Tien jaar later weet ons meer oor die pad wat Elisabeth moes loop nadat sy op 26 April 2008 gered is. Sy was 42 jaar oud.

Ná afloop van die hofsaak teen haar pa, is Elisabeth van ’n nuwe identiteit voorsien. Vanaf 2009 woon sy met haar ses kinders (nou 17 tot 31 jaar oud) in ’n klein dorpie iewers in Oostenryk.

Dit was ook in daardie einste dorpie dat Elisabeth in dieselfde jaar liefde gevind het by Thomas Wagner, die lyfwag wat aangestel is om haar te beskerm. Hy is 23 jaar jonger as sy, maar die twee het glo halsoorkop op mekaar verlief geraak.

Boonop klink dit asof haar kinders gek is oor Thomas en hom as ’n ouer broer beskou.

Een van haar psigiatriese versorgers het gesê die liefde tussen Elisabeth en Thomas is duidelik ’n bewys dat liefde die sterkste mag ter wêreld is.

"Sy gaan voort met haar lewe, sy leer bestuur, help haar kinders met hul huiswerk en maak vriende in die gemeenskap.

"Sy het jare van haar lewe in daardie kelder verloor; sy is vasberade om elke dag wat sy leef, bedrywig te wees.”

Josef Fritzl

Tien jaar gelede, op 19 Maart 2009, is Fritzl lewenslange gevangenisstraf opgelê nadat hy een van sy dogters meer as 3 000 keer oor ’n tydperk van 24 jaar in die kelder van die gesin se huis verkrag het.

In ’n bitter ironiese kinkel het Fritzl ’n paar duisend rand van die plaaslike dorpsraad ontvang om die kelder te bou. Dit was tydens die Koue Oorlog en kernwapenbestande kelders was ’n normale praktyk omdat Amstetten so na aan die destydse Ystergordyn was – die grens met Tsjeggoslowakye.

In daardie kelder van ongeveer 40 vierkante meter met drie klein slaapkamers, ’n kombuisie en badkamer (alles in wit geteël), gange van net 60 cm wyd en ’n plafon van kwalik 1,7 m het sy sewe kinders gebaar.

Ses het oorleef maar Michael, Alexander se tweelingboetie, het gesterf toe hy net drie dae oud was. Fritzl het die lykie in die houtoond veras. Elisabeth moes toekyk.

Elisabeth se ma, Rosemarie, was glo heeltemal onbewus van Fritzl se monstergedrag. Sy het voet in die wind geslaan toe die skandaal bekend geraak het en Elisabeth sukkel om te glo dat Rosemarie werklik nie geweet het wat onder haar neus aan die gang was nie.

Rosemarie het ook haar naam verander. In Oktober 2012 het Fritzl amptelik van sy vrou van 55 jaar geskei omdat sy hom na bewering nooit in die gevangenis besoek het nie. Sy het ook nie op enige van sy briewe aan haar reageer nie. Dit is onseker of sy nog leef, en indien wel, waar sy haar bevind.

Die 'boonstes' en die 'kelder-kinders'

Fritzl het glo gekies watter babas van die ses babas in die huis sal opgroei terwyl die ander in die kelder in isolasie moes agterbly. Die storie wat Fritzl oor die drie “boonste” kinders verkondig het, is dat hul ma hulle weggegooi en by ’n sekte aangesluit het. Kindersorgbesoeke het die Fritzls as geskikte pleegouers bevind.

Daar word vermoed hy het die keuse gemaak om kinders uit die kelder te verwyder omdat die leefruimte so beknop was. Die oudste twee kinders was te veel van 'n risiko omdat hulle in daardie stadium oud genoeg was om te praat en natuurlik sy geheime lewe in die kelder op die lappe sou bring.

Volgens bronne is Elisabeth se drie “kelderkinders” by haar gelaat toe sy in ’n kliniek buite Amstetten onder ’n span maatskaplike werkers, sielkundiges en terapeute se toesig geplaas is. Een van die kelderkinders, bloot net bekend as Felix, het glo die meeste van die tyd in absolute verwondering die gras bly streel.

Weldra is Elisabeth met haar "boonste" kinders verenig: Lisa, Monika en Alexander.

Hoekom Elisabeth?

“Ek weet nie hoekom nie, maar my pa met my eenvoudig vir homself gevat,” het Elisabeth destyds gesê.

Sy was een van Fritzl se vyf dogters en twee seuns. Haar pad van hel met haar pa het reeds begin toe sy 11 jaar oud was. En in Januarie 1983 het sy (toe 16) van die huis af weggeloop en in Wene gaan wegkruip.

Maar die polisie het haar aan haar ouers terugbesorg. Ná haar 18de verjaardag is sy op 28 Augustus 1984 deur Fritzl na die kelder gelok onder die voorwendsel dat sy hom moet help dra aan ’n deur.

Min het sy geweet dit sou die laaste keer wees wat sy die son sou sien vir die volgende 24 jaar van haar lewe. Dit was daardie einste deur, een van agt waarvan drie elektronies gesluit het, wat hy gebruik het om haar in die kelder toe te sluit.

Fritzl het ook by tye heerlik in die buiteland rinkink, en tydens lang tye van afwesigheid moes die keldergesin van bevrore en geblikte kos leef.

Ontsnapping was nie ’n opsie nie. Terwyl hulle nog in aanhouding was, het Fritzl haar gedreig dat die “kelderkinders” (Kerstin, Stefan en Felix) vergas sou word as hulle enigsins sou probeer om te ontsnap.

Toe word haar oudste dogter, Kerstin (toe 19), siek en verloor haar bewussyn. En Elisabeth moet vir Fritzl help om haar by die trap op te dra sodat sy hospitaal toe geneem kan word. Dit was die eerste keer sedert hy haar in die kelder toegesluit het dat Elisabeth die son gesien het.

Sy het ’n briefie saam met hom gestuur waarin sy vertel het van die hoesmedisyne en aspirien waarmee sy vir Kerstin wou gesond maak en gesmeek dat sy gehelp moet word: “Kerstin is baie bang vir mense; sy was nog nooit in ’n hospitaal nie.”

Die hospitaalpersoneel het snuf in die neus gekry en die polisie gekontak. Hulle het ook op televisie versoek dat Elisabeth na vore moet kom omdat Kerstin baie ernstig siek was. Elisabeth het dit raakgesien en Fritzl aangesê om haar hospitaal toe te neem. Hy is op die hospitaalgronde in hegtenis geneem.

Isolasie

Fritzl (wat op 9 April vanjaar 84 sal wees) is steeds agter tralies in die Krems-Stein-gevangenis. Sy gesondheid is besig om vinnig agteruit te gaan. Hy sonder hom van die ander gevangenes af. In 2017 het hy ongeveer R7 500 betaal om sy van na Mayrhoff te verander.

Vir die grootste gedeelte van sy verhoor het Fritzl volgehou hy is onskuldig aan die aanhouding van sy dogter. Hy  het haar kamstig bloot aangehou omdat sy ’n “wilde meisiekind” was wat hy teen die buitewêreld wou beskerm.

Volgens hom sou dwelms, alkohol en slegte vriende haar net skade berokken het.

Op 18 Maart 2009 het hy skuld beken op alle aanklagte wat insluit moord, verkragting, seksuele misbruik en aanranding, bloedskande asook die gevangehouding van Elisabeth.


Nog 'n Fritzl-slagoffer

Elisabeth was egter nie Fritzl se eerste gevangene nie; sy was wel sy laaste. Hy het ook sy eie ma in hul huis toegesluit.

"Ek het my ma in 'n kamer op die boonste verdieping van ons huis toegesluit," het Fritzl aan dr. Adeleheid Kastner gebieg tydens sy psigiatriese evaluasie voor sy verhoor.

"Toe het ek die venster met bakstene toegebou sodat sy nooit weer daglig sou sien nie. Sy het nooit liefde aan my betoon nie. Sy't my geskop en geslaan tot ek bloeiend op die vloer lê.

"Ek het swak en verneder gevoel. Ek het nooit eens 'n soen of 'n drukkie van haar gekry nie, al het ek hoe hard probeer. Al wat sy saam met my gedoen het, was om kerk toe te gaan."

Bronne reken hy het sy ma 20 jaar lank gevange gehou. Sy is in 1980 dood.

Bronne: independent.co.uk, theguardian.com, oe24.at, mirror.co.uk, mg.co.za, 9news.com.au