Lisa Montgomery (52) sal op 8 Desember in die Terre Haute-staatstronk in Indiana met 'n dodelike inspuiting tereggestel word, berig The Washington Post.  

Dít omdat sy in 2004 die 23-jarige Bobbie Jo Stinnett op ’n amper ondenkbaar wrede manier vermoor het. 

Lisa Montgomery sal in Desember tereggestel word v
Lisa Montgomery. Foto: Gallo Images/Getty Images

Lisa (52) en Bobbie het mekaar in 2004 by ’n hondeskou ontmoet en was aanlyn kennisse weens hul gemeenskaplike belangstelling in hondeteling.

Bobbie het daardie jaar swanger geraak en het die nuus dat sy en haar man, Zeb, ’n pienkvoet sou ryker word met haar aanlyn vriende gedeel. 

Terselfdertyd het Lisa vir mense begin vertel sy verwag, ten spyte daarvan dat sy meer as ’n dekade gelede ’n prosedure ondergaan het wat beteken het sy kan nie swanger word nie.  

In Desember 2004 het sy ’n skuilnaam gebruik om Bobbie te kontak en gemaak of sy daarin belangstel om ’n klein hondjie te koop. Op die 16de van daardie maand het sy na Bobbie se huis in Missouri gery gewapen met 'n skerp kombuismes en tou in haar jas se sak.

Bobbie Jo Stinnett en haar man, Zeb, se huis waar
Bobbie Jo Stinnett en haar man, Zeb, se huis waar sy vermoor is. Foto: REUTERS/Dave Kaup DK

Toe sy daar kom, het sy Bobbie met die tou gewurg tot sy haar bewussyn verloor het en haar maag oopgesny. Die sny het Bobbie haar bewussyn laat herwin en sy het terugbaklei tot Lisa haar eindelik doodgewurg het.

Lisa het toe die fetus uit Bobbie se maag gesny, die naelstring geknip en met die baba gevlug. 

Bobbie se ma, Becky Harper, het op haar afgekom.

Volgens die hofstukke het dit vir Becky gelyk asof haar dogter se maag ontplof het. 

Lisa het langs die pad afgetrek, die baba se naelstring geseël en slym uit haar mond gesuig.

Die baba het gehuil, maar was wonderbaarlik ongedeerd behalwe vir ’n snytjie bo haar oog. Lisa het die baba met lappies afgevee en in die karstoeltjie gesit wat sy in die motor se kattebak gehou het. 

Sy het haar man gebel en voorgegee sy het geboorte gegee. 

By die huis het sy vriende en familie gebel en van haar pasgebore dogter vertel.

Die volgende dag het hulle uitgegaan vir inkopies en ontbyt en die nuwe baba aan mense voorgestel, maar kort nadat hulle tuisgekom het, het die polisie aan die deur geklop.

Sy is later in die polisiekantoor ondervra en het erken sy het Bobbie doodgemaak, die baba uit haar maag gesny en ontvoer.

Bobbie Jo Stinnett se kis tydens haar begrafnis 'n
Bobbie se begrafnis. Foto: REUTERS/Dave Kaup DK/SV

Die baba is aan haar pa, Zeb, terugbesorg. Hy het haar Victoria Jo Stinnett gedoop.

Bobbie se familie het Zeb gehelp om haar groot te maak en het moeite gedoen om haar uit die kollig te hou. Sy word op 16 Desember – agt dae ná Lisa se teregstelling – 16 jaar oud.

Jy kan die hofstukke hier lees.

Bykomende bron: thesun.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe