Volgens ’n berig indie Chinese media is die pasiënt slegs geïdentifiseer as me. Wang (46) en het sy nooit die groeisel opgemerk nie.

Sy het die Wuhan-kinderhospitaal in die Hubei-provinsie in China in Junie vir 'n onverwante operasie besoek toe dit ontdek is, het die hoof-ginekoloog dr. Song Xiaojie aan die plaaslike televisiestasie gesê.

Song het vertel ’n servikale poliep sou verwyder word, maar toe hulle skanderings doen op die niekankeragtige gewas het hulle ’n groot groeisel aan haar linkereierstok van sowat 10 cm in deursnee gevind.

Die dokter het tydens ’n laparoskopie op 12 Julie die gewas ondersoek wat sy aanvanklik vermoed het is ’n eierstoksist.

Sy het ’n insnyding gemaak en hare, tande en vetweefsel binne gevind, lui die berig. In foto’s van die operasie trek sy ’n dik gekoekte stuk swart hare uit die pasiënt se maag.

“Die sak aan haar linkereierstok was omtrent so groot soos ’n pasgebore baba se kop,” het Song vertel.

maag,hare,operasie
Foto: AsiaWire/Wuhan Maternity/Magazinefeatures.co.za

“Die membraan was baie dik en wit. Toe ons dit sien, het ons almal besef dis ’n teratoom (dié soort tumor wat been, vel en hare kan bevat). Dit het gelyk asof daar ’n eindelose hoeveelheid hare daaruit kom, alles solied en ingekoek. 

“Ek het in 1982 ’n dokter geword. Ek het in my 38 jaar in die beroep nog nooit ’n teratoom gesien wat soveel hare bevat nie.”

Indien die hare losgemaak sou word, sou dit waarskynlik “etlike meter” lank wees, het Song in ’n onderhoud gesê.

Dit lyk of dit “vir dekades” sonder ophou gegroei het, het sy bygevoeg. Wang was nooit bewus van die teratoom nie, sê die dokter.

maag,hare,operasie
Foto: AsiaWire/Wuhan Maternity/Magazinefeatures.co.za

Song sê dié gewasse word in vroue se eierstokke aangetref, en by mans kom dit voor as testikulêre teratome. 

Tussen 95 en 98% van teratome is niekwaadaardig, maar 2 tot 5% kan metastaseer, het sy gesê. 

Teratome vorm wanneer ’n massa selle in die liggaam groei in verskillende weefseltipes, insluitend been, senuwees, hare en tande. Dis nie bekend wanneer Wang ontslaan sal word nie.