Die bruid het haar lot bekla op die raadgeeblad vir ouers Mumsnet onder die naam elcarmen. Sy trou volgende Saterdag, maar dis allermins wat haar senuwees gedaan het en haar geheel en al radeloos maak.

Die probleem, volgens die bruid, is dat haar dwarstrekkerige strooimeisie eensklaps besluit het dit is tyd vir vernuwing. En waar dan nou beter om af te skop as met ’n nuwe haarkleur?

Dit is op sigself nie ’n krisis nie. Maar die kleur wat sy gekies het, het die arme bruid na haar asem laat snak: ’n “aaklige pienk”, soos sy dit beskryf.

Nou kan die bruid nie besluit wat die beste uitweg sal wees nie: Moet sy die strooimeisie vra om weer die kleurbotteltjie nader te trek, maar dié keer om haar oorspronklike haarkleur terug te kry of moet sy haar bloot net keer om die troue by te woon.

“Om dit in konteks te plaas: Sy is ongelooflik selfgesentreerd en wil altyd al die aandag op haar gefokus hê. Ek dink sy het dit bloot gedoen om op (my) troufoto’s uit te staan.”

Meer as 700 reaksies het gevolg, en die oplossings wissel van venynig teenoor die “eersteklas-Bridezilla”-bruid tot skreeusnaaks ten koste van sowel haar as die strooimeisie.

MikeUniformMike is ’n konformis. “Kleur jou hare ook pienk om by hare te pas.”

henpeckedinchief het geen simpatie met die bruid nie. “Niemand sal haar hier ondersteun nie. En boonop klink die bruid na ’n aaklige feeks.”

'Niemand gaan haar hier ondersteun nie. En boonop klink die bruid na ’n aaklige feeks.' Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Ander bevraagteken die bruid se strooimeisiekeuse omdat dit lyk asof sy in ieder geval verwag het iets ongemakliks sou voorval.

Iemand wat meer begrip met die bruid het, is Winosaurus, wat glo koperrooi hare gehad het. Maar vir haar broer se troue het haar skoonsuster haar as hul strooimeisie ’n “warm pienk rok” laat dra.

Omdat sy geweet het watter onaardige prentjie haar haarkleur en die pienk rok sou skep, het sy haar hare blond gekleur en soveel daarvan gehou dat sy vyf jaar later steeds haar hare blond kleur.

Bullieseverywhere het iets soortgelyks beleef. Haar strooimeisie het ’n skokkende rooi gekies en dit het glo ten hemele met alles geskrei.

“My enigste foto’s van my troue wat ek uitgestal het, was swart-wit. Sy het wel ’n paar jaar gelede verskoning gevra dat sy haar soos ’n idioot gedra het.”

Soos gewoonlik is daar ’n paar humoristiese opmerkings ook.

“Pienk is ’n natuurlike kleur; flaminke lyk fantasties,” is HairDyedPink se oorwoë mening.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

“Kan julle nie almal jul hare poedelpienk kleur nie?” wil NewYearNewMe18 weet, terwyl Seasawride baie graag sélf die troue wil bywoon omdat die strooimeisie absoluut indrukwekkend klink.

TaleasodasTimee het die eenvoudigste oplossing ooit, maar die bruid sal dalk niks daarvan hou nie. “Vra die fotograaf om net swart-wit foto’s te neem . . .”