Lewerkanker in die finale fase is gediagnoseer by die 28-jarige wie se naam net as Mnr. Li bekendgemaak is. Sy lewer vol gewasse het meer as 5 kg geweeg en was 36 cm lank toe dit eindelik uitgesny is.

Die pasiënt het langer as ’n dekade met hepatitis B saamgeleef en dokters sê sy liefde vir sterk drank en gewoonte om twee pakkies sigarette per dag te rook, het sy toestand vererger. Mnr. Li, van die stad Shenzhen in Suid-China se Guangdong-provinsie, het drie maande gelede by ’n hospitaal in die stad gaan hulp soek.

Oorgroot lewer
Skokkende skanderings het getoon sy lewer het tot verskeie keer die normale grootte vergroot. Foto: CEN/Magazine Features

Hy het gekla van ’n swak eetlus en dat hy gedurig siek voel. Skokkende skanderings het getoon sy lewer het tot verskeie keer die normale grootte vergroot. Ná nog toetse, onder meer ‘n lewerbiopsie, is vasgestel hy het gevorderde kanker en is hy op die oorplantingslys vir ‘n nuwe lewer geplaas. 

Die gelukkige pasiënt het net ’n maand gewag en sy nuwe lewer op 21 November ontvang.

Oorgroot lewer
Die lewer het meer as 5 kg geweeg en was 36 cm lank. Foto: CEN/Magazine Features

Die oorplantingchirurg Jiang Nan het aan die plaaslike media gesê: “Met die operasie het ons ontdek die pasiënt se lewer is uiters groot. Dit was veel groter as een wat gewoonlik in ’n normale mens voorkom.

“Ons het dit later geweeg en gemeet en gevind dit weeg 5 kg.”

Die hospitaal beskryf Mnr. Li se siek lewer as “swaarder as twee pasgebore babas”.

Oorgroot lewer
Die lewer was vol gewasse. Foto: CEN/Magazine Features

Jiang sê dit is die grootste lewer wat hy in sy 20 jaar in die veld gesien het. Hy voeg by: “Eerstens het pasiënt reeds hepatitis B gehad. Tweedens was hepatitis in sy familie se mediese geskiedenis.

Oorgroot lewer
Tydens die operasie het dokters ontdek die pasiënt se lewer is uiters groot. Dit was veel groter as een wat in ’n normale mens voorkom. Foto: CEN/Magazine Features

“Derdens was hy ’n swaar drinker en roker, wat alles die risiko beduidend verhoog om lewerkanker te ontwikkel.”

Mnr. Li het aan die plaaslike media gesê hy het ook die gewoonte gehad om laat wakker te bly, wat sy lewer verder verswak het deur sirrose te veroorsaak.

Die hospitaal sê Mnr. Li loop reeds op sy eie rond ná die suksesvolle oorplantingsoperasie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.