Vir terminale pasiënte was sy ’n engel van genade wat onuitputlik gewerk het om hul fisieke én emosionele lyding in hul laaste tyd hier op aarde te versag. As sielkundige sowel as medikus het sy immers verstaan hoe belangrik dit vir mense in haar sorg is om met waardigheid te sterf wanneer die tyd aanbreek. Maar op 3 Februarie 2017 het dié stryd om waardigheid eensklaps baie persoonlik geraak vir dr. Sue Walter, ’n geneesheer in palliatiewe sorg van Sandton.

Sy was op pad huis toe toe haar foon lui. “Hulle het vir my gesê ek het veelvuldige miëloom (’n soort beenkanker). Dit was ’n groot skok,” vertel Sue (47).

Die bordjies was verhang. Die versorger sou die pasiënt word. En sy wis maar alte goed wat dit beteken. Sy sou onder meer ’n beenmurgoorplanting en chemoterapie ondergaan. Maar Sue het daarteen besluit. Haar siekte was toe reeds in die finale stadium, sê sy.

Dr. Sue Walter het haar tot die hooggeregshof gewe
Dr. Sue Walter het haar tot die hooggeregshof gewend om die wet te verander om genadedood of bystandsdood vir terminaal siek mense toe te laat. Foto: Gallo Images/Sunday Times/Alaister Russell

“Maar jou lewensgehalte as jy behandeling ondergaan, is ook nie lekker nie. Ek het ’n 18-jarige dogter. Ek wou net hê dat die lewe wat ek oorhet ’n mate van gehalte moes hê sodat ek saam met haar kon wees.” Wanneer die siekte haar finaal van daardie lewensgehalte ontneem, sê Sue, wil sy self besluit wanneer om haar lyding met bystand- of genadedood te eindig. Dis daarom dat Sue nou in die hooggeregshof in Johannesburg pleit om die reg om self te besluit wanneer die laaste oomblik aanbreek.

Sterfte met bystand is wanneer ’n dokter die dodelike medikasie voorskryf en die pasiënt dit self toedien; genadedood is wanneer ’n dokter dit toedien. Albei is onwettig in die Suid-Afrikaanse reg, maar Sue wil dit laat verander. Al moes sy intussen weens haar siekte haar dokterswerk in haar praktyk staak, veg sy steeds vir ander siekes, beklemtoon Sue.

“Ek wil die wet verander, nie net vir myself nie, maar namens al die mense wat op hul sterfbed ly. Dit gaan nie net oor die pyn nie. Dis alles wat verband hou met siekte soos naarheid, angstigheid en die gevoel dat jy ’n las op jou familie of die samelewing is.”

Eintlik was sy al by die stryd om wettige bystand- en genadedood betrokke nog voor sy ’n ernstige siekte gekry het. In 2015 het adv. Robin Stransham-Ford, wat sterwend was aan prostaatkanker, die hof gevra om die wet te verander. Die hooggeregshof in Pretoria het toe beslis dit is Robin se grondwetlike reg om met behulp van ’n gewillige mediese dokter te sterf. Sue was ’n kundige getuie in Robin se saak.

Ironies is Robin oorlede net ure voor die hof in sy guns beslis het, en daarna is die uitspraak deur die appèlhof omgekeer. Laasgenoemde het bevind die hooggeregshof se bevel was slegs op Robin van toepassing en nie op alle terminale pasiënte nie. Die appèlhof het wel ook ’n beroep op die parlement gedoen om wetgewing oor die saak te heroorweeg, maar ses jaar later het dit nog nie gebeur nie.

Die wete dat Robin sy saak met behulp van haar getuienis gewen het, maak Sue vandag net meer vasbeslote om te veg om haar en ander se reg om waardig te sterf. “Ons moet dit bly nastreef,” sê sy. “Ons moet ons werklik daarvoor beywer.”

Sue vra nou die hooggeregshof in Johannesburg vir
Sue vra nou die hooggeregshof in Johannesburg vir die reg om te kan besluit wanneer sy sterf. Foto: Gallo Images/Getty Images/Fani Mahuntsi

Sue het nog altyd haar lewe ten volle geleef. As geneeskundige in palliatiewe sorg, oftewel mediese én sielkundige versorger van terminaal siekes, was Sue uitstekend toegerus. Sy het drie sielkundegrade verwerf voor sy ook medies studeer en in 2007 ’n diploma in palliatiewesorggeneeskunde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) verwerf het. Daarna het sy ’n meestersgraad in palliatiewe geneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Boonop is sy ’n eggenote en ma, en ook ’n gekwalifiseerde akrobatiese dansonderwyseres.

Ja, sy was altyd baie besig, vertel Sue met heimwee in haar stem. Maar haar siekte het alles verander. Sy moes haar praktyk laat vaar en is dikwels bedlêend. “My man, Chris, dogter, Amy, en my twee broers in Brittanje is my rots.”

Haar siekte was veral vir Amy moeilik. Sue is dankbaar dat sy verlede jaar haar dogter matriek kon sien slaag, en sy hoop om daar te wees wanneer Amy haar A Levels in Engelse letterkunde in Brittanje voltooi. Met ’n bietjie geluk kan sy dalk selfs eendag haar dogter se troudag beleef, reken Sue.

Want sy “vaar goed”, al weier sy formele behandeling. Sy versorg haarself deur vegetariese kosse te eet en behandel haar pyn en naarheid “soos dit kom”. Haar kanker is sedert Oktober 2019 in remissie. Sy en Amy het verlede Junie albei covid-19 opgedoen, maar ten volle herstel.

Sue is vasbeslote om lank genoeg gesond te bly om te sien hoe die wet verander: “Ons moet wag tot Oktober vir die res van die verhoor.”

Haar eie navorsing het gewys om pasiënte die keuse te gee oor hoe hulle sterf, gee ook aan hulle nuwe lewenslus. “Dit laat jou voel dat jy ’n mate van beheer het oor jou reis en dis uiters terapeuties. Om die opsie te hê is genoeg om sommige pasiënte aan die lewe te hou.”

Die wetsverandering wat sy bepleit, sal streng beleid en prosedures voorskryf. Twee medici moet jou as terminaal siek verklaar, en jy sal dan eers vir ’n tydperk palliatiewe sorg ontvang voor jy weer gevra word of jy bystandsdood kies.

Sue reken dis veral haar dogter Amy en Chris, Sue
Sue reken dis veral haar dogter Amy en Chris, Sue se man, asook familie in Brittanje wat haar rots in hierdie tyd is. Foto:

“Daar sal ook ’n psigiatriese ondersoek wees om te bepaal of die mens nie kliniese depressie het nie en of hulle inderdaad bystandsdood wil hê. Dan sal hulle vir ’n tydperk van ongeveer ses weke moet wag, en eers nadat hulle dit die tweede keer gevra het, gaan hulle voort,” sê sy.

Benewens gelowige sienings oor die heiligheid van lewe glo teenstanders van bystandsdood ook dat terminaal siekes deur gewetenlose boedelbegunstigdes oortuig kan word om hul eie dood te verhaas. Sue erken dat dit ’n bekommernis is, en “daarom moet die praktyk streng gemonitor word sodat ons nie in daardie strik trap nie. Ons wil mense beskerm.”

In afsonderlike onderhoude vertel kenners na aan Sue dat haar regstryd sprekend is van haar deernis vir ander siekes nog voor haar eie diagnose. “Sy was reeds gevestig in palliatiewe sorg en was destyds baie bekommerd dat mediese spanne die wense van pasiënte heeltemal verontagsaam,” sê prof. Kevin Behrens, direkteur van die Wits-Steve Biko-sentrum vir Bio-etiek. Kevin het ook toesig gehou oor Sue se doktorsgraad voor haar siekte haar gedwing het om op te hou.

“Sy wou navorsing doen wat ten minste sou help om die wet te verander.”

Sue en haar dogter, Amy.
Sue en haar dogter, Amy. Foto: Verskaf

Sue se saak het die aandag getrek van Wits se Sentrum vir Toegepaste Regstudie (Cals), wat toegelaat is om as vriende van die hof by die verrigtings aan te sluit. Volgens Sheena Swemmer, wat Cals in die saak verteenwoordig, beplan die sentrum om kundige getuies te roep van lande waar bystandsdood wettig is.

“Die punt is om te wys dat verskillende regsgebiede beleid vir hul land en kulture aangepas het, en dit kan ook in Suid-Afrika gebeur.” Die saak gaan nie net oor sterf nie, sê Sheena. “Mense het die reg op verskillende outonome keuses gedurende hul lewe, en eindelik moet dit ook vir die dood geld.”

Die laaste woorde kom van Sue, duidelik moeg weens ons lang Zoom-onderhoud: “Ek weet my kanker kom terug, maar vir eers gaan dit goed met my. Ek voel asof ek die krag gekry het om te veg.” Haar hoop is dat die wet sal verander in die tyd wat sy oorhet. “Ons vra net medelye en waardigheid in die sterfproses.” 

EKSTRA BRON: TIMESLIVE.CO.ZA