"Die einde van die pad.”

Dis hoe verpleegpersoneel na ’n afdeling van die Gosport-hospitaal in Hampshire, Engeland, verwys. Want die meeste mense wat daar opgeneem is, het dit nie lewend verlaat nie...

Tussen 1989 en 2000 is meer as 600 mense in twee sale van die hospitaal oorlede.

’n Verslag oor dié skokkende sterftesyfer wys die vinger nou na veral een mens: die 69-jarige dr. Jane Barton, oftewel “Dr. Opiate”.

Sy word aan dubbel soveel sterftes verbind as die berugte “Dr. Death”, Harold Shipman, wat in die 1990’s meer as 250 pasiënte doodgemaak het.

Soos Shipman het Barton na bewering hoë dosisse verdowingsmiddels aan pasiënte toegedien. Alan Lavender is een van die talle naasbestaandes van Barton se slagoffers wat al jare lank na antwoorde soek.

Sy ma, Elsie, is op 83 met ’n gebreekte nek in die hospitaal opgeneem. Hy het tydens ’n doodsondersoek vertel wat Barton vir hom gesê het toe hy gevra het wanneer sy ma ontslaan sou word, want hulle moes reël vir haar kat se versorging.

“Raak ontslae van die kat,” het Barton gevoelloos geantwoord.

“Weet jy nie jou ma het hierheen gekom om te sterf nie?”

Nog ’n slagoffer, die oudvlootoffisier Robert Wilson, is met ’n gebreekte skouer opgeneem en het voor sy heengaan aan sy seun gesê: “Help my; hulle maak my dood.”

Die nuwe verslag vloei uit ’n ondersoek van vier jaar. Dit betrek ook die hospitaalbestuur, polisie, aanklaers en mediese waghonde wat die gerugte oor die dodesale geïgnoreer het.

Bridget Reeves, kleindogter van die slagoffer Elsie Devine, het aan die Britse koerant Daily Mail gesê: “Die grusame, skandelike, onvergeeflike dade moet in die hof ontbloot word.”

Barton, dogter van ’n algemene praktisyn van Sussex, het in 1988 by die Gosport-hospitaal begin werk as kliniese assistent in die afdeling vir bejaardes.

Die kil vrou met die stroewe gesig het “Maak asb. gemaklik” op pasiënte se lêers geskryf.

Die bejaarde pasiënte, party met geringe kwale, het dan dodelike dosisse medisyne gekry. Agterdogtige verpleegpersoneel se besware het op dowe ore geval.

“Konsultante was bewus van dr. Barton se optrede, maar het nie ingegryp nie; daarom is hulle ook aandadig,” sê Hannah Travis, ’n prokureur wat in mediese nalatigheid spesialiseer.

“Dit is uiters ontstellend om te sien verpleegsters by die hospitaal is so ver terug as 1991 gemaan om nie hul kommer verder te vat nie. Dit gaan die verstand te bowe dat dr. Barton se diens nie destyds beëindig is nie.”

Van haar slagoffers is (kloksgewys, van links heel bo) Elsie Devine, Arthur Cunningham, Gladys Richards, Geoffrey Packman, Edna Purnell en Robert Wilson. Foto: Inpra/Rex Features

In haar enigste openbare verklaring sê Barton: “Ek het my uiterste bes vir al my pasiënte probeer doen en net hul belange en welstand op die hart gedra.”

Daar moet nog bewys word of sy met opset opgetree het en of sy nalatig was. Maar die slagoffers se families glo Barton is ’n koelbloedige moordenaar.

“Die mense het nie verdien om soos honde van kant gemaak te word nie,” sê ’n hartseer Anne Cunningham.

Haar man, Arthur, is in die hospitaal dood. Barton het op 60 afgetree en kry ’n goeie pensioen. Sy en haar man, ’n vlootoffisier, beweeg glo in gegoede kringe.

Hulle is deel van ’n drafklub, geniet voëlkyk en reis gereeld na Australië om een van hul twee kinders te besoek. Maar dit kan alles verander as die saak hof toe gaan.

Barton sal waarskynlik van strafbare manslag en growwe nalatigheid aangekla word. As sy skuldig bevind word, kan sy lewenslange tronkstraf kry.

Net voor die verdoemende verslag uitgereik is, het die Daily Mail Barton by haar huis in Gosport gekontak. “Ek weet nie wat in die verslag sal wees nie, maar ek dink dit sal baie gunstig wees,” was al wat sy wou sê.

Volgens haar bure is die Bartons sedert die verslag uitgereik is by hul vakansiehuis in Spanje. Kate Blackwell, ’n senior advokaat in die ondersoekpaneel, sê families is verheug dat geregtigheid dalk eindelik sal geskied.

“Twintig jaar te laat, maar die families vertrou dis die begin van ’n proses wat lankal moes plaasvind.”

Bronne: Dailymail.co.uk, Thesun.co.uk, Lifedeathprizes.com, Ranker.com, Standard.co.uk, News.com.au