyk.

Hy het later op die rusbank ingesluimer. Die rowers, wat die Dawsons blykbaar 'n ruk dopgehou en die elektriese omheining geknip het, het Crystal en haar pa oorval toe sy kort voordat sy sou inkruip buite 'n sigaret gaan rook het.

Peter saam met sy dogters, Sarah, Crystal en Chanti.

Peter het met die rowers probeer redeneer toe hulle so met sy dogter die huis inbars, maar een het hom koelbloedig in die bors geskiet, want die aanvaller "wou nie verder na hom luister nie", vertel Chanti.

Peter het teruggesteier en op die vloer neergeval. "Ons weet nou hy is ook met 'n vuuryster oor die kop geslaan, maar dit was die skoot wat hom laat sterf het," vertel Chanti. Nadat sy saam met die polisie by die huis aangekom het, het sy langs Peter se liggaam inmekaargesak en moes sy uiteindelik daar weggedra word.

"Ons het liewer gekeer dat Sarah die toneel sien omdat sy (heelwat jonger is)."

Die rowers het Crystal die aand gedwing om langs haar pa se lewelose liggaam te sit, sy trouring af te haal en vir hulle te gee. Een het haar daarna na 'n slaapkamer probeer sleep, maar sy het haar so teëgesit dat hy omgedraai het om by sy makkers te gaan kla. Dis toe dat Crystal haar kans waarneem en by 'n deur uithardloop.

Chanti vertel nou sy en Crystal is ook jare gelede in 'n gewapende rooftog op hul ma se huis in Kyalami gyselaar gehou. Daardie situasie "was baie dieselfde, en ons glo die ervaring het haar help sterk maak, vinnig dink en die veggees gegee om vir haar lewe te vlug".

Peter met 'n kleinkind. Foto: Verskaf

Haar pa, 'n Britse burger wat reeds in sy 20’s hierheen geëmigreer het, "was altyd 'n trotse Suid-Afrikaner en het groot hoop en aspirasies vir SA gehad. Hy was 'n standvastige sakeman met 'n ruim hart, geliefd deur baie mense en 'n vaderfiguur vir die meeste, en het altyd probeer om hierdie land 'n beter plek te help maak".

Sy afskeidsdiens, by die Glen Afric-sentrum in Broederstroom, sal "'n viering van sy lewe wees en dit is oop vir enigeen wat wat hul respek wil betoon".

Chanti voel nie hierdie hoewe-aanval moet met plaasaanvalle of grondeise vereenselwig word nie. "Ons glo egter baie sterk slagoffers se families, alle burgers, moet opstaan en terugveg, ons stories vertel… ons moenie geïntimideer word en stilbly nie. Soveel mense se lewe word geraak deur 'n paar vrot appels wat hierdie gruweldade pleeg. Ons moet terugveg en hulle uit die samelewing uit werk…"