Sy is die mooiste blondekopdogtertjie met stralende blou oë.

Wanneer jy na die laggende Kinsley Peacock (7) kyk, moet jy mooi kyk om te sien haar regteroog is 'n glasoog.

Dit is net meer as twee jaar nadat Kinsley se ma, Kim (39) en haar pa, Adam (36) haar dokter toe gevat het nadat haar regteroog begin rooi raak het.

Hul huisdokter het pienk-oog of konjunktivitis by Kinsley gediagnoseer en sy is met ’n kursus antibiotika huis toe gestuur.

Ná ’n week was Kinsley se oog nie beter nie en het haar ouers haar na het ’n oogspesialis geneem vir 'n tweede mening. Dié het tot die gevolgtrekking gekom Kinsley het dalk ’n losgetrekte retina of selfs ’n gewas agter haar oog. 

Kim en Adam het Kinsley dadelik vir ’n sonar geneem en was verlig toe die dokter vir hulle sê hy is 99% seker dit is nie ’n gewas nie, maar eerder ’n beskadigde retina. 

Maar terwyl hulle ’n ander oogspesialis besoek het om die skade aan haar retina te bepaal, het Kim en Adam se wêreld in duie gestort. Retinoblastoom, ’n uiters seldsame en aggressiewe oogkanker, is by hul vierjarige dogter gediagnoseer.


Kinsley Peacock
Hierdie dapper dogtertjie se oog moes verwyder word nadat dit wat dokters gemeen het pienk-oog was al die tyd ’n aggressiewe vorm van kanker was wat na haar brein versprei het. Foto: Mediadrumworld.com/ @kinsleysco/Magazinefeatures.co.za

“In Desember 2018 is ons wêreld op sy kop gekeer toe ons gehoor het ons skattige dogter Kinsley het kanker,” vertel Kim. “Net drie dae voor haar diagnose was die enigste simptoom wat Kinsley gehad het, die rooiheid in haar regteroog. Maar toe die rooiheid nie opklaar nie, het ons haar na ’n tweede dokter gevat. Dié het ons ingelig Kinsley het geen sig in haar regteroog nie weens ’n losgetrekte retina wat die gevolg van trauma of ’n gewas kon wees. 

“Toe ons die woord gewas hoor, het ons op ons knieë neergesak. Minder as ’n jaar tevore het ons die begrafnis bygewoon van ’n vriend se sewejarige dogter, Avery, wat weens breinkanker dood is. Ons het nog antwoorde nodig gehad en het dadelik ’n ultraklank laat doen wat die losgetrekte retina bevestig het.

“Soos jy jou kan voorstel, het ons reuse-verligting ervaar toe die dokter vir ons sê hy is 99% seker dit is nie ’n gewas nie. Kinsley het toe nog ’n ondersoek onder verdowing ondergaan om vas te stel of die retina weer aangeheg kon word.

“Pleks daarvan het die chirurg vir ons gesê Kinsley het ’n gevorderde gewas in haar regteroog wat dadelik behandel moes word. Dit is elke ouer se grootste nagmerrie. Dit was ’n oomblik van suiwer vrees, donkerheid en onsekerheid van nie weet of ons liewe dogtertjie van ons weggeneem sou word nie." 

Kinsley Peacock by haar gesin
Kinsley by haar ouers en boetie. Foto: Mediadrumworld.com/ @kinsleysco/Magazinefeatures.co.za

Ná twee rondes chemoterapie wat haar ontsettend siek gemaak het, het dokters weer na die toestand van Kinsley se oog gekyk.

Nadat vasgestel is daar was ’n besliste gevaar dat Kinsley se kanker na haar brein kon versprei, is die besluit geneem om haar regteroog te verwyder om haar lewe te red.

“Ons het gehoor dat as dit nie vinnig genoeg gestuit word nie haar vorm van kanker, wat as retinoblastoom bekendstaan, in Kinsley se oogsenuwee af tot in haar brein sou versprei. 

“Dit was vir ons ongelooflik moeilik om ’n algehele gebrek aan beheer daaroor te hê om Kinsley se lewe te red. Al het ons in ons binneste verbrokkel met die wete dat ons Kinsley se kanker nie kon genees nie, het ons besluit om ons energie daarop te fokus om te sorg sy voel geliefd en vertroud."

Die oog is in Januarie 2019 tydens 'n twee uurlange operasie verwyder. Ses weke na die operasie het Kinsley ’n prostetiese oog gekry wat spesiaal gemeet en ontwerp is om by haar linkeroog te pas.

Gelukkig was die kanker tot Kinsley se regteroog beperk en is sy in die Amerikaanse lente van 2019 kankervry verklaar.

Kinsley moet elke vier maande ’n oogkankerspesialis besoek en elke jaar ’n oribtale MRI ondergaan om te sorg sy bly kankervry.

Kinsley Peacock
Die pragtige Kinsley laat niks haar onderkry nie. Foto: Mediadrumworld.com/ @kinsleysco/Magazinefeatures.co.za
 

Kinsley het gou gewoond geraak daaraan om net een oog te hê, sê Kim. Daarby dink haar jonger broer, Reid (4) die prostetiese oog het sy suster supermagte gegee.

Omdat sy so maklik aangepas het, is sy nie as gevolg daarvan geboelie nie. Wanneer kinders vir haar vra wat met haar oog gebeur het, sal Kinsley vinnig vir hulle vertel haar oog maak haar uniek en spesiaal.

Kinsley Peacock
Foto: Mediadrumworld.com/ @kinsleysco/Magazinefeatures.co.za

Tydens haar herstel by die huis, en om die verveling by die huis hok te slaan, het Kinsley 'n liefde vir bak ontwikkel. Sy het op die meeste dae koekies gebak. Sy het haar skeppings met haar bure en skoolmaats gedeel en vir haar heerlike eetgoed bekend geraak.

Kinsley het die idee gekry om haar koekies te verkoop en die wins te skenk om ander kinders te help wat aan kanker ly.

Pa Adam het nagte lank aan ’n koekiekarretjie gebou waaruit Kinsley haar gebak kon verkoop en sedertdien bestee sy baie van haar vrye tyd aan geldinsameling. Kinsley het al meer as R2 miljoen ingesamel deur koekies te verkoop en geldinsamelingsgeleenthede te hou.
Kinsley Peacock
Foto: Mediadrumworld.com/ @kinsleysco/Magazinefeatures.co.za

In 2021 mik Kinsley daarna om R1,5 miljoen vir kinderkankersentrums in te samel. Kinsley het selfs ’n kunsoog laat maak met ’n retina wat soos ’n koekie lyk om haar ongelooflike prestasies te gedenk. 

“Die sending van Kinsley se koekiekarretjie is om bewustheid van kinderkanker te bevorder en kinders wat teen kanker stry van items te voorsien wat vir hulle vertroosting bring, onder meer iPads, komberse, hospitaalversierings en beskermende brille vir ander met retinoblastoom," sê Kim. 

“Met dié dat ons een van die gesinne was wat in die hospitaal swaargekry het, weet ons presies watter impak die klein dade van goedhartigheid kan hê."

Aangesien die huidige opsies om kinderkanker te bestry beperk is weens die aggressiewe aard van die behandeling, hoop Kim, Adam en Kinsley hul geldinsamelingspogings sal help met navorsings oor nuwe behandelings wat meer geskik vir kinders is. 

“Omdat net vier kankerbehandelings in Amerika vir gebruik op kinders goedgekeur is, kry baie kinders nie eens die kans om teen kanker te stry nie,” sê Kim. “Ons wil navorsing help befonds oor nuwe middele van behandeling wat minder toksies vir kinders is. As ouers wat amper ons kind aan die aaklige siekte verloor het, dryf ’n ontsettende hoeveelheid medelye ons sending aan. 

“Ons hoop is dat Kinsley en haar broer, Reid, ons eendag uit die bestuurdersitplek sal skop en enige werk sal voltooi wat gedoen moet word om alle kinderkankers te genees. Ons beplan nie om binnekort die pas te verslap nie.

“Ons krag het gekom van ons sterk geloof en die ongelooflike steun wat ons van ons wonderlike familie, vriende en gemeenskap en Kinsley se wonderlike mediese span ontvang het. Vir Kinsley het kanker haar oog gevat, maar sy het nooit haar positiewe gees verloor, of haar goedhartigheid en bereidheid om ander te help nie."