Oomblikke nadat sy op die toneel tot stilstand gekom het, is haar motor gekaap met die kinders steeds daarin.

Kapt. Dineo Koena, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag die voorval aan Huisgenoot bevestig.

Koena sê die vrou, wie se identiteit sy nie kon bekend maak nie, was Dinsdagoggend omstreeks 07:00 op pad om haar 10-jarige seun en sesjarige dogter by die skool af te laai toe die voorval plaasgevind het.

“Die vrou het op die R61 tussen Mthatha en Ngcobo gereis toe sy glo ’n 13-jarige meisie in die middel van die pad raakry,” vertel Koena.

Sy sê die vrou het gelukkig nie teen ’n hoë spoed gery nie en het onmiddellik langs die pad stilgehou om te bepaal watter beserings die 13-jarige opgedoen het.

“Dit het voorgekom of die meisie net ’n gebreekte been gehad het,” sê sy.

Volgens Koena het ’n onbekende man skielik uit bosse langs die pad vorendag gekom en in die vrou se voertuig, ’n Hyundai-luikrug, gespring en met haar kinders steeds in die motor weggejaag. Die polisie is onmiddellik in kennis gestel.

Koena sê die man het albei kinders kort ná die kapingsvoorval in Chris Hani Park, sowat 15 km van Mthatha, afgelaai. Hulle is ongedeerd. Die polisie het die verlate motor sowat ’n uur later in Tsolo, nog sowat 50 km verder van Chris Hani Park, aangetref.

Koena sê ’n volskaalse polisieondersoek is van stapel gestuur. Sy sê die 13-jarige is na die hospitaal geneem en sal deel vorm van die ondersoek na die voorval.

Die verdagte is nog op vrye voet.

Kontak
  • Enigiemand met meer inligting oor die voorval word versoek om die polisie om die nasionale misdaadnoodlyn te kontak by 08600 10111.