Van tragedie tot triomf

Die leerders van die Hoërskool Driehoek

Rouklaers betoon hul medelye by die hek van die Ho
Rouklaers betoon hul medelye by die hek van die Hoërskool Driehoek nadat dié skool deur ’n ongeluk geruk is.

Die land is in Februarie tot stilstand ­geruk toe 'n betonbrug by dié skool in Vanderbijlpark op leerders ineen­gestort het.

Vier leerders – Roydon ­Olckers (17), Marnus Nel (16), Marlie Currie (13) en Jandré Steyn (13) – is ­oorlede en 22 ander beseer. Maar die getraumatiseerde skoolgemeenskap het opgestaan uit die tragedie en probeer moedig voortbeur. 

Uyinene Mrwetyana

Uyinene Mrwetyana
Uyinene Mrwetyana

Dié 19-jarige student van die Universiteit van Kaapstad is in Augustus in 'n poskantoor in Claremont verkrag en vermoor, en haar moordenaar, die poskantoorwerker Lu­yanda Botha, is lewenslank tronk toe gestuur.

­Uyinene en ander vroue wat in dieselfde tyd vermoor is, het saam die gesigte geword van die groeiende plaaslike protes teen geslagsgeweld. 

Gavin Watson

Gavin Watson
Gavin Watson
Die motor wat wyle Gavin Watson, die Bosasa-grootk
Die motor wat wyle Gavin Watson, die Bosasa-grootkop, gery het word met 'n Ekurhuleni-vragmotor verwyder nadat hy op slag dood is. Sy motor het in die vroeë oggendure 'n betonpilaar getref

Die Bosasa-grootbaas is in Augustus in 'n motorongeluk naby die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park dood nadat sy beweerde betrokkenheid by korrupsie aan die lig gekom het tydens sy voormalige werknemer Angelo Agrizzi se getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping.

Bosasa het glo om­koop­geld aan staatsamptenare betaal om staatstenders te bekom. 

Fiona Viotti

Die onderwyseres Fiona Viotti word betrek by ’n be
Die onderwyseres Fiona Viotti word betrek by ’n beweerde seksskandaal waarby leerders van die skool glo betrokke is.

Dié 32-jarige geskiedenis-­onderwyser en waterpolo-­afrigter het in Oktober by die Kaapse spogseunskool Bishops bedank toe dit blyk sy het na  bewering 'n seksuele verhouding gehad met 'n leerder.

Na afloop van 'n ondersoek deur die skool word beweer sy het die afgelope paar jaar verhoudings met vyf leerders aangeknoop. 

Die Ndlovu-jeugkoor

Die Ndlovu-jeugkoor
Die Ndlovu-jeugkoor

Die sanggroep van Limpopo het wêreldwyd roem verwerf met hul inspirerende optredes op die America’s Got Talent-­verhoog.

Die koor, onder leiding van die dirigent Ralf Schmitt, het nié die kompetisie gewen nie, maar danksy die ­musiekbaas Simon Cowell 'n platekontrak losgeslaan en in Oktober hul eerste internasionale toer onderneem.

Jarette Petzer

Jarette Petzer, stigtier van die #ImStaying-groep
Jarette Petzer, stigtier van die #ImStaying-groep op Facebook

Die Kaapse eiendomsagent se Face­book-­inskrywing oor hoekom hy kies om in Suid-Afrika te bly, het in 'n veldtog van hoop ontwikkel nadat byna 'n miljoen mense sedert September by sy #ImStaying­groep op Facebook aangesluit het.

Die groep se aanhangers deel daagliks positiewe stories oor ons land en sy mense.

Zephany Nurse

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA â?? AUGUST 16: Miche Solom
Miché Solomon, ook bekend as Zephany Nurse, het vanjaar haar identiteit aan die wêreld onthul. Foto: Mish Jordaan

Zephany (22) was 'n pasgebore baba toe sy in 1997 uit die Groote Schuur-­hospitaal in Kaapstad ontvoer is en 17 toe sy uitvind die vrou wat haar groot­gemaak het, is nie haar regte ma nie.

Zephany het in Augustus 'n boek oor haar lewensverhaal die lig laat sien en toe eers haar grootmaaknaam bekendgemaak: Miché Solomon. Sy’t ook toe haar gesig vir die wêreld gewys.

Die droogteboere

Droogte in die Noord-Kaap
Droogte in die Noord-Kaap

Terwyl die Sweedse tiener Greta Thunberg in Desember aangewys is as die tydskrif Time se persoon van die jaar omdat sy die wêreld se oë opnuut op die klimaatskrisis gevestig het, het die boere hier op eie bodem die gesig geword van ons worstelende aarde. 

Veral die Noord- en Oos-Kaap het verdor in die wurggreep van 'n voortslepende droogte, en hartverskeurende verhale het die nuus gehaal: van vee wat van kant gemaak moet word, plaaswerkers wat hul werk verloor en boere wat hul plase moet verlaat omdat hulle nie meer daar kan oorleef nie. 

Terwyl die reën op baie plekke steeds wegbly, leef sommige boer­gemeen­skappe nou van aalmoese en genade.

Zozibini Tunzi

Mej. Heelal Zozibini Tunzi
Mej. Heelal Zozibini Tunzi

Eers wen sy die Mej. Suid-Afrika­kroon, en toe verower sy die heelal. Zozi, wat oorspronklik van Tsolo in die Oos-Kaap kom, het ons in ­Desember trots gemaak toe sy in Amerika as Mej. Heelal gekroon is. Sy dra haar hare kort en benadruk natuurlike skoonheid moet omarm word.

O, die liefde

Leandie en Bouwer

Leandie du Randt en Bouwer Bosch
Leandie du Randt en Bouwer Bosch

Die akteurspaar het in Maart aangekondig hul huwelik van net meer as drie jaar is verby.

Derick en Nádine

Derick en Nádine
Derick en Nádine

Toe die sangeres haar kêrel in Maart saam met 'n ander vrou in 'n hotelkamer betrap, het die skindertonge geklap, maar dit het geblyk die oud-Springbok het hom kuis gehou. 

Hy het daarna aan Huisgenoot erken hy het in ’n stadium drank en slaappille misbruik. Die twee het saam deur diep waters gegaan, maar bymekaargestaan.

Rèan en Rox-Zee

Rèan en Rox-Zee
Rèan en Rox-Zee

Dié gewilde paartjie uit Boer soek 'n vrou se 11de seisoen het in April verloof geraak, maar die Noord-Kaapse boer en sy Engelse nooi is kort daarna uitmekaar. Albei het toe elders liefde gevind – Rox-Zee wéér by ’n boer, JJ Stander van Malmesbury, en Rèan by Waltela Maree.

Meghan en Harry

Meghan en Harry kuier in Kaapstad
Meghan en Harry kuier in Kaapstad

Die hertog en hertogin van Sussex het “ons” s’n geword toe hulle Suid-Afrika in Oktober besoek het. 

Hulle het hul eersteling, Archie, aan ons eie “Arch”, aartsbiskop Desmond Tutu, voorgestel, besoek afgelê by pres. Cyril Ramaphosa, weggelê aan plaaslike kos en ons met hul sjarme en sprokiesverhaal oorrompel ondanks kritiek oor sommige van hul omstrede besluite.

Politici

Cyril Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa

Die president het baie Suid-Afrikaners laat hoop beter dae is op pad, maar moes bontstaan oor onder meer die wankelende ekonomie en frustrasie oor sukkelende staatsondernemings. 

Toe Eskom in Desember vir die eerste keer fase 6-beurtkrag aankondig, het baie Suid-Afrikaners begin grom dit help min Rama­phosa maak beloftes van 'n “New Dawn“ as daar nie krag is om die ligte aan die brand te hou nie. 

Pieter Groenewald

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus
Pieter Groenewald, leier van die VF Plus

Die leier van die VF Plus het breed geglimlag ná sy party se prestasie in die nasionale verkiesing in Mei – die party het stemme van die DA weggerokkel en by die stembus gegroei.

Floyd Shivambu

Floyd Shivambu, onderleier van die EFF
Floyd Shivambu, onderleier van die EFF

Die onderleier van die EFF moes bontstaan ná bewerings dat hy en sy broer voordeel van sowat R16 miljoen getrek het uit die VBS Mutual Bank­skan­daal. Die Valke ondersoek die saak, maar hy ontken enige oortreding. 

Helen Zille

Helen Zille, die federale voorsitter van die Demok
Helen Zille, die federale voorsitter van die Demokratiese Alliansie

Die voormalige DA-leier was voorheen in die sop oor haar omstrede twiets oor kolonialisme, maar is weer terug in die party se binnekring. Sy is in Oktober aangewys as die nuwe voorsitter van die party se federale raad. 

Mmusi Maimane

Mmusi Maimane
Mmusi Maimane

Die DA-leier het in Oktober bedank ná sy party se swak vertoning in die nasionale verkiesing in Mei. John Steenhuisen is as tussentydse partyleier aangewys.

In die beskuldigde bank

Jason Rohde

Die sakeman Jason Rohde. Foto: Gallo Images/Brento
Die sakeman Jason Rohde. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Die voormalige baas van die eiendomsagentskap Lew Geffen/Southeby’s is in Februarie tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy verlede jaar skuldig bevind is aan die moord op sy vrou, Susan, by die Spier-­landgoed buite Stellenbosch.

Dros-verkragter

Nicholas Ninow is skuldig bevind aan verkragting
Nicholas Ninow is skuldig bevind aan verkragting

Die 22-jarige Nicholas Ninow is in Oktober lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy 'n sewejarige meisie in die badkamer van 'n Dros-restaurant in Pretoria verkrag het. 

Voor die Zondo-kommissie

Oud-president Jacob Zuma verskyn voor die Zondo-ko
Oud-president Jacob Zuma verskyn voor die Zondo-komissie

Terwyl die land wag op die vervolging van staatsamptenare wat in die Zuma-­era uit korrupsie baat gevind het, het skokonthullings in die ondersoek na staatskaping voor oudregter Raymond Zondo opslae gemaak. 

In sy verskyning voor die kommissie in Julie het oudpres. Jacob Zuma tot groot ergernis van die publiek vrae oor sy beweerde betrokkenheid by staatskaping ontwyk.

Stella-beskuldigde

Xander Bylsma. Foto: Gallo Images/Felix Dlangamand
Xander Bylsma

Die 20-jarige Xander Bylsma word al meer as 'n jaar in die Rooigrond-gevangenis in Mahikeng aangehou terwyl hy verhoor word op aanklagte van die moorde op sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar vriendin Marna Engelbrecht (16) in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella op dié dorp in Noordwes. 

Die verhoor sal in die nuwe jaar hervat word.

Krugersdorp-reeksmoordenaars

Die Krugersdorp-reeksmoordenaars
Die Krugersdorp-reeksmoordenaars

Die laaste drie verdagtes in dié rillersaak is vanjaar tot tronkstraf gevonnis. 

Marinda Steyn (51), haar seun, Le Roux (22), en John Barnard (42) het vroeër skuld beken vir hul aandeel in die moordkliek se gruweldade.

In Augustus is ook die baasbrein agter die moorde, Cecilia Steyn (37), Marinda se dogter, Marcel (20), en Zak Valentine (33) tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die groep het 11 mense vermoor.

Sportglorie

Caster Semenya

Caster Semenya
Caster Semenya

Die atleet was weer in die nuus met haar voortslepende stryd om internasionaal aan atletiek te mag deelneem. 

Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies verbied vroue met bogemiddelde testosteroonvlakke om aan middelafstand­nommers deel te neem tensy hulle medikasie gebruik om die hormoon te onderdruk. Caster weier om dit te doen. 

Sy is nou een van die sport­reus Nike se ambassadeurs. 

Siya Kolisi

Siya Kolisi en die Springbokke vier hul sege in di
Siya Kolisi en die Springbokke vier hul sege in die rugbywêreldbeker-toernooi

Die Springbokkaptein en sy span het die ganse land hoop gegee toe die Bokke die Engelse op 2 November met 32-12 in die eindstryd van die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan verslaan het. 

Met sy inspirerende lewensverhaal en omarming van diversiteit wou Siya wys ons kan enigiets regkry as ons dit saam aanpak. 

Makazole Mapimpi

Makazole Mapimpi druk Suid-Afrika se eerste drie i
Makazole Mapimpi druk Suid-Afrika se eerste drie in ’n Wêreldbeker-eindstryd. Dit sy sy veertiende drie in veertien toetse

Dié vleuel was die Springbokke se topdriedrukker in die Wêreldbekerrugby­toernooi – en die eerste Bok wat ’n drie in die eindstryd kon druk. 

Pieter-Steph du Toit

Pieter-Steph du Toit is vanjaar aangewys as die be
Pieter-Steph du Toit is vanjaar aangewys as die beste rugbyspeler in die wêreld

Die Bokke se vuurvreter­flank is ná die Wêreldbekerrugbytoernooi as Wêreld­rugby se ­speler van die jaar aangewys – die eerste Springbok ­sedert Bryan Habana in 2007 wat dit regkry. 

Rassie Erasmus

Bok-breier Rassie Erasmus geniet 'n ligte oomblik
Bok-breier Rassie Erasmus geniet 'n ligte oomblik met sy span

Onder die indrukwekkende Springbokafrigter se leiding het die Bokke binne twee jaar gevorder van ’n span wat 56-0 teen die All Blacks verloor het tot Wêreldbekerkampioene. 

Benewens sy Wêredbekermedalje spog Rassie nou met Wêreldrugby se prys vir afrigter van die jaar.

Die Protea-netbalspan

Die Protea-netbalspan
Die Protea-netbalspan

Al het die Proteas in die halfeindronde van die Wêreldbekernetbaltoernooi teen Engeland verloor, het hulle tydens die toernooi met Jamaika, een van die topspanne in die wêreld, afgereken. 

Die hulpdoelverdediger Karla Pretorius is as die speler van die toernooi aangewys. Die span is ook in ­Oktober as Afrikakampioene gekroon.

Gerda Steyn

Gerda Steyn
Gerda Steyn

Die langafstandatleet het die Comrades-ultramarathon in Junie in 'n rekordtyd van 5:58:53 gewen en die eerste vrou geword wat dié moordende wedloop in minder as ses uur voltooi. Sy het ook die Twee Oseane-ultramarathon gewen en 10de gekom in die New York-marathon. 

Die groot groet

Jacques de Coning

Jacques de Coning
Jacques de Coning

Die sanger is in Junie in 'n motorongeluk buite Boesmansriviermond in die Oos-Kaap oorlede. Sy seun, ­Basil, is ook vyf jaar gelede in 'n motorongeluk dood.

Robert Mugabe

Zimbabwe se oud-president, wyle Robert Mugabe
Zimbabwe se oud-president, wyle Robert Mugabe

Die omstrede voormalige president van Zimbabwe is in September in 'n hospitaal in Singapoer oorlede. Hy was voor sy uittrede in 2017 'n volle 37 jaar in die amp, en is as president opgevolg deur Emmerson Mnangagwa.

Carol Boyes

Carol Boyes
Carol Boyes

Die ontwerper van juweliers- en huisware is in Augustus op 65 jaar oorlede. Haar produkte word na meer as 50 lande uitgevoer. 

Piet Botha

Piet Botha
Piet Botha

Die blues-en-rock-musikant is in Junie op 63 aan pankreas­kanker oorlede.

Chester Williams

Bok-legende Chester Williams
Bok-legende Chester Williams

Die voormalige Springbok is in September kort ná sy 49ste verjaardag aan 'n hartaanval oorlede. 

Johnny Clegg

Johnny Clegg
Johnny Clegg

Die sanger, wat ook bekend was as die “Wit Zoeloe”, is in ­Julie ná 'n lang stryd teen pankreaskanker dood. 

Paul Eilers

Paul Eillers
Paul Eillers

Die veteraan­akteur is in Junie in sy huis op Oudtshoorn weens 'n embolisme oorlede. 

Christine Basson

Christine Basson
Christine Basson

Die Egoli-aktrise is in Junie op haar 78ste verjaardag in 'n aftreeoord oorlede. Sy het meer as 18 jaar lank die rol van Nora Naudé in die sepie vertolk. 

James Small

James Small. Foto: Gallo Images/Getty Images
James Small. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Springbok-legende was 50 jaar oud toe hy in Julie in 'n klub vir ­volwasse ­vermaak in ­Bedfordview ­inmekaargesak het. 'n Lyk­skouing het ­bevestig hy is aan 'n hartaanval oorlede.

Die lekkerste lag

Faf en sy Springbroekie

Faf de Klerk ontmoet Prins Harry in sy
Faf de Klerk ontmoet Prins Harry in sy "Springbroekie"

Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk het reeds met sy manewales op die veld tydens die Wêreldbekerrugbytoernooi in ons harte ingekruip, maar toe hy ná die Springbokke se eindstrydsege in die kleedkamer in net sy speedo’tjie paradeer, het hy ’n hoogtepunt van die jaar geword. 

In sy swembroekie in die kleure van die landsvlag het hy die Web Ellis-trofee gesoen en selfs met prins Harry bladgeskud. Trots Suid-Afrikaans, nes ons!

Hugo, bel die polisie!

Die “veglustige bende” van Pretoria-Noord. Van lin
Die “veglustige bende” van Pretoria-Noord. Van links is Ronel, Wynand, en Wynand jr. Janssens en Angelique Bester
"Hugo, bel die polsie!"

Dit was 'n video wat die land laat skater het: 'n straatmoles in Pretoria waarin 'n hele groepie mense sommer onder mekaar inklim voor 'n man met 'n prostese ook inval en die wegkommotor al hinkepink agternasit. 

En die buurvrou wat gil: “Hugo, bel die polisie!” en “Julle word Maandag uitgesit!” 

Huisgenoot het by die bakleiende Janssens-gesin gaan kuier en onder meer gehoor dat pa Wynand – wat met sy prostetiese been in die video verskyn – “niksvermoedend besig was om 'n flamink te skilder” toe die moeilikheidmakers daardie dag by hul huis opdaag.

My f**, Marelize . . .

Marelize Horn
Marelize Horn
"My f*k, Marelize!"

Lank laas het ons so gelag soos toe 'n video in Februarie aanlyn versprei is van die 19-jarige Namibiër Marelize Horn wat leer fietsry. 

Sy het 'n ganse oop rugby­veld om op te oefen, maar ry sowaar in 'n rugbypaal vas. En dan klink haar gefrustreerde ma se stem in die video op: “My f**, Marelize!” 

  • Foto's: Misha Jordaan, Corrie Hansen, Sharon Seretlo, Gallo Images/AFP, Gallo Images/ Beeld / Denzil Maregele, TWITTER/@DERICKHOUGAARD, Gallo Images/Netwerk24/Deaan Vivier, Gallo Images/Sowetan/Veli Nhlapo, GALLO IMAGES/BRENTON GEACH, Gallo Images/Netwerk24/Deaan Vivier, Gallo images/Phill Magakoe, Gallo Images/Sowetan/Thulani Mbele, Gallo Images / Netwerk24 / Felix Dlangamandla, Gallo Images / Nardus Engelbrecht, Gallo images/Beeld/ Cornel van Heerden, Facebook/Egoli film, Facebook/Carol Boyes
  • Bronne: SowetanLive, BBC, The Guardian, Facebook, News24, Ted.com, Sunday Times, Rapport, BBC, Washington Post, TimesLive, WHO-TV, Midi-Olympique, IOL, Sport24, Rugby World Cup, UCT, Golf Digest, Independent, Time, Country Magazine, Business Insider, News.com.au, SA Rugby Magazine, Daily Maverick, City Press, Fin24, Quartzy, Business of Fashion, EWN

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.