Wildschut is as ’n baanbreker van moderne kunsmatige bevrugting beskou.

Maar in 2009 het hy ’n donker geheim saam met hom graf toe geneem.

Dié geheim was dat hy tussen 1981 en 1993 minstens 17 kinders verwek het, hoewel swanger vroue meegedeel is die sperm kom van anonieme skenkers.

Bewyse van Wildschut se wandade het verlede jaar aan die lig gekom toe een van die skenkerkinders hul biologiese pa gaan soek het, berig die Nederlandse koerant De Stentor.

Die kind het hul DNS laat toets by ’n onderneming wat mense met lang verlore familie herenig. Hy is in aanraking gebring met ’n niggie van Wildschut. Later is nog 16 ander mense met hulle verbind.

“Dr. Wildschut het ’n vriendelike, toegewyde en eerlike indruk op ons gemaak in die voorlopige fase voor die swangerskap en tydens die behandeling,” sê een van die ouers aan De Stentor. “Ons het nooit ’n vermoede gehad hy self kon dalk die skenker gewees het nie.”

Al was dit onbehoorlik, het Wildschut geen wette oortree nie omdat kunsmatige bevrugting destyds so ’n nuwe mediese tegniek was. 

Volgens die Isala-hospitaal, waar die dokter gewerk het, “het die saak plaasgevind in ’n tyd toe daar geen wette of regulasies was wat vrugbaarheidsbehandeling beheer het nie”. 

Die Nederlandse inspektoraat vir gesondheids- en jeugsorg, wat gewoonlik sake van hierdie aard ondersoek, het besluit om nie ondersoek in te stel nie, maar die hospitaal is beveel om die dokter se wettige en die skenkerkinders en hul gesinne dadelik te kontak.

Die hospitaal sê hulle het ’n verpligting om die skenkerkinders en hul gesinne in kennis te stel, want daar kan “geboorteafwykings wees by kinders uit verhoudings tussen halfbroers en -susters wat mekaar nie ken of weet hulle het dieselfde biologiese pa nie”.

“Uit ’n morele oogpunt vind Isala dit onaanvaarbaar dat ’n ginekoloog wat in vrugbaarheid spesialiseer, ’n praktisyn en ’n spermskenker was," sê Ina Kuper, direkteur van Isala.

“Die ouers is baie tevrede met hul kinders. Maar hulle het ook gemengde gevoelens. Hulle besef nou die behandeling wat hulle ontvang het, was nie moreel reg nie.”

Dit is die tweede saak van so ’n aard in Nederland. Verlede jaar is onthul dr. Jan Karbaat (89), wat ook oorlede is, het sy sperm gebruik om 49 kinders by onwetende pasiënte te verwek. Die kliniek waar hy gewerk het, is intussen gesluit.

“Dit het nou vir ons duidelik geword vrugbaarheidsdokters was nie in staat om mekaar behoorlik te monitor nie en die beroep het jare lank misluk,” sê Ties van der Meer van Stichting Donorkind, ’n organisasie wat ook dienste bied aan mense wat na hul biologiese ouers soek. 

Bronne: Isala.NL, FIOM.NL, NLTimes.NL, HLN.BE, ZEIT.DE, Dailymail.co.uk