Danie, ’n ingenieurstoesighouer en kranige marathon-atleet van Carletonville in die Noordwes, het sowat vyf jaar gelede die nuus gehaal toe ’n 1,8 meter lange koevoet sy lyf deurboor en hy dié myn-ongeluk wonderbaarlik oorleef het. 

Danie, sy vrou, Lizl, hul drie kinders, Danie (9), Elandie (13) en Danelle (15), asook Lizl se suster, Bertha Robbertse, het op 21 Desember 2019 uit Carletonville vertrek. Hulle was baie opgewonde oor die wegbreek na die Wes-Kaap, vertel Danie. 

Die De Wet-gesin se seevakansie is deur 'n brand k
Die De Wet-gesin se seevakansie is deur 'n brand kortgeknip.

“Ons het die eerste nag op Colesberg oorgeslaap,” vertel hy oor die lang pad see toe. “Die volgende dag het ons tot in Kleinbrak gery. Ons het seker so halftwee die middag se kant daar aangekom. Ons het toe gou deur die stort gespring en is dorp toe om inkopies te gaan doen.”

Danie en sy gesin het opgewonde Mosselbaai toe gery en die kinders het op Diaz-strand vir die see gaan “hallo” sê, waarna hulle in Hartenbos ’n draai gemaak het voor hulle weer na hul gehuurde vakansiehuis is. 

Terug by die huis en met Kersfees om die draai, het Danie en Lizl vir die kinders gesê hulle mag solank een Kersgeskenk oopmaak. Die kinders is verras met ’n moderne Monopoly-bordspeletjie, kompleet met ’n kaartmasjien. 

“Die kinders het in die oopplan-kombuis gaan sit en die speletjie begin uitfigure. Ek het ’n vuurtjie in die ingeboude braai op die patio begin maak om te braai,” vertel Danie.

Toe hy by die huis instap om te hoor of die kinders met hul nuwe bordspeletjie regkom, het Lizl genoem sy ruik iets soos plastiek wat brand, maar Danie was seker die reuk kom van iewers anders af. 

“Toe ek terugstap en by die deur (van die stoep) kom, het iets net vir my gesê om te gaan stilstaan en besef iets klink snaaks in die dak. Vlamme het mos so 'n geluid wat dit maak . . . Op daardie oomblik het die krag skielik afgegaan. Ek draai toe om en sê vir Lizl ek dink die huis brand . . .”

’n Paar oomblikke later het rook by die huis begin inborrel. Hulle het almal opgespring, gegryp wat hulle kon en hul by die huis uit gehaas. 

“Daar was toe rook en vlamme. Dit het alles baie vinnig gebeur, want die huis is van hout.”

Bure aan die oorkant van die pad het uitgehardloop gekom om te probeer help. Danie en ’n buurman het teruggedraai om met ’n tuinslang en brandblusser die brand te probeer blus. 

“Ek het op die patio-tafel gespring om ’n gat in die plafon te maak en die brand te probeer blus, maar toe breek die tafel en ek trap toe reg deur die houtvloer. Ek het met die tuinslang by die dak probeer inspuit.

"Maar toe hoor ons mense skree ons moet uitkom, want een van die kamers begin brand.

“Dinge was baie deurmekaar,” onthou Danie, wat nog met die uitkomslag enigiets wat hy kon red, probeer gryp het. 

“Die brandweer was binne tien minute daar. Hulle was baie professioneel en het hulle ding gedoen. Hulle kon nog bietjie van ons klere red.”

Die brand is eindelik geblus en hoewel die grootste gedeelte van die houtstruktuur nog staande is, is omtrent die helfte van die huis in puin gelê.

Die oorblyfsels van die houthuis.
Die oorblyfsels van die houthuis.

Hulle het daardie nag by vriende in die omgewing oorgeslaap. “Hoewel ons omtrent niks geslaap het nie,” vertel Danie.

“Al die kinders se Kersgeskenke was daarmee heen, maar dit is aardse goed.”

Die volgende aand het hulle by ’n ander vriendin in Albertinia oorgeslaap, waarna hulle die volgende oggend weer die langpad moes aandurf, die keer terug Carletonville toe. 

“Ek het aanvanklik probeer rondbel om vir ons ander blyplek te kry, maar jy weet ’n mens se gemoed is dan ook nie meer so hoog nie. En dit was oral vol.”

Op pad terug het Danie met sy broer gereël om vir die drie kinders solank ’n paar Kersgeskenke te gaan koop.

“Sodat daar darem iets is as ons by die huis kom, sodat ons darem nog Oukersaand kon hou.”

Danie vertel hulle is wel oorval deur mense in Kleinbrak en Carletonville se goedhartigheid en ondersteuning. 

“In Carletonville het die gemeenskap ons ook bygestaan en geskenke aangedra. Maar Oukersaand was ons omtrent 20:00 in die bed, ons was flou.”

’n Paar dae later het vriende hulle genooi om by hulle in Ramsgate aan die KwaZulu-Natalse kus aan te sluit.

“Ek het geweet die kinders moes net bietjie wegkom. So, ons kon toe net bietjie rustig raak.”

Volgens Danie word die presiese oorsaak van die brand nog ondersoek. 

En net soos met die koevoet-ongeluk in 2015, het Danie sy gesin bemoedig en pak hulle 2020 met nuwe moed aan.

Danie beplan boonop om later vanjaar weer die Comrades-ultramarathon te hardloop. 

“Ek het vir hulle gesê ons gaan nie toelaat dat dit ons onder kry nie. En Kersfees het ek vir my vrou gesê die grootste Kersgeskenk is dat ons hele gesin bymekaar kan wees. Ons is sáám sterk.”


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.