Om eendag saam met jou ideale lewensmaat voor die kansel te staan is menige jong mens se romantiese droom. Die soektog na die liefde van jou lewe is dikwels ’n opwindende uitdaging, maar dis nie altyd maklik nie.

En as jy gestrem is, is dit soms nog moeiliker om daardie maat te kry. So gesels die 48-jarige Jaco Vermeulen hier by die huis in Pretoria waar hy woon. “Dit is regtig so, my liefie,” sê Michélle Smit (32) en plaas haar hand op sy been.

Sy is gehoorgestrem en is sy verloofde. Huisgenoot het 28 jaar gelede oor Jaco geskryf.

So het Huisgenoot 28 jaar gelede oor Jaco geskryf.

Hy ly aan die seldsame Hallermann-Streiff-sindroom. Dit was net nadat hy mondig geword het en hy het die skaal op ’n skamele 39 kg getrek.

Boonop het hy net 1,47 m in sy sokkies gestaan. Dokters het destyds vir sy ma, Mienie, gesê hy sal waarskynlik nie ouer as 12 of 13 word nie – maar nou beplan hy om net ná sy 49ste verjaardag in Augustus voor die kansel te staan.

Jaco en Michélle het lank gedink liefde sal hulle nooit beskore wees nie, maar ná ’n warrelwindromanse in Februarie 2016 op die idilliese Kosibaai, in die noordooste van KwaZulu-Natal, het hulle verloof geraak en die twee tref nou reëlings vir hul troue op 21 September in Pretoria.

Jaco woon by sy susterskind, Chantal Oosthuizen, in Pretoria. Dit is hier waar hy en Michélle vandag vertel van die uitdagings wat hulle moes oorkom voor hulle liefde gevind het.

Hy skuif sy swaar bril terug op sy neus en verduidelik dan meer oor die sindroom waarmee hy gebore is. “Min inligting is oor die sindroom bekend. Die sigbare tekens is geen haargroei nie, beperkte liggaamsgroei, swak tandontwikkeling en swak sig- en oogspiere. Maar dit tas nie jou brein- en denkvermoë aan nie.”

Hy skakel VHS-video’s in DVD’s om. Foto: Sharon Seretlo

Met sy bril op het hy 25% sig in sy linkeroog en net 5% in sy regteroog. Ná sy geboorte het dokters vir sy ma gesê hulle vermoed hy kon die sindroom opgedoen het nadat sy tydens haar swangerskap met masels in aanraking was, “maar tot vandag toe weet dokters nie eintlik waar dit vandaan kom nie”.

Jaco het aan die Prinshofskool vir Gesiggestremdes in Pretoria skoolgegaan en later aan die Pionierskool, die skool vir blindes op Worcester. Michélle was in die Sonitusskool vir hardhorendes, ook in Pretoria.

Sy het daarna ’n diploma in haarkappery verwerf en ’n jaar lank by ’n salon gewerk, “maar nadat die plek toegemaak het, kon ek nie weer werk kry nie”, vertel sy. Jaco vryf oor sy kaal kop. “Kyk net hoe mooi doen sy my hare elke dag,” sê hy en Michélle lag.

Die afgelope vier jaar maak sy tafelversierings en -dekor, soos tafelmatjies, wat sy op vlooimarkte verkoop. Omdat sy net 30% gehoor het, dra sy ’n gehoorstuk.

“Wanneer sy my nie meer wil hoor nie, haal sy net die gehoorstuk uit,” terg Jaco, vandag ’n motiveringspreker met sy eie onderneming wat VHS-video’s in DVD’s omskakel.

Voor hul verlowing in 2016 was albei in ’n ander verhouding, en nadat dit skipbreuk gely het, het hulle getwyfel of hulle ooit weer liefde sal vind, bieg albei.

Haar verloof­ring. Hulle beplan om in September in Pretoria af te haak. Foto: Sharon Seretlo

Min het hy geweet sy groot liefde is heeltyd reg onder sy neus, sê Jaco.

Hy ken Michélle al vandat sy vyf jaar oud was. Haar pa, Hennie, en Jaco se oom Seef Breytenbach was destyds kollegas by Telkom en is vandag nog huisvriende. Die Smits en Breytenbachs het gereeld saam vakansie gehou en Jaco is ook dikwels saam.

Dit was hoeka tydens een van dié familiekuiers so 12 jaar gelede dat Jaco skielik met ander oë na Michélle begin kyk het. Hy kan nie onthou presies waar dit was nie, maar vertel: “Ek het gesien die meisiekind het nou darem bleddie mooi geword.”

Die twee het ál meer gesels en mekaar selfs af en toe na ’n geleentheid vergesel, “maar ons was niks meer as net close vriende nie”.

Die twee het vyf maande nadat hulle begin uitgaan het verloof geraak. Foto: Sharon Seretlo

Jaco was in 2014 in ’n verhouding wat ’n raps langer as ’n jaar gehou het, en Michélle was ’n ruk lank aan iemand anders verloof. Maar daardie gesamentlike kamp in Februarie 2016 op Kosibaai het die romanse laat ontwaak.

Twee dae voor die vakansie het Michélle hom gebel en gesê haar verlowing is verbreek.

Toe weet Jaco: “Dis nag; hier kom ’n ding.”

Kosibaai se wandelroetes is ’n paradys vir stapliefhebbers soos Jaco en Michélle. Tydens een van hul vele staptogte het hulle op ’n bankie gaan sit wat oor ’n kloof uitkyk.

Hy het sy hand op haar been gesit en gevra: “Jy weet mos ek is baie lief vir jou?”

Sy het instemmend geknik.

Jaco het Michélle in 2016 gevra om te trou. Foto: Sharon Seretlo

“Sal jy dan met my uitgaan?” het hy uit die bloute gevra.

Michélle was so onkant betrap, sy het net voor haar uitgestaar en niks gesê nie.

“Sy het so lank stilgebly dat ek begin wonder het of ek nog moet wag op ’n antwoord en of ek maar oor die afgrond moet spring,” onthou Jaco met ’n glimlag.

Sy het toe darem ingestem tot ’n verhouding, vertel hy.

“Daarna was ons elke dag saam,” val Michélle hom in die rede. Gou het die troupraatjies tussen die twee begin loop, en wanneer hulle die kans gekry het, het hulle na ringe gekyk.

Tog was Michélle weer verras toe hy haar in Augustus daardie jaar, op sy verjaardag, vra om te trou. Die twee het die dag op ’n ontspanningsplaas net buite Pretoria deurgebring waar hulle die oggend perdgery het. Vir middagete het hy ’n tafel in die restaurant op die plaas bespreek, maar hy het meer as net ’n ete beplan.

Eers het ’n kelner ’n bos blomme op die tafel kom neersit, en daarna ’n bottel vonkelwyn. Sy het nog gedink: “Wat gaan nou hier aan?” onthou Michélle.

“Toe is hy hier langs my op sy knie en vra my om te trou. En toe huil ek!”

Jaco het voor die tyd amptelik haar pa se toestemming gevra. “Sjoe, daai dag het ek gesweet. Kyk, ek ken hom mos nou darem al baie lank, maar dit is ’n ander ding om ’n bier te vra as om hom om sy dogter te vra.”

Michélle woon steeds by haar ouers, en deesdae bly die twee verliefdes om die beurt daar of in Jaco se plek. Hennie gaan binnekort vir die twee ’n woonstel op sy erf bou. “Hy wil darem ’n ogie hou om te sien of sy dogter in goeie hande is,” skerts Jaco.

Foto: Sharon Seretlo

Hul troue gaan ’n klein geselligheid met 40 gaste wees. Ja, natuurlik beplan hy ’n wittebrood, maar daaroor kan hy nie nou praat nie, sê Jaco geheimsinnig.

Nie een van die twee kan bestuur nie en hulle is van ander mense afhanklik om hulle rond te ry, soos wanneer hy as motiveringspreker iewers in of naby Pretoria optree.

Dit is dan dat hy gewoonlik vir die gehoor vertel om altyd positief te wees en in jouself te bly glo. Hy is gelukkig in sy lewe, vertel hy ook altyd, want “ek het baie om voor dankbaar te wees”.

Toe ons groet, sê Michélle sy liefdevolheid is vir haar spesiaal.

Jaco sê weer: “Sy is my alles; sy is die rede hoekom ek soggens wakker word.”

’n Troue beteken vir almal baie, maar vir ’n gestremde beteken dit nog meer omdat ’n mens nie altyd dink jy sal daar uitkom nie, sê Jaco.

Dan voeg hy by: “Op daai dag sal beslis iewers ’n sakdoekie uitkom.”