Sy het net vier maande by Microsoft gewerk toe haar baas haar op ’n afspraak vra. Dit was die briljante Bill Gates, die uitvoerende hoof van die maatskappy, en nadat hulle twee in die kantoor se parkeerterrein aan die gesels geraak het, het hy ewe saaklik gevra: “Sal jy Vrydagaand oor twee weke saam met my uitgaan?”

Melinda Gates lag toe sy aan daardie oomblik in 1987 terugdink.

“Ek was ’n jong meisie; ek het nie geweet hoe my Vrydagaand oor twee weke sou lyk nie. Ek het hom geterg en gesê: ‘Dis nie regtig spontaan genoeg vir my nie.’ Toe vra hy my foonnommer. ’n Uur later het hy my by my woonstel gebel en gevra: ‘Wel, wat van vanaand?’ ”

Dit was strate beter.

Die paar in 1995 op reis in China.
Die paar in 1995 op reis in China.

Die afspraak was vir ’n drankie laat­aand, want Bill het daardie aand twee ander afsprake gehad – hy’t nie net aangedik om haar te beïndruk nie; hy was werklik ’n besige sakeman – maar dit was die vonk vir ’n verbintenis tussen twee mense wat al saam berge versit het.

Vandag is Bill en Melinda Gates onder die 10 magtigste mense ter wêreld – nie net danksy die fortuin wat hulle uit Microsoft gemaak het nie; dis ook oor die miljarde wat hulle weggee om een van die grootste probleme ter wêreld te probeer oplos: armoede.

Melinda en Bill Gates is van die magtigste mense o
Melinda en Bill Gates is van die magtigste mense op die planeet en wil met hul rykdom werklike verandering in die wêreld teweegbring. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis ’n ambisieuse doelwit, en soos ek later ontdek het, was dit grotendeels hierdie behoefte om terug te ploeg wat dié twee rekenaarboffins na mekaar aangetrek het.

Doelwitte

Melinda het in Dallas, Texas, groot­geword as die tweede oudste van die vier kinders van Raymond French, ’n ruimtevaartingenieur vir die Apollo-program, en ’n tuisblyma, Elaine.

Melinda sê sy was gelukkig om progressiewe nonne as rolmodelle te hê wat vir die Katolieke skool waar sy begin skoolgaan het ’n rekenaar gekry het. Dit het haar ’n hupstoot gegee na ’n wêreld wat haar passie geword het.

“Ek het beslis gehoop en gedroom dat ek universiteit toe sal gaan, en ek het geweet ek wil rekenaarwetenskap studeer en ’n sakevrou sowel as ’n ma wees,” vertel Melinda.

As jong student.
As jong student.

Toe sy aan die Duke-universiteit plek kry, het sy “soveel vertroue in tegnologie gehad” dat dit haar min geskeel het dat sy een van net ’n paar meisies in dié vakgebied was.

“Ek kon my stem laat hoor.”

Melinda by haar 1982-gradeplegtigheid by pa Raymon
Melinda by haar 1982-gradeplegtigheid by pa Raymond en ma Elaine.

Nadat sy haar graad behaal het, het sy by die sagtewarenuwelinge Microsoft aangesluit, waar sy dikwels al vrouestem in ’n see van mans was. En terwyl sy buite die maatskappy gereeld teen seksisme geveg het, het sy daarbinne floreer.

“Microsoft het ’n sekere kultuur gehad dat as jy geweet het waarvan jy praat jy jou sê kon sê,” vertel sy.

Om met die baas uit te gaan was “interessant”, sê Melinda. “Ons het dit beslis nie probeer wegsteek nie. In ’n klein onderneming kan jy nie so iets geheim hou nie.”

Maar toe sy tot bestuursvlak vorder, het Melinda dit vir haar spanne op die hart gedruk dat al het sy ’n verhouding met die uitvoerende hoof sy hulle altyd eerste stel en steun. “Hulle moes weet ek lek nie inligting aan die baas uit nie.”

Ongelooflik gedrewe

Tydens ons gesprek word dit sommer gou duidelik hoe belangrik die konsepte regverdigheid, integriteit en gelykheid vir Melinda (55) is.

Dis welbekend dat Bill (64) ná twee jaar aan die Harvard-universiteit opgeskop het om met Microsoft te begin en op 26 al ’n miljoenêr was. Afsonderlik sowel as saam is dié twee ongelooflik gedrewe, maar dis wat hulle met die vrugte van hul harde werk doen wat hulle van deursneemiljardêrs onderskei.

Vir eers was Melinda en Bill se doelwitte baie tradisioneel – trou, dan babas, beslis in daardie volgorde.

“Ek kan nie ’n oomblik onthou toe ek geweet het ek wil met Bill trou nie, maar in die eerste twee jaar het ek beslis geweet ek het hom lief. Ek onthou die tyd toe ons dit albei vir mekaar gesê het,” vertel Melinda.

Melinda en Bill Gates. Foto: Gallo Images/Getty Im
Melinda en Bill Gates. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Daarna was daar ’n tyd toe ons gedroom het oor hoe dit sou wees om getroud te wees en kinders te hê. Selfs al sou ons met iemand anders trou, hoeveel kinders ons wou hê.

“Ons wou albei ’n gesin hê, beslis,” benadruk Melinda. “Ek het geweet ek is lief vir hom, maar daar was g’n manier dat ek met hom sou trou as hy nie wou kinders hê nie. Ek glo nie jy raak net op een mens in jou lewe verlief nie. As jy gelukkig genoeg is, kan jy ander mense ontmoet wat goeie pasmaats is.”

Daar’s ’n soort wetenskap aan Melinda se pragmatiese benadering wat haar goed te pas gekom het. Dis nie dat sy onromanties is nie; sy is onsentimenteel en indrukwekkend gefokus. Terwyl die res van ons deur die lewe worstel, het sy skynbaar altyd ’n plan gehad.

“Gelukkig wou ons albei kinders hê. En ons het dit gelukkig getref. Ons kom elkeen uit ’n gesin met baie goeie waardes.”

Dit was die tweede stuk van die legkaart vir Melinda, en ek dink dit is vir die egpaar die kern van die saak. Hul eensgesindheid is gewortel in ’n ware begeerte om die regte ding te doen. Hulle deel ’n soms uitputtende optimisme en, soos Melinda sê, “dieselfde waardes; ons gee albei oor mense om”.

Al het hulle waarskynlik nie destyds al daaraan gedink om die wêreld te red nie, is die saadjie toe al geplant. Oor hoe hierdie liefdesverhouding ontwikkel het tot ’n stigting om vroue te bemagtig en armoede die hoof te bied, skryf Melinda in haar treffende nuwe boek – deels memoires, deels ’n wekroep tot optrede – The Moment of Lift.

Melinda se “oomblikke van lansering” – ’n oulike verwysing na toe sy saam met haar pa gekyk het hoe sy vuurpyle in die stratosfeer opskiet – is daardie opwindende tye wanneer alles waarvoor jy gewerk het eindelik saamspan en tot aksie oorgaan, en dis daardie oomblikke wat sy die meeste koester.

Grootwordjare

Melinda is as ’n toegewyde Katoliek grootgemaak.

“Dit was die middelpunt van ons lewe. Ek en my sibbes het ’n Katolieke skool bygewoon, en toe ek in die laerskool was, het ons ’n ruk lank elke weekdag kerk toe gegaan. Ons het elke Sondag as ’n gesin saam na die mis gegaan en daarna by die huis ’n groot laatontbyt geëet,” onthou sy.

“Ek sou sê my passie vir geloof en aksie, my geloof in maatskaplike geregtigheid en om na almal om te sien, is volkome in die lesse van die Katolieke Kerk gewortel, en ek is veral deur ’n groep nonne by my skool geïnspireer.

“Hulle het reguit met ons daaroor gepraat dat ons ons geloof moet bevraagteken en verstaan waar dit vandaan kom, en hulle het ons geleer dat as jy in die gemeenskap vrywilligerswerk doen en een lewe verander dit ’n rimpeluitwerking kan hê.”

Donker tye

In haar boek vertel Melinda vir die eerste keer openlik van ’n donker tyd in haar lewe, voor sy Bill ontmoet het, toe sy in ’n afbrekende verhouding vasgevang was.

Sy was jonk en haar kêrel was baasspelerig, met ’n “siek mag” oor haar. Dit is moeilik om jou Melinda in so ’n situasie voor te stel; juis daarom het sy die moed bymekaargeskraap om daaroor te skryf.

“Ek het vir ’n baie, baie lang tyd my stem verloor. Ek sou sê dis eers in die afgelope 10 jaar dat ek my stem ten volle teruggekry het,” vertel sy. “Dis hoekom ek so sterk voorspraak vir vroue maak en so teen enige verbale mishandeling of teistering in die werkplek gekant is.

“Weet jy in Amerika bedank 80% van vroue wat by die werk geteister word uit hul pos binne twee jaar? Hulle verloor hul stem en dan word hulle ál meer uitgeskuif.

“Dit was vir my baie moeilik om daaroor te skryf, maar ek het, want ek wou hê mense moes verstaan; vroue moes verstaan ek het dit ook deurgemaak. Ek weet hoe dit voel en hoe aaklig dit is.”

Die Bill & Melinda Gates-stigting

Dit was op ’n reis na Zanzibar in Oos-­Afrika ’n jaar voor hul troue dat die ingewing Bill en Melinda te binne geskiet het. Dis ’n oomblik wat Melinda gereeld in haar gedagtes herleef.

“Ons het in daardie stadium nog nie met die Bill & Melinda Gates-stigting begin nie, en ons het geen idee gehad hoe om geld in die verbetering van mense se lewe te belê nie,” skryf Melinda in haar boek.

“Dit was die herfs van 1993 en ons het verskeie ander pare na Afrika saamgenooi. Ons het op safari gegaan. Ons was dol oor die diere, maar dit was die mense wat ons die meeste geraak het,” vertel sy vir my.

“Ek onthou ons het buite ’n dorp ’n ma gesien wat ’n baba in haar maag, nog een op haar rug en ’n stapel stokke op haar kop dra. Sy het duidelik ver geloop sonder skoene, terwyl die mans wat ek gesien het plakkies gedra en sigarette gerook het sonder enige stokke op hul kop of kinders aan hul sy. Ons het bly dink: Goeie hemel, moet ons iets hier doen?”

Melinda sê hulle het toe reeds geweet hulle gaan ’n deel van Microsoft se hulpbronne weggee, maar het op daardie reis hulle daartoe verbind.

Terug by die huis het Melinda die Wêreldontwikkelingsverslag gelees. “Kinders in arm lande was besig om te sterf aan toestande waaraan geen kind in Amerika sterf nie.”

Dit het geen sin gemaak nie en haar en Bill die enigste koers laat kies wat hulle begryp . . . om aan die werk te spring.

Ons glo nie regtig aan oorgeërfde rykdom nie; daarom was om ons fortuin te gebruik die regte ding om te doen.

“Teen dié tyd het ons na Kenia, Tanzanië en Zanzibar gereis. Dit sou vir Bill onmoontlik gewees het om in hierdie lande met Microsoft te kon begin; dit sou vir my onmoontlik gewees het om daar ’n meisie te wees wat onderrig ontvang het.

“Ons het albei voordeel daaruit getrek dat ons gelukkig genoeg was om in Amerika gebore te word. Ons het albei in middelklasgesinne grootgeword; ons het taamlik goed gevaar wat ons werketiek betref en dat ons universiteit toe kon gaan.

“En ons glo nie regtig aan oorgeërfde rykdom nie; daarom was om ons fortuin te gebruik die regte ding om te doen. Ons het gevoel die ontsaglike hulpbronne (die geld van Microsoft) het na ons gekom danksy die gelukskoot van ons geboorte en dit moet na die samelewing teruggaan.”

Toe Melinda in 1995 uitvind sy is swanger, het sy bedank om ’n tuisblyma te word. En terwyl dit dalk strydig klink met die bemagtigde vrou wat haar man in haar man se wêreld kon staan, was dit vir Melinda heel voor die hand liggend.

Ek sou nie reg daaraan kon laat geskied om kinders te hê nie, aan die manier waarop ek my kinders wou grootmaak nie.

In die boek verdedig sy gou ma’s wat kies om te werk, maar haar eie pad was vir haar duidelik.

“Jy moet onthou Bill was die uitvoerende hoof van Microsoft,” verduidelik sy. “Ek het geweet hoe vinnig die maatskappy beweeg, en ek het gesien wat dit van hom verg om elke dag daardie werk te doen. Dit was nie ’n nege-tot-vyf-werk nie. Nie naastenby nie.

“Ek het dus gevoel as ons kinders wil hê en nou by hulle betrokke wil wees, kon ons nie albei die bedryf aandurf nie. Ek sou nie reg daaraan kon laat geskied om kinders te hê nie, aan die manier waarop ek my kinders wou grootmaak nie.”

Tog was Bill verbaas.

“Hy was bekommerd oor my toe ek vir hom sê ek gaan nie meer werk nie, want hy het geweet hoe baie ek dit geniet het,” sê sy. “Maar ek het altyd geweet ek sou later weer iets doen, en ek was natuurlik ongelooflik gelukkig dat Bill met die stigting begin het.”

Die Bill & Melinda Gates-stigting is in 2000 bekendgestel en is daartoe verbind om die lewensgehalte van mense wêreldwyd te verbeter. Aan die begin het Melinda op die agtergrond gebly, deels sodat hul drie kinders, Jennifer (23), Rory (20) en Phoebe (17), privaatheid kon hê en “so ’n normale opvoeding moontlik kon hê” en deels sodat sy die ma kon wees wat sy graag wou wees, sê sy.

Die Gates-gesin. Van links is Bill, Jennifer, Rory
Die Gates-gesin. Van links is Bill, Jennifer, Rory, Phoebe en Melinda. Toe Melinda in 1995 uitvind sy’s swanger, het sy bedank om ’n tuisblyma te word en haar kinders so normaal moontlik groot te maak.

“Maar toe die kinders ouer word, het ek begin dink hier het ek ’n dogter wat gr. 6 toe gaan net wanneer meisies hul selfvertroue kan verloor. En terwyl ek vir my dogters sê hulle moet hul stem duidelik in die wêreld laat hoor, is ek nie eintlik ’n rolmodel vir hulle nie,” sê sy. “Ek het gedink ek moet dit nóú doen.”

’n Sleutelkwessie vir Melinda was om vroue te bemagtig en veral daardie vroue en jong meisies in ontwikkelende lande vir wie toegang tot voorbehoeding en gesinsbeplanning hul lewe kan verander.

Sy het persoonlik by voorbehoeding baat gevind, en sy kon sien hoe dit die lewe van gesinne wêreldwyd kon red en verander. Maar om die pil na Afrika te neem het teen die leerstellings van haar geloof ingedruis.

Melinda in Indië, waar sy vroue met voorbehoeding
Melinda in Indië, waar sy vroue met voorbehoeding wil bemagtig.

“Ek moes beslis met my Katolieke geloof worstel,” erken Melinda. “Wanneer jy as kind elke weekdag kerk toe gegaan het, is daardie wortels baie diep. Maar selfs as ’n klein meisietjie onthou ek ek het in die kerk gesit en dinge is van die preekstoel af gesê wat ek gedink het nie heeltemal waar kon wees nie; dit kon net nie wees nie.

“Daar’s ’n Bybel-aanhaling wat dikwels in die kerk gesê is oor ‘hoor die krete van die armes’. Ek kan vir jou sê ek het dit gehoor. Toe die voorbehoedingskwessie opduik, het ek dit net bly hoor. Oraloor in verskillende lande in Afrika het die vroue uitgeroep – letterlik wanneer jy die pyn in hul stem hoor.

“Dit sou eerlikwaar vir my veel geriefliker gewees het om die probleem te ignoreer, en ek het ’n ruk lank dit probeer doen, maar ek kon net nie. My maatskaplikegeregtigheid-wortels sê: ‘Ek weet dit is die regte ding.’

Op ’n besoek aan Tanzanië, waar ’n jong ma wag om
Op ’n besoek aan Tanzanië, waar ’n jong ma wag om haar baba in te ent. Melinda beywer haar veral in Afrika vir vroue.

“As iemand my oordeel oor wat ek doen, is dit piekfyn. Ek weet wat ek glo en is vol vertroue dat dit lewens red. En as jy in die liefde glo, is dit belangrik om lewens te red.”

In haar boek vertel Melinda van die oomblik toe ’n wanhopige, brandarm jong ma in Afrika haar gesoebat het om haar pasgebore baba en tweejarige weg te neem na ’n beter lewe.

Dit was ’n “verpletterende” oomblik toe Melinda volkome besef hoe belangrik dit is om vroue deur voorbehoeding te bemagtig.

“Geen ma in die wêreld wil haar kinders weggee nie. Hierdie ma wou nie haar kinders weggee nie, maar sy kon hulle eenvoudig nie voed nie. Sy het geweet die drome wat sy vir hulle gekoester het, kan sy nie vervul nie. Dit was hartverskeurend.”

Wanneer jy sulke stories hoor, is die idee om miljarde weg te gee nie meer verbysterend nie. Om die wêreld se welvaart te deel is heel eenvoudig die regte ding om te doen.

The Moment of Lift deur Melinda Gates
The Moment of Lift deur Melinda Gates.

The Moment of Lift deur Melinda Gates, uitgegee deur Bluebird, R249 by Takealot.com.

DIE PRYS WAS KORREK TEEN DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
©BAUERSYNDICATION.COM.AU/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.