Die lugreëlaar-tegnikus is ook die byname “Boy Next Door Killer” en “Chiller Killer” gegee. Die skynbaar vriendelike en hulpvaardige Michael Gargiulo se gruweldade is werklik bloedstollend, en hy het vermoedelik al op 17 die eerste van verskeie moorde gepleeg.

Gargiulo (45) staan bekend as die Hollywood Ripper omdat een van sy slagoffers, Ashley Ellerin (22), op die aand van haar dood in 2001 saam met Ashton Kutcher (toe 23) ’n Grammysaand-opskop sou bywoon.

Ashley, ’n modestudent en deeltydse danseres, is destyds ook ’n slag of wat deur Vin Diesel en ander akteurs uitgeneem. 

Gargiulo is in 2008 vasgetrek nadat Michelle Murphy sy aanslag op haar lewe oorleef het. In 2019 is hy skuldig bevind aan Ashley se moord, asook dié van Maria Bruno (32) in 2005, en poging tot moord op Michelle. ’n Hoër hof in Los Angeles het hom Vrydag oplaas die doodstraf opgelê. 

Die voormalige nutsman en deeltydse uitsmyter het in lugversorgers gespesialiseer en ook verwarmingstelsels reggemaak, en het deur sy herstelwerk naby aan sy teikens gekom. Hy word deur minstens nog een moordklag in die gesig gestaar: DNS het hom ook verbind met die gru-mesdood van die 18-jarige Tricia Pacaccio. Sy is in 1993 op sy tuisdorp, Glenview in Illinois, vermoor toe hy nog op hoërskool was.

’n Los Angeles-jurie het Gargiulo reeds voorverlede jaar skuldig bevind en die doodstraf aanbeveel, maar die covidpandemie het die regsproses vertraag.

Sy verhoor het veral aandag getrek weens die destydse romanse tussen Ashley en Ashton. Ashton, wat ook in die saak getuig het, het vertel hoe daar geen reaksie was toe hy haar op die moordaand wou gaan oplaai en haar voordeurklokkie gelui het nie.

Hy het deur die venster gekyk en merke op die tapyt gesien wat later bloedvlekke blyk te gewees het. Ashton het egter gedink dit was rooiwyn wat iemand gemors het by ’n jolige huispartytjie van Ashley wat hy dae tevore bygewoon het.

Hy was meer as ’n uur laat vir hul afspraak en het aangeneem sy het haar vir hom vervies, en eerder saam met haar vriendin uitgegaan. Ashton is toe by haar huis weg.

Ashley se liggaam is die volgende dag daar aangetref. Haar gewelddadige dood – Gargiulo het haar 47 keer met ’n mes gesteek – het die meisie van die noord-Kaliforniese platteland se familie en vriende verpletter.

Ná die aanvanklik skok moes Ashton ook daarmee rekening hou dat hy van die moord verdink kon word. Hy het speurders vertel waarom sy vars vingerafdrukke op die handvatsel van Ashley se voordeur was.

‘Boosaardig en skrikwekkend’

Regter Larry Fidler het Gargiulo se dade as “boosaardig en skrikwekkend” bestempel.

“Oral waar hy gegaan het, het dood en verwoesting hom gevolg,” het hy gesê toe hy die doodsvonnis oor hom uitspreek te midde van snikke van slagoffers se familielede.

Nes met Ashley, het Gargiulo vir Maria Bruno in haar huis in oos-Los-Angeles met ’n mes oorval. Die ma van vier is afgryslik vermink. 

Michelle Murphy het in 2008 wakker geskrik toe die “Hollywood Ripper” haar met ’n mes in die arm steek. Sy het daarin geslaag om hom van haar af weg te skop.

Hy het homself in die struweling raakgesny en gevlug terwyl hy ’n bloedspoor agtergelaat het.  

Die polisie het hom kort daarna weens poging tot moord in hegtenis geneem en later die moordklagtes bygevoeg. DNS-monsters van hom wat op Michelle se beddegoed gekry is, is vergelyk met DNS wat 28 jaar gelede onder Tricia Pacaccio se naels gevind is. Dit het hom ook uitgewys as dié skoolmeisie se moordenaar.

Gargiulo was met haar broer bevriend en het net om die hoek van hulle af gewoon.

Michelle het getuig dat sy so getraumatiseer is dat sy glad nie ná die aanval en haar hospitaalbehandeling vir sewe meswonde na haar woonstel kon terugkeer nie. Vriende en familie moes haar goed daar vir haar gaan haal.

“Tot vandag toe is ek vreesbevange om ’n nag alleen deur te bring. Hoe is dit regverdig dat een persoon se dade die lewens van so baie kan vernietig?”

Ashley se pa het in die hof gesê hy sal nooit sy vrou se kreet vergeet toe sy hoor van hul dogter se dood nie.

“Dit was die begin van ’n onherroeplik veranderde, hartgebroke lewe . . .”

Bronne: guardian.com, laweekly.com, cbsnews.com, YouTube

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe