“Die polisie probeer om die presiese omstandighede rondom Moreland se dood te bepaal,” het kapt. Johannes Maheso namens die polisie aan Huisgenoot gesê.

“ ’n Ondersoekdossier is by die Boschkop-polisiekantoor geopen vir verdere ondersoek.”

Hy sê die saak kan nog nie amptelik as ’n moordondersoek beskryf word nie omdat hulle nog vir die uitslae van die nadoodse ondersoek wag. 

“Die saak word ondersoek maar in hierdie stadium is dit nog nie ’n moordsaak nie.”

Larochelle Nel (23), Moreland se stiefdogter, het aan Huisgenoot bevestig die familie het ’n privaat speurder aangestel om hulle met die ondersoek te help, en hulle werk ook nou saam met Afriforum. 

Lize Morland, Ronald se vrou van die afgelope 18 jaar, het verlede Maandagaand (2 Julie) omstreeks kwart voor ses op haar man se liggaam in die tuin van hul huis in die veiligheidskompleks Christopher’s Place in Olympus in die suidooste van Pretoria afgekom.

“My pa het met sy gesig teen die gras gelê toe my ma op hom afkom, het Larochelle verlede week aan Huisgenoot gesê. Daar was oral bloed, en kabelbinders was om sy nek vasgemaak.”